Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nuwe markte kan Vrystaatse boere help

As nuwe Suid-Afrikaanse landboumarkte vir vrugte- en vleis in Asië en die Midde-Ooste geskep word, kan alle Vrystaatse boere, ook die Afasa-boere (African Farmers Association of South Africa) - hieruit voordeel trek, terwyl heelwat navorsing oor hennep “hemp” as uitvoerproduk nog gedoen sal moet word.

Prof. Johan WillemseFoto: Netwerk24

So reageer afgetrede prof. Johan Willemse, bekende landbou-ekonoom, voorheen van die Universiteit van die Vrystaat (UV), wat deesdae in Clarens in die Oos-Vrystaat bly, op landbou-minister Thoko Didiza, se toespraak vandeesweek in Bloemfontein op ’n driedaagse kongres met Afasa-boere.

Willemse, wat die landbou-toestande van die Vrystaat goed ken, sê die distriksgrond-ontwikkelings-model wat Didiza aan die Afasa-boere voorgehou het, waarvolgens plase vir grondhervorming geïdentifiseer sal word, is deel van die nasionale ontwikkelingsplan, waarmee hy nie fout kan vind nie.

“Hiervolgens word al die belanghebbendes in ’n distrik betrek om so ’n opkomende boer te help vestig en by te staan, want in die verlede weet ons as die boere op hul eie gelos is, het hulle ’n gemors daarvan gemaak. ”

Didiza het gesê verskillende vlakke van regering soos munisipaliteite, distriksmunisipaliteite en die provinsiale regering, kan bystand in sulke landbou-kerns (“hubs”) in distrikte bied. Dit staan nie in teenstelling met Agri-parke, wat die stelsel is waarbinne plaasboere ondersteun kan word oor meganisering, dienste vir graan en lewendehawe, verwerking van landbouprodukte ens. nie, “maar is eintlik dieselfde ding,” het sy gesê.

Didiza het Dinsdag op die Afasa-kongres by die Imvelo-Safari’s buite Bloemfontein, gesê die landboudepartement is ook besig om lisensiëring vir die verbouing van hennep (hemp) te bespoedig omdat die regulering van Cannabis op die oomblik deur die Vrystaatse gesondheidsdepartement gedoen word.

In dié stadium is dit onwettig om hennep sonder ’n permit van die gesondheidsdepartement te verbou. Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het tans drie landerye in Suid-Afrika waarop proewe en navorsing gedoen word om hennep se verbouing in die toekoms met regulering moontlik te maak.

Sisi Ntombela. Foto: Facebook

Sy het gesê hennep kan moontlik een van die nuwe landbouprodukte word wat verbou kan word. Ook dat China baie in Suid-Afrika se vleisproduksie belangstel en dat vleismarkte daarheen en na die Midde-Ooste uitgebrei word.

Willemse sê Suid-Afrika het ver agter geraak in die sluit van handelsbande met oorsese lande vir die uitvoer van sy landbouprodukte en dit is ’n goeie ding as die uitvoermarkte nou uitgebrei en nuwes geskep word.

“Australië het byvoorbeeld voorkeur-uitvoer-ooreenkomste met China en Asië vir vleisuitvoere aangegaan. Suid-Afrika voer klere en staal van China af in, maar sy landbouprodukte kry nie dieselfde aftrek as dié van Australië in China en in Asië nie en daarom is dit verblydend om te hoor dat nuwe ooreenkomste nou met daardie lande gesluit word.”

Hy sê dit is belangrik dat uitvoer protokolle soos siektebeheer en gesondheidsertifikate deur die Suid-Afrikaanse regering met nuwe uitvoermarkte in plek gekry word.

Willemse sê baie van Suid-Afrika en ook veral die Oos-Vrystaatse vrugte gaan Europa toe. “In die Oos-Vrystaat sal meer appels, kersies, aspersies ook vir die Asiatiese markte verbou kan word as die regering se handelsooreenkomste met daardie lande in plek is.

“Ek weet dat opkomende boere nou in Ficksburg met die aanplant van aspersies besig geraak het. In die westelike-besproeiingsgebied van die Vrystaat is pekanneut-verbouing weer gewild.”

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, het gesê sy en haar taakspan het ’n lang lys van staatsgrond geïdentifiseer wat vir swart opkomende boere van Afasa in die Vrystaat beskikbaar gestel sal kan word.

“Ons soek nie Zama-Zama-boere nie, maar regte boere,” het sy bygevoeg.

Ntombela het ook gesê dat die grond vinnig beskikbaar gestel sal word.

Nakana Masoka, die provinsiale voorsitter van die Afasa-boere, het by navraag gesê Vrystaatse Afasa-boere, is “grondhonger.”

“Die Vrystaat moet sy status as die broodmandjie van die land, terugkry.”

Meer oor:  Afasa-Boere  |  Nakana Masoka  |  Midde-Ooste  |  Vrystaats  |  Asië  |  Markte  |  Landbou  |  Vleis  |  Vrugte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.