Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Onteiening: Dit gaan oor stadsgrond, nie plaasgrond

Grondonteiening sonder vergoeding gaan eerder oor stadsgrond as plaasgrond, sê die politieke ontleder Max du Preez.

Max du Preez

Hy het vandeesweek op ’n VinPro-konferensie in Kaapstad gesê die Universiteit van Wes-Kaapland se instituut vir armoede, grond en landboustudies het in ’n peiling bevind bitter min swart mense “wil die risiko van kommersiële boerdery op hulle neem”.

“Daar is nie miljoene nie, maar dalk tienduisende aspirant-landbouers. Miljoene mense wat toegang tot grond gehad het in kommunale gebiede, het sedert 1994 na stede gestroom.

“Mense wil nie boer nie, en diegene wat toegang tot grond gehad het, het dit prysgegee, so waaroor gaan die ophef?

“Die grondkwessie is nie ’n boerdery- of landboukwessie nie, dit gaan oor die geskiedenis, oor simboliek, oor regstelling en geregtigheid, en vir sommige is dit ’n straf vir wit mense weens die dade van die verlede.

“Ek glo dit is ’n aanduiding van die frustrasie omdat swart mense se lewens 25 jaar nadat ons ’n demokrasie geword het, nie werklik verander het nie. Maar nog belangriker, gaan dit fundamenteel oor stedelike grond eerder as landbougrond.”

Hy sê plaasinvalle is uiters skaars in Suid-Afrika, maar in die stede is daar weekliks dosyne invalle op grond.

Ondanks die feit dat Suid-Afrika een van die grootste verstedelikte lande in Afrika is, met meer as twee derdes van Suid-Afrikaners wat in stede leef, het die “regering nog nooit ’n plan gehad en het dit steeds nie om die reuse-verstedeliking te hanteer nie”.

Reuse-plakkerskampe het ontstaan, en dié mense moet ordentlike behuising kry.

Die grondkwessie is nie ’n boerdery- of landboukwessie nie, dit gaan oor die geskiedenis, oor simboliek, oor regstelling en geregtigheid, en vir sommige is dit ’n straf vir wit mense weens die dade van die verlede.
Max du Preez

“Dit moet duidelik wees dat daar nooit arbitrêre beslagneming van eiendom gaan wees nie en dat dit

hoogs onwaarskynlik is dat ’n funksionerende kommersiële plaas ooit gekonfiskeer gaan word.”

Die probleme met grond hou verband met onbevoegdheid van die staat, gebrekkige vermoë en korrupsie, soos geïdentifiseer in die hoëvlakondersoek van oudpres. Kgalema Motlanthe in 2017.

“Grond sal op radikale wyse van hande moet verwissel in die stede, want mense het grond nodig.”

Die regering het staatsgrond geïdentifiseer wat al verlede jaar opgedeel moes word om aan mense te gee, maar dit het nog nie begin nie.

“Die groot probleem met grondonteiening is nie dat produktiewe grond gekonfiskeer gaan word nie. Die groot gevaar is die reaksie van die armes en populiste en radikales as hulle besef grondonteiening gaan nie op groot skaal plaasvind nie.”

Die groot gevaar is die reaksie van die armes en populiste en radikales as hulle besef grondonteiening gaan nie op groot skaal plaasvind nie.
Max du Preez

Du Preez meen die regering sal ná die verkiesing “iets simbolies moet doen om dié stemme stil te maak wanneer mense vra waar is ons grond”.

Grondonteiening sonder vergoeding is ’n “landmyn” wat vir pres. Cyril Ramaphosa geplant is op die ANC se nasionale konferensie in 2017.

Die mosie is op die laaste nag van die konferensie voorgestel.

Du Preez sê hy is die volgende dag ingelig die Ramaphosa-kamp het nie ’n keuse gehad nie omdat die konferensie ineen sou stort en sou verdag met Zuma nog in beheer as hulle nie bes gegee het nie.

“Hulle het besluit om te leef met dié ongemaklike besluit om te keer dat Zuma president bly.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.