Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nou moet afgeskeepte boere skielik regering help?
’n Droogtetoneel in die Vrystaat enkele jare gelede. Foto: Jana Smit

Dis baie arrogant van Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, om te pleit dat die landbousektor “met die regering moet saamwerk in nasionale belang” wanneer die ANC-regering eintlik niks vir boere doen nie.

Fanie Brink, ’n onafhanklike landbou-ekonoom van Bothaville in die Vrystaat, sê Gordhan se beroep op die kommersiële landbou kom “wanneer dit nodig is om die ANC aan bewind te probeer hou en nie in belang van die mense van die land nie”.

Gordhan het op Standard Bank se 11de jaarlikse konferensie oor landbousake in Afrika gepraat. Hoewel hy einde Maart as minister van finansies afgedank is, is hy nog ’n ANC-LP. Hy het in sy toespraak groot gewag gemaak van regeringsprojekte.

Brink sê die regering het tydens die laaste paar jaar se droogte geen verligting vir kommersiële boere gegee nie. “Die meeste van die hulp wat aan opkomende boere toegestaan was, het ook eenvoudig net verdwyn.”

Brink sê: “Gordhan is totaal belaglik om te dink dat daar ‘robuuste beleidsraamwerke’ is soos Operasie Phakisa wat groei en transformasie van die landbousektor bevorder, asook die regering se negepuntplan vir ekonomiese groei, wat [volgens Gordhan] reeds aansienlike potensiaal vir inklusiewe groei getoon het.”

Gordhan is totaal belaglik om te dink dat daar ‘robuuste beleids-raamwerke’ is...
Fanie Brink, ekonoom

Gordhan vra dat die sakesektor bewys dat hy ’n “maatskaplike vennoot in die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing is” terwyl die belasting wat die sakesektor en individuele belastingbetalers betaal, “vermors en gesteel” word, sê Brink.

“Die sakesektor, wat die georganiseerde landbou insluit, lewer reeds ’n groot bydrae om maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling te bevorder, terwyl dit in werklikheid die verantwoordelikheid van die regering is.”

Brink glo dat voedselsekerheid slegs op ’n volhoubare manier verseker sal kan word indien boere ’n wins maak.

“Dieselfde geld al die ander bedrywe in die verskillende sektore van die ekonomie. Dis die enigste manier hoe ekonomiese groei geskep kan word, soos wat jare lank oor die wêreld heen bewys is.

“Die tyd het aangebreek dat die sakesektor ’n slag sy rug reguit moet maak en opstaan deur vir die regering te sê dat hy baie eerder met die sakesektor moet saamwerk en ophou om die ekonomie en die land te vernietig.

“Die regering moet ook duidelik verstaan dat hy nie naastenby oor die kundigheid en vermoë beskik om die land te regeer of om ekonomiese groei te skep nie,” sê Brink.

“Hoekom wil die georganiseerde sakesektor nog langer ruggraatloos bly en nie kans sien om by die vermorsing van belastingbetalers se geld deur ongemagtigde uitgawes en korrupsie in te gryp nie, in belang van al die mense in die land?”

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Beleid  |  Landbou  |  Tesourie  |  Ceo Initiative  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.