Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Ondanks Cyril sal ekonomie nie oornag herstel
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Jaco Marais

Pres. Cyril Ramaphosa se verkiesing tot staatshoof skep hernieude optimisme in die Suid-Afrikaanse sakesektor – maar ekonomiese herstel sal nie oornag kom nie.

Só sê Miles Dally, uitvoerende hoof van RCL Foods, een van die land se grootste gediversifiseerde voedselmaatskappye. Hy verwag geen merkbare ommekeer vir minstens ses maande nie.

“Die verandering stuur al die regte seine vir die sakesektor en die kredietgraderingsagentskappe, maar die beleidsaanpassing en vervanging van onbevoegde amptenare sal ’n tyd neem om deur te werk.”

Die gediversifiseerde voedselgroep, met handelsname soos Rainbow Chicken, Selati-suiker en Bobtail-hondekos in sy stal, se wesensverdienste per aandeel het met 56,9% tot R644,7 miljoen gestyg in die ses maande tot einde Desember.

Die maatskappy het sy tussentydse dividend met 50% tot 15c opgeskuif, terwyl wins ná belasting tot R610 miljoen opgeskiet het teenoor R268 miljoen in die vorige ooreenstemmende tydperk.

Dié ommeswaai is volgens Dally veral te danke aan die ommekeer van RCL se hoenderafdeling, wat in Januarie verlede jaar moes herstruktureer en werkgeleenthede besnoei om winsgewend te bly.

“Die nuwe sakemodel tesame met laer insetkoste veral danksy die daling in voerkoste het die verlies van R37,8 miljoen in die vorige ooreenstemmende tydperk tot ’n wins van R290,1 miljoen omgekeer.”

Kwessies soos goedkoop ingevoerde hoender bly kommerwekkend, sê Dally.

Miles Dally, uitvoerende hoof van RCL Foods

“Die volume ingevoerde hoender het nie gedaal nie. Al wat gebeur het, is dat Brasilië nou die grootste invoerder geword het toe die Europese Unie (EU) deur voëlgriep getref is.”

Brasiliaanse bevrore hoenderstukke kom egter nie die land tariefvry binne nie soos die geval met die EU is, wat ’n vryehandelsooreenkoms met Suid-Afrika het. Dit help die plaaslike produsente om ’n raps mededingender te wees.

Dally waarsku egter die sterker rand maak die plaaslike mark weer winsgewender vir invoerders en plaaslike produsente sal steeds ’n opdraande stryd voer.

RCL Foods het plaaslik onder voëlgriep deurgeloop en volgens Dally het dit ’n uitwerking van R60 miljoen op sy hoenderafdeling se winsgewendheid gehad.

“Ons sal moet aanvaar dat voëlgriep gekom het om te bly in Suid-Afrika en die plaaslike hoenderbedryf sal waarskynlik elke winter hiermee stoei.”

Die maatskappy het die afgelope aantal jaar sy fokus al hoe meer van landbouprodukte soos hoender en suiker na kruideniersware verskuif, en hoewel verkope effens laer is, is wins beter as voorheen.

Handelsname soos Nola-mayonnaise en Yum Yum-grondboontjiebotter is sterk presteerders in ’n mededingende mark, terwyl die luukse hondekos Canine Cuisine sy markaandeel met 78% opgestoot het.

Dally verwag die 1%-styging in BTW sal wel ’n uitwerking op verbruikers se bestedingsvermoë hê, maar die volle omvang sal eers oor ses maande begin duidelik word.

Meer oor:  Rcl Foods  |  Jacob Zuma  |  Cyril Ramaphosa  |  Hoenderbedryf  |  Landbou  |  Ekonomie  |  Invoertariewe  |  Kredietgradeerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.