Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Oorskot ’n kopseer vir SA wynbedryf

Suid-Afrika se wynkelders was nog nooit so vol nie en met die nuwe oes op hande moet wynmakers plan maak met die oormaat wyn.

Johan van Zyl, die drankmaatskappy Distell se direkteur van voorraadkettingbestuur, sê in gewone omstandighede dra die bedryf 200 miljoen tot 350 miljoen liter se voorraad, maar weens die huidige drankverbod is daar nou sowat 650 miljoen liter in voorraad.

“Dit is die hoogste vlakke nóg in die bedryf en dit is weens die eerste inperking aan die stertkant van die vorige jaar se oes.”

Boonop verwag Distell se wingerdboukundiges vanjaar ’n buitengewoon goeie oes wat sowat 1,05 miljard liter sal lewer.

As jy nie weet of dit vier weke of ses maande is nie, is dit ’n massiewe verskil.

“Ons vermoed as die inperking langer as 15 Februarie strek ons ’n wesenlike gebrek aan stoorplek sal hê. Die hoeveelheid waarvoor daar nie plek sou wees nie is 200 miljoen tot 250 miljoen liter.

“Dit maak nie saak hoe jy daarna kyk nie, die produsente en die bedryf is onder geweldige druk. Nou is ons weer in die parsseisoen en hulle kan nie kontant inkry nie. As ons einde Januarie sou kon oopmaak, sou ons net-net deurkom. As dit 15 Februarie oopmaak, raak dit ’n krisis en enigiets daarna is ’n ramp.”

Hy sê die heel laaste uitweg sal wees om die oortollige wyn weg te gooi.

Die bedryf oorweeg tans vier alternatiewe. Die eerste is om sowat 120 miljoen liter druiwesap uit die parsproses dadelik tot konsentraat te verwerk.

Die tweede is om die oormaat wyn te distilleer, en die derde is om dit teen lae pryse uit te voer. Al drie opsies se opbrengs sal waarskynlik net 50% tot 60% van die normale wees.

Die laaste opsie is om die druiwe nie te oes nie. Dit het egter ’n wesenlike impak op kontrakwerkers.

Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê as die verbod nie op 15 Februarie opgehef word nie sal daar bottelnekke by kelders wees.

Boyce Lloyd, uitvoerende hoof van KWV, sê die jongste drankverbod wat onverwags en onbepaald verleng is, “is soos iemand wat jou kop onder die water druk en jou nie waarsku hoe lank hy dit gaan doen nie.

“As jy nie weet of dit vier weke of ses maande is nie, is dit ’n massiewe verskil. Dit is die onsekerheid wat dit onhoudbaar maak.”

Pieter Verwey, bedryfshoof van Namaqua Wyne van Vredendal, sê hulle kan wel hul lede se ingeskrewe tonnemaat inneem. “Ons is orraait met plek. Ons is van die min kelders wat so gelukkig is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.