Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Oortollige wyn ‘kan sluikhandel laat toeneem’

Kommer heers oor miljoene liter se oortollige wynvoorraad waarmee die bedryf sit en die gevaar dat dit sluikhandel kan laat toeneem.

Werkers staan by wyndruiwe wat pas gepluk is. Foto: Jaco Marais

Andricus van der Westhuizen, die DA in die Wes-Kaap se provinsiale woordvoerder oor landbou, het Donderdag gesê dié ophoping van voorraad is ’n “regstreekse gevolg van ’n onwetenskaplike voortsetting van die verbod op drankverkope”.

“Terwyl ons dit verwelkom dat drankverkope weer toegelaat word, moet die uitwerking (van die verbod) steeds in ag geneem word.”

Die wynbedryfsliggaam Vinpro het aan die einde van Januarie bekend gemaak dat die wynbedryf aan die begin van die 2021-oes met 640 miljoen liter se voorraad sit, waarvan 250 miljoen tot 300 miljoen liter ongekontrakteer is.

Vinpro sê dit bied ’n wesenlik risiko van onvoldoende vermoë om die nuwe oes te verwerk en berg, en bedreig die volhoubaarheid van die wynbedryf, veral onder kleiner produsente.

Van der Westhuizen sê dit is ook kommerwekkend omdat dit die “smokkelhandel kan vererger”.

Terwyl ons dit verwelkom dat drankverkope weer toegelaat word, moet die uitwerking (van die verbod) steeds in ag geneem word.

As voorsitter van die staande komitee oor landbou in die Wes-Kaapse wetgewer gaan hy Vinpro, Agri Wes-Kaap en Wines of South Africa (WoSA) nooi om voorleggings te doen oor die omvang van die uitwerking van die verbod op drankverkope, hul interaksie met die regering en voorstelle hoe om die oortollige voorraad te bestuur.

Hoewel die verslapping van die verbod op drankverkope ’n stap in die regte rigting is om ondernemings en poste te red, sal die bedryf nog lank die gevolge dra van die kere toe drankverkope verbied is, volgens Van der Westhuizen.

Andricus van der Westhuizen, DA-woordvoerder oor landbou in die Wes-Kaap. Foto: EikestadNuus

Die eerste twee keer het tot verliese van R7,5 miljard en die sluiting van 80 wynkelders en 350 produsente gelei, met werkverliese van minstens 18 000, luidens die verklaring.

Vinpro het verlede maand gesê wynmakers is optimisties oor vanjaar se oes ná gunstige weerstoestande, maar kelders se kapasiteit en finansiële lewensvatbaarheid bly ’n groot bron van kommer.

’n Groter oes as in 2020 word verwag, maar steeds onder die 15-jaar-gemiddeld van 1,37 miljoen ton.

Rypskade langs die Oranjerivier en koue, reënerige toestande aan die Kaapse suidkus sal na verwagting ook oeste in dié gebiede raak.

Kouer temperature en bogemiddelde reënval wat tot in die lente geduur het, het tot ’n ietwat later maar goeie bloeityd bygedra.

Die oestyd het ook twee weke later as gewoonweg begin, wat kelders moontlik kan help om plek vir die nuwe oes te maak, volgens Vinpro.

Meer oor:  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Vinpro  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.