Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Onteiening ‘knou hele landbou-sektor’

Boere en mense met landbou-ondernemings was twee jaar laas – toe die grootste deel van die land in ’n droogte gewikkel was – so pessimisties oor die landbou soos nou.

Wandile Sihlobo, hoofnavorser van Agbiz.

Agbiz en die Nywerheid-Ontwikkelingskorporasie se indeks van landbouvertroue het in die derde kwartaal met 6 punte tot 48 gedaal. Enige punt onder 50 punte dui op ’n siening dat saketoestande in die sektor aan die verswak is.

“In die verlede het ’n agteruitgang in vertroue tipies saamgeval met ongunstige weerstoestande; dié keer is dinge egter anders. Landboutoestande is landwyd gunstig en die wortel van pessimisme is dus die sluimerende beleidsonsekerheid en swak ekonomiese groei,” sê Wandile Sihlobo, navorsingshoof van Agbiz.

“Na ons mening bly die gebrek aan duidelikheid oor die voorstel vir grondhervorming, vernaam onteiening sonder vergoeding, ’n kernrisiko wat potensieel investering en die langtermyn-groeivooruitsigte van die sektor kan ondermyn.

Hoewel boere en landbou-ondernemings nog nie begin disinvesteer nie, brei hulle ook nie op die oomblik uit nie weens onsekerheid oor grondhervorming.

“Nietemin het ons nog nie enige getuienis gesien wat op disinvestering dui nie. Boere en landbou-ondernemings neem die houding in dat hulle eers wil kyk wat gebeur.”

Die peiling is in Augustus gehou en vra rolspelers uit oor hul verwagte besteding, inkomste, indiensneming en ander aspekte op kort tot mediumtermyn.

Subindekse

Vyf uit die tien subindekse wat Agbiz meet, het verswak. Dit is omset, indiensneming, kapitaalinvestering, uitvoervolume en ekonomiese groei.

Die vyf subindekse wat effens verbeter het, was netto bedryfsinkomste, markaandeel, landboutoestande, voorsiening vir swak skuld en vir finansieringskoste.

  • Die subindeks vir kapitaalinvestering – dus planne vir die aankoop van onder meer grond, masjinerie en fabrieke – het met 14 punte tot die neutrale punt van 50 geval. Dis die laagste punt sedert die vierde kwartaal van 2017. Respondente hamer op die onsekerheid wat die ANC-resolusie oor grondonteiening sonder vergoeding skep en wat kapitaalinvestering ontmoedig.
  • Vertroue oor hoeveel produkte hulle gaan uitvoer, was nog ’n indeks wat kommer wek. Dit het tot net 35 punte gedaal en is nou die laagste in vyf jaar. Volgens Agbiz is dit weens ’n daling in die volume vrugteprodukte, insluitend wyn, en vleis wat uitgevoer word, veral volstruisvleis. Die daling in vrugte-uitvoer kan toegeskryf word aan die jare lange Wes- en Oos-Kaapse droogte; die uitvoer van volstruisvleis het gedaal nadat die Europese Unie in September verlede jaar ’n verbod ingestel het op die uitvoer van vars volstruisvleis weens die voëlgriepepidemie in Suid-Afrika. Die verbod is nog nie opgehef nie.
  • Die subindeks oor ekonomiese toestande het met 35 punte tot net 15 punte geval. Dít nadat dit in die eerste kwartaal te midde van die sogenaamde Ramaforie 68 punte gehaal het – die hoogste in sewe jaar. Die peiling is gedoen voor die nuus dat Suid-Afrika in die tweede kwartaal in ’n resessie beland het wat verlede week bekend gemaak is, en Sihlobo vrees dat dit oor die volgende kwartale die indeks verder kan laat daal.
  • Die subindeks oor algemene landboutoestande het met 8 punte tot die neutrale vlak van 50 verbeter, wat toegeskryf word aan die goeie reënval in die Wes-Kaap. Die verwagting van ’n El Niño-weerpatroon en die droë, warm weer wat dit kan bring, kan oor die volgende kwartale dié subindeks afrem, sê Sihlobo.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.