Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Omdraaistrategie vorder

Dit is vir enige onderneming van kardinale belang om winsgewend te wees en droogtes en pryse hou die grootste bedreiging vir landbou-ondernemings in.

Die uitmergelende droogte van die afgelope drie jaar mag dalk in baie dele van die Wes-Kaap nou iets van die verlede wees, maar daar is tog steeds gebiede wat nog baie sleg lyk – plekke waar die droogte nog glad nie verby is nie.

Die landkunsprojek ter viering van die Universiteit Stellenbosch se bydrae tot die landboubedryf oor die jare op die plaas Boontjieskraal buite Caledon. Die projek, “Die Aarde”, bestaan uit twee reusesirkels van koring en kanola. Foto: Richard Krige

Ruvoer vir vee bly ’n probleem en ons bly hoopvol en glo dat die situasie binnekort sal verbeter. Daar is dele van ons saaigebiede wat nie genoeg reën vir normale opbrengste gekry het nie.

Al kry hierdie gebiede bogemiddelde reënval teen die einde van die seisoen, sal die produsente steeds ondergemiddelde oeste realiseer.

Dít benadruk net weer die behoefte aan navorsing en tegnologie wat gemik is op maniere waarop produsente klimaatsverandering en die gepaardgaande uitdagings kan oorkom.

Water bly egter die lewensaar vir die landboubedryf en daarsonder sal ons nie kan boer nie.

100 jaar gevier

Die Universiteit Stellenbosch en sy fakulteit agriwetenskappe is vanjaar 100 jaar oud. Ons vier die reusewerk wat dié fakulteit vir graanprodusente gedoen het en die leidende rol wat dit saam met ander rolspelers soos die Wes-Kaapse landboudepartement gaan speel om die toekoms van landbou in die Wes-Kaap te verseker.

Die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) het vroeër sy jongste vooruitskouing vir 2018-2027 op twee geleenthede in onderskeidelik Pretoria en Kaapstad bekend gemaak.

Gaan lees gerus hoe die produksie en pryse van die verskeie kommoditeite na verwagting plaaslik en internasionaal in dié tydperk gaan vaar.

Onteiening op almal se lippe

Daar is seker nie baie mense wat nie die laaste tyd in ’n gesprek oor onteiening sonder vergoeding betrokke was nie.

Ons hou almal die verwikkelinge dop. Hopelik kan daar meer duidelikheid kom en ’n werkbare en aanvaarbare oplossing vir almal op die tafel wees.

Ek twyfel dat grondonteiening nie op een of ander wyse ’n impak op elke landbouer se denke op die oomblik het nie.

Die stabiliteit van ons ekonomie en die landboubedryf hang aan ’n spreekwoordelike draadjie as ons nie meer duidelikheid, sowel as ’n werkbare oplossing hiervoor kry nie.

Gaan lees gerus hoe die produksie en pryse van die verskeie kommoditeite na verwagting plaaslik en internasionaal in dié tydperk gaan vaar.

Die verteenwoordigers van georganiseerde landbou in Suid-Afrika is druk besig om met al die rolspelers te vergader ten einde ’n oplossing en uitkomste te verseker.

Dié organisasies het nou meer as ooit ons ondersteuning nodig.

Teen die tyd dat ek hierdie rubriek geskryf het, was daar reeds goeie vordering gemaak.

Blik op koring

Die omdraaistrategie vir die koringbedryf vorder en tel momentum op. Hopelik sal van die wysigings waaraan gewerk word om die bedryf weer ’n regmatige staanplek in die Wes-Kaap én die land te gee begin om na die produsente deur te sypel.

Ongelukkig is van die fokusareas meer lang termyn van aard en gaan dit nie onmiddellike verligting vir produsente bring wat onder finansiële druk verkeer nie.

Die hooffokusareas is winsgewendheid, opbrengs, gradering en navorsing.

Vir die laaste vyf jaar groei die opbrengste in Australië met gemiddeld 6%, terwyl Suid-Afrika se koringopbrengste maar met ’n skamele 2% groei.

Hopelik sal die omdraaistrategie wat deur Graan SA en ander rolspelers in die bedryf ingestel word nuwe en beter genetiese materiaal vanaf die telers sien kom.

Die werklikheid is dat produsente se opbrengste sal moet verhoog sodat die winsmarges weer herwin en winsgewendheid verseker kan word.

Wat die invoertarief betref – wat beskerming bied teen goedkoper ingevoerde koring – is daar ook wysigings voorgestel wat deur die hele bedryf ondersteun word.

Dit bly problematies om die nuwe koringtarief bekend te maak nadat dit al ’n paar weke gelede “gesneller” het.

Hopelik sal die voorgestelde wysigings verdere ondersteuning aan die likwiditeit en funksionering van die mark verleen. Die nuwe stelsel moet die nodigheid uitsluit dat die regering die nuwe tarief afkondig, sodat daar op enige tydstip sekerheid oor die formule en die tarief is.

’n Vry-aan-boord-prys (FOB) word voorgestel met die huidige tarief as grondslag.

Dit is juis ook net ’n klein klippie wat groot rimpels op die oppervlak van ’n poel water kan veroorsaak as jy dit daarin gooi.

BFAP bereken dat dié stap alleenlik vir ’n bykomende 10 000 ha koring in die huidige seisoen sou gesorg het.

Ek weet ons praat al lank oor sekere wysigings en dat konsensus in die bedryf nie noodwendig bereik kon word nie.

Die goeie nuus is dat dit blyk dat die struweling tussen rolspelers nou einde se kant toe begin staan en dat die bedryf die erns van produsente se lot begin aanvaar.

Dít sluit die koringbedryf in wat bly kwyn as gevolg van die gebrek aan winsgewendheid. Kom ons hoop dat almal hierdie nuwe siening deel en dat ons die koringbedryf kan omdraai.

Laaste sê

Lente is om die draai en ons sien ook in hierdie tyd vreeslik uit na die eerste Nampo Kaap op Bredasdorp.

Hopelik kry ons die geleentheid om almal van julle daar te ontvang en te ontmoet. Kom geniet dit saam met ons en ervaar alles wat op die landbouskou aangebied gaan word.

Ons almal ken die verhaal van Dawid en Goliat waaroor in Samuel 1:17 geskryf word. Dit kom daarop neer dat met ’n klein klip en ’n sterk geloof enigiets kan gebeur.

Dit is juis ook net ’n klein klippie wat groot rimpels op die oppervlak van ’n poel water kan veroorsaak as jy dit daarin gooi.

Behou dus jul geloof en maak ’n verskil waar ook al jy in die wêreld is.

  • Richard Krige is ’n streekbestuurder van Graan SA en boer in die Caledon-streek.
Meer oor:  Wes-Kaap  |  Landbou  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.