Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nuwe Agri SA-baas: Van der Rheede gerat vir dié uitdagings
Christo van der Rheede, nuwe uitvoerende direkteur van Agri SA.

Hy sien uit na sy nuwe pos as uitvoerende direkteur van Agri SA, maar besef dit is ’n taak wat besaai is met ekonomiese, politieke en maatskaplike uitdagings.

Só sê die 56-jarige Christo van der Rheede wat die pos oorneem by Omri van Zyl wat aangestel is as die nuwe uitvoerende hoof van die nuutgestigte AgriSA Enterprises (Edms) Bpk.

Van der Rheede is ’n boorling van Goedverwacht in die Weskus-distriksmunisipaliteit se gebied.

“Ek is op Goedverwacht gebore, maar my ouers is van Elim se kontrei waar my oupa die eienaar was van die plaas Sondagskloof en my ouma die eienaar van grond op Tesselaarsdal.

“Sy was ’n afstammeling van Johannes Jacobus Tesselaar (1748-1810).”

Van der Rheede, wat die afgelope vyf jaar adjunk- uitvoerende hoof van Agri SA was, sê hy behoort in sy nuwe pos grotendeels op die ekonomiese, politieke en maatskaplike uitdagings te fokus.

“Die landbou-sektor het in dié verband die afgelope paar maande bewys gelewer van wat hy onder die moeilikste omstandighede kan vermag as hy vrye teuels gegee word en as daar wedersydse begrip, samewerking en respek tussen produsente en die staat bestaan.”

Die landbou-sektor het saam met die land se gesondheidsdienste ’n kritieke rol gespeel om ’n volskaalse gesondheidskrisis en hongersnood af te weer.

Die landbou-sektor het saam met die land se gesondheidsdienste ’n kritieke rol gespeel om ’n volskaalse gesondheidskrisis en hongersnood af te weer.

Van der Rheede was die afgelope vyf jaar die adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA en het ’n meestersgraad in openbare beleid en administrasie aan die Universiteit van Stellenbosch se Skool vir Openbare Leierskap verwerf.

Dié rubriekskywer van Netwerk24 en Beeld sê Agri SA, die landbousakekamer Agbiz, TLU SA, die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) en die Nasionale Afrika-Boerevereniging (Nafu) het die laaste paar maande met die pandemie ’n baie groot rol gespeel.

“Ons het saam in gesprek getree met die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (Thoko Didiza) en beding om landbou tot ’n noodsaaklike diens verklaar te kry,” sê Van der Rheede.

“Dink net wat ons saam kan vermag as ons ook die ander uitdagings op ’n grondslag van wedersydse respek, erkenning en met die fokus op oplossings hanteer.

Hy sê landbouleiers kan nooit ophou om met mekaar, die regering, ander rolspelers en denkers in gesprek te tree nie.

“Dit is nou meer as ooit nodig om die meerderheid Suid-Afrikaners te verenig en hulle aan te moedig om oor grense heen saam te span en oplossings te soek – van voetsoolvlak af tot in die parlement.

“Die meerderheid Suid-Afrikaners soek vrede, ekonomiese en maatskaplike bestendigheid, sowel as ’n beter toekoms vir hul nageslagte.

“Landbou kan in dié verband ’n groter bydrae lewer. Daarom moet ons voortbou op die suksesse wat ons die afgelope tyd behaal het,” meen Van der Rheede.

“Deur die kwessies te hanteer wat vooruitgang in die landbousektor ondermyn en te fokus op volhoubare oplossings wat volhoubare welvaartskepping kan teweegbring, kan ons die knoop deurhak om ’n toekoms te skep waarin meer geleenthede teweeggebring word en wat die landbousektor nog verder kan laat gedy.”

Hy sê landbouleiers kan nooit ophou om met mekaar, die regering, ander rolspelers en denkers in gesprek te tree nie. “Daarmee moet ons denkend bly, maar meer nog, pragmaties.

“Tamaties, uie, skape, beeste, vrugte en allerlei ander eksotiese produkte word nie op grond van lugkastele verbou nie, maar in terme van rand en sent, verbruikers se voorkeure en allerlei ander faktore. Dit behoort altyd die grondslag te wees waarop ons enige oplossing formuleer.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Omri Van Zyl  |  Christo Van Der Rheede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.