Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Noord-Kaap se presteerders in landbou vereer

Francis Visagie van die Visagie-boerdery buite Kenhardt is Vrydagaand op ’n glansgeleentheid op die Vredenheim-wynlandgoed buite Stellenbosch deur die !Xhariep-tak van Landbouskrywers SA as die Noord-Kaap se Boer van die Jaar aangewys.

Willem van Aarde, hooflandboukundige van die Karsten-boerdery, is op dieselfde geleentheid as die Noord-Kaap se Landboukundige van die Jaar vereer, terwyl Dirk Louw van die boerdery Silver Moon Investments by Groblershoop as die Noord-Kaap se Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou bekroon is.

Die !Xhariep-tak van Landbouskrywers SA sluit die Wes-, Oos- en Noord-Kaap in. Die drie wenners sal saam met die ander provinsiale wenners meeding om die nasionale titels wat op 15 November op ’n deftige geleentheid in Pretoria bekend gemaak word.

Visagie boer saam met sy vrou, Nelicia, en sy seun, Schalk, in die Boesmanland, een van die droogste dele in die land. Hy het in 1972 saam met sy pa begin boer. Toe sy pa in 1980 oorlede is, het hy die boerdery oorgeneem. Hy het dadelik besef hy sal moet uitbrei deur grond te huur of te koop as hy suksesvol wou boer. Vandag is die grond waarop hy boer en die kleinveegetalle waarmee hy boer 1000% groter as die dag toe hy die boerdery oorgeneem het.

Visagie se boerdery is gediversifiseer en bestaan uit ’n kommersiële dorperkudde wat slaglammers produseer en ’n dorperstoetery wat ramme vir sy eie kommersiële kudde en ander kuddeboere teel. Daarbenewens het hy ’n embrio-spoelstasie op die plaas, waar embrio’s gespoel en na verskeie lande uitgevoer word. Hy boer ook met wild wat hy lewend verkoop of laat jag en soms vir die uitvoermark “geoes” word.

Van links is Willem van Aarde, hooflandboukundige van die Karsten-boerdery, wat as die Noord-Kaap se Landboukundige van die Jaar vereer is, Dirk Louw van die boerdery Silver Moon Investments by Groblershoop, wat as die Noord-Kaap se Nuwe Toetreder tot Kommersiële Landbou bekroon is, en Francis Visagie van die Visagie-boerdery by Kenhardt, wat as die Noord-Kaap se Boer van die Jaar aangewys is. Foto: Adele Engelbrecht

Van Aarde het hom oor die afgelope 16 jaar as een van die land se grootste tafeldruifprodusente bewys. Behalwe dat hy omsien na die verbouing en uitvoer van nagenoeg 5,3 miljoen bokse tafeldruiwe, ondersteun hy en sy span goeie navorsing op hul plase ten bate van die vrugtebedryf.

Hy span sy BScAgric-graad (grond-en-wingerdkunde) sowel as verskeie ander bedryfsverwante kursusse tot voordeel van die onderneming in.

Sy fokus is om ’n integrale deel van die produksiespan te wees eerder om as konsultant op te tree. Hy probeer altyd om wetenskaplike inligting in ’n bruikbare formaat aan die produksiebestuurders te verskaf om hul besluite makliker te maak sodat hulle doeltreffender en suksesvol kan wees.

Hy bly ook op die hoogte van die kultivars en boerderypraktyke in die tafeldruifbedryf, plaaslik en in die buiteland.

Louw se boerdery is ’n beslote korporasie wat hy as alleeneienaar bedryf. Hy boer tans op 69 ha, waarvan hy 21 ha huur. Die boerdery bestaan uit 30 ha droogdruifwingerd, 1 ha wyndruifwingerd, 24 ha pekanneutbome en 14 ha wisselbougewasse – waarvan 6 ha mielies en 8 ha lusern is. Hy hou ook dorpers en meatmasters aan.

Rosyne is die hoofvertakking van die boerdery. Hy het vanjaar ’n rekord-rosyntjieoes van meer as 200 ton behaal. Die meeste daarvan word na die Midde-Ooste uitgevoer. Die rosynbedryf het reeds kennis geneem van sy prestasies en hy is verlede jaar as Raisins SA se Opkomende Boer van die Jaar aangewys. Sy pekanneut-produksie was verlede seisoen sowat 1 t/ha. Vanjaar se verwagte opbrengs behoort sowat 1,5 t/ha te beloop.

Nadat Louw aanvanklik gesukkel het om werk te kry, het hy nege jaar as plaaswerker sy vaardighede en kennis uitgebou voordat sy droom om te boer ’n werklikheid geword het.

Hy beywer hom om mense uit armoede op te hef en hulle te bemagtig, daarom is hy betrokke in sy gemeenskap. Louw is onder meer die beheerliggaamvoorsitter van die Topline Primêre Skool en verteenwoordig opkomende boere by die Boegoeberg-waterverbruikersvereniging. Hy is ook lid van die transformasiekomitee van Raisins SA.

Louw was ook van die begin af betrokke by die ontwikkeling van die Hoërskool Groblershoop se groentetuin, en het ook ’n pekanneut-projek by die skool begin en bome daar gevestig. In 2013 het hy met die verkryging van ’n tender gehelp om 77 huise in sy gemeenskap van water te voorsien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.