Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Onteiening oorskadu ‘goeie werk agter skerms’

Die meesterplan vir die landbou is besig om agter die skerms van die grond af te kom.

Dis belangrik dat die parlement wetgewing oor grondhervorming finaliseer vir broodnodige sekerheid daaroor, reken Agbiz. Foto: Alet van der Walt

Dis ’n proses waarin daar goeie samewerking is tussen die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, landbou-ondernemings en verskeie maatskaplike vennote. Daar is egter ’n risiko dat die goeie vordering met die plan in die wiele gery sal word deur die omstredenheid oor grondonteiening sonder vergoeding, reken die landbou-sakeliggaam Agbiz.

Die meesterplan vir landbou en landbouvervaardiging én die ontwikkeling van ’n plan vir gemengde finansiering vir die landbou is albei daarop gemik om die landbou te help groei, veral in die lig daarvan dat landbou potensieel ’n goeie werkskepper kan wees.

Ongelukkig staan dit in die skadu van debatte en gesprekke oor die konsepwetsontwerp oor die onteiening van grond, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz.

“Albei die inisiatiewe behoort oor die volgende paar maande van die grond af te wees. Gemengde finansiering vir landbou het reeds ’n hupstoot gekry met die bekendstelling van die landbounywerheidsfonds, ’n hulpfonds van R1 miljard wat in samewerking met die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vroeër vanjaar bekend gestel is.”

LEES OOK: Onteiening: Als wat jy van konsepwet moet weet

Die sukses van die landbouprogramme maak baie staat op vennootskappe en samewerking tussen die private en openbare sektor en maatskaplike vennote.

“Dis konstruktiewe programme met die potensiaal om groei en transformasie in die landbousektor aan te moedig en daarom span ons baie van ons tyd en hulpbronne in om die doelwitte te bereik.

“Ongelukkig gebeur baie van dié goeie werk agter die skerms terwyl ander belangrike ontwikkelinge oor ander beleide nie net die programme se vordering vertraag nie, maar ook die maatskaplike vennote en die media se aandag daarvan aflei.”

Agbiz steun grondhervorming en die konsepwetsontwerp in sy breë, maar is bekommerd oor die voorstel dat onteiening sonder vergoeding kan plaasvind.

“Ons ondersteun die behoefte aan wetgewing wat grondonteiening reguleer ten volle, maar stem nie saam met die voorsiening van nulvergoeding nie en is bekommerd oor wat die impak daarvan op Suid-Afrika se welvaart kan wees indien dit ingestel word.

“Gesprekke oor die potensiële verandering van art. 25 van die Grondwet strek verder as net die landbousektor, met verskeie belanghebbendes wat ook ingespan word om aan die nasionale debat deel te neem soos dit deur die parlement gelei word.

“Tog kan die uitkomste hiervan wel ’n direkte impak hê op die sukses van landbouprogramme. Dis daarom regtig belangrik dat die parlement se besluite oor art. 25 die groter prentjie daarvan op onder meer die landbousektor in die oog hou.”

Die departement van openbare werke het verlede week openbare sittings gehou oor die konsepwetsontwerp oor onteiening, terwyl die komitee wat moet kyk na art. 25 ook voortgaan met sy openbare sittings.

“Ons word elke dag gebombardeer met nuusopskrifte van korrupsie en die oneffektiwiteit van plaaslike regerings wat veronderstel is om swart boere te ondersteun, maar dit nie doen nie. Dís hoekom ons van mening is dat private-openbare vennootskappe ’n aangewese benadering tot grondhervorming is.

“Sou die samewerking volgehou kan word, het ons die vooruitsig van positiewe resultate wat landbouproduksie se groei betref, wat natuurlik ook werkskepping in dié sektor tot gevolg sal hê,” sê hy.

Volgens hom is daar ’n geskatte 2 miljoen hektaar grond beskikbaar wat die regering al onder begunstigdes kan versprei en verdeel, maar dit het nog nie gebeur nie.

Sihlobo sê dis belangrik dat die parlement wetgewing finaliseer vir broodnodige sekerheid daaroor.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.