Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nuwe uitvoermarkte vir SA landbou-produkte

Die Suid-Afrikaanse regering is kliphard besig om nuwe uitvoermarkte vir landbouprodukte te skep en om bestaandes te versterk.

Veral China stel daarin belang om Suid-Afrika se landbouprodukte in te voer.

So het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gister op die derde Landbousake-transformasie-konferensie van Afasa (African Farmers Association of South Africa) gesê.

Dit word by die Imvelo Safari-konferensiesentrum buite Bloemfontein gehou.

Didiza sê die 54 000 lewende skape wat onlangs per skip van die Oos-Kaap na die Midde-Ooste versend is, is ’n voorbeeld van nuwe landboumarkte wat ontgin word.

Op die Afasa-kongres wat tans buite Bloemfontein plaasvind. Van links is Neo Mathibela, Afasa se nasionale voorsitter, Thoko Didiza, die nasionale minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, en dr. Vuyo Mahlati, Afasa se presidentFoto: Marietjie Gericke

“Daar sou aanvanklik 65 000 skape versend geword het, maar die res sou nie die lang reis oorleef het nie omdat hul kondisie nie goed genoeg was nie.”

Didiza sê die skip waarmee die skape vervoer is, is dieselfde een wat dwarsoor die wêreld hiervoor ingespan word. Die versending was nie die verantwoordelikheid van haar departement nie.

Haar departement werk ten nouste saam met die departement van handel en nywerheid om uitvoermarkte te versterk.

“Ons het ook met die pluimvee- en suikerbedryf gesprek gevoer om ’n meesterplan vir dié sektore op te stel omdat hulle uitdagings het wat strategiese herposisionering benodig.”

Didiza sê die landbou het ’n reuserol te vervul om Afrika se ekonomie te help groei en te versterk. As landbou ’n kritieke rol in ekonomiese groei en werkskepping moet speel, moet groter beleggings daarin gedoen word, sê sy.

“Afrika-ministers van landbou wat die omvattende landbou-ontwikkelingsprogram (CAADAP) steun, stel ’n 10%-belegging van nasionale begrotings in die landbou en vir landelike ontwikkeling voor,” sê sy.

Sy sê die Afrika-Ontwikkelingsbank moet ook ’n belangrike rol as katalisator speel om Afrika se welvaart deur middel van landbou en voedselproduksie te bevorder. Daar moet ook spesifiek op die jeug en vroue gefokus word.

“Ons het ’n doelbewuste poging nodig om die landbou-sektor te transformeer sodat nuwe rolspelers van historiese voorheen benadeelde gemeenskappe gehuisves kan word.”

Sy sê daar is ook ’n verantwoordelikheid om nuwe lewe te blaas in grond wat teruggegee is sodat landbouprodukte daarop verbou kan word.

Annette Steyn, DA-LP wat die saak van die Limpopo-boer David Rakgase help dryf het.Foto: Parlement

Didiza het ook vir David Rakgase, die Limpopo-boer wat 17 jaar lank gesukkel het om die grond wat hy van die staat gehuur het, te koop, om verskoning gevra.

“Ons het ook reeds ons aansoek by hooggeregshof in Pretoria om appèl teen die hofuitspraak aan te teken, teruggetrek omdat daar geen konsultasie hieroor met my was nie.”

Rakgase het sy plaas 30 jaar lank van die staat gehuur en uiteindelik haar departement hof toe gesleep in ’n poging om sy grond te koop.

Die hooggeregshof in Pretoria het op 4 September uitspraak ten gunste van Rakgase en sy seun Mofa gelewer

dat hulle die grond mag koop wat die staat in 2002 aan sy familie beloof het.

Annette Steyn, DA-LP, het Maandag ’n in ’n verklaring gesê die DA verwelkom die minister se aankondiging dat haar departement nie teen die uitspraak sal appelleer nie. Sy het Rakgase se saak help dryf.

Die plaas Nooitgedacht in Limpopo sal dus nou aan Rakgase verkoop word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.