Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
O gaats! Man bestel 1 hoender aanlyn – kry 1 000
’n Man van Nieu-Seeland wou een hoender aanlyn bestel, maar toe kry hy 1 000. Foto: Unsplash

Dis nie ongewoon om ’n item aanlyn te bestel en dit later te berou nie.

Om ’n hemp of ’n paar tekkies terug te stuur na ’n e-handelaar, is gewoonlik nie ’n probleem nie.

’n Man van Nieu-Seeland is egter met ’n heeltemal ander tameletjie gekonfronteer toe hy onlangs ’n fout met ’n aanlyn bestelling gemaak het.

Steve Morrow van Hamilton in Nieu-Seeland wou graag sy bestaande hoenderboerdery met nog ’n paar hoenders uitbrei.

Hy bedryf ’n gastehuis en die henne lewer eiers vir ontbyt.

Morrow het op Trademe.co.nz na hoenders gaan soek. Trademe is Nieu-Seeland se grootste aanlyn platform vir veilings, en allerhande goedere word daarop gesmous.

Daar sien hy toe “dringende” advertensie van ’n hoenderboer van Auckland wat “teen Maandag” van al sy hoenders ontslae moet raak want sy hoenderplaas maak toe.

Morrow, duidelik nie iemand wat die fynskrif van ’n aanlyn advertensie lees nie, besluit toe dis ’n gulde geleentheid om nog so een of twee hoendertjies teen ’n baie goeie prys aan te skaf.

Morrow het aan Insider verduidelik hy was daarvan oortuig hy kan ’n bod insit vir die hoenders en dan so min of so baie hoenders kies as wat hy wil.

Hy bie toe $NZ10,50 (sowat R99) en gaan aan met sy dag.

’n Paar dae later kom die skoknuus: Sy aanbod is aanvaar – en boonop teen ’n heelwat laer prys as wat hy aangebied het. Matthew Blomfield, die eienaar van die hoenderplaas, kontak Morrow toe en vra wat sy planne met die 1 000 hoenders is.

Morrow, totaal oorbluf, besef toe hy het nie een of twee hoenders gekoop nie, maar ’n hele 1 000.

“Waar gaan ek blyplek kry vir 1 000 lêhoenders?” het hy desperaat op ’n plaaslike Facebook-groep gevra.

Hy verduidelik toe hy het ’n bod ingesit vir een hoender, maar toe “wen” hy 1 000.

Gelukkig het die groeplede gou ingespring en kort voor lank het ’n paar dierebeskermingsorganisasies ingestem om van die hoenders te neem. Hulle sal ook help om blyplek vir die oorblywende hoenders te vind.

Volgens Morrow wou hy ten alle koste ’n “slagting” vermy en wou hy juis nie hê dat enige van die hoenders iewers in ’n kospot beland nie.

Meer oor:  Hoenders  |  Boerdery  |  Hoenderbedryf  |  Veiling  |  Aanlyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.