Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Oorvloed slaptjips uit Europa kan SA boere knak

Die deur wat nou vir Europese lande oopstaan om gevriesde aartappelprodukte soos slaptjips in Suid-Afrika te stort, het die plaaslike aartappelbedryf op hete kole.

aartappelskyfies
Jy kan dalk binnekort slaptjips uit België op jou bord kry. Foto: Unsplash

Suid-Afrika is al lank ’n gewilde teiken van veral Nederland en België, wat gevriesde aartappelskyfies en ander aartappelprodukte in groot hoeveelhede hierheen stuur.

Die stryd van die plaaslike aartappelbedryf om dié storting te beveg, het ’n knou gekry toe teenstortingstariewe wat vroeër ingestel is, verstryk het en nie betyds hernu kon word nie.

Hierdie teenstortingstariewe sou reeds in Augustus 2019 verstryk het, maar McCain Foods het op 7 Februarie 2019 ’n aansoek om dit te verleng aan die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) gestuur, berig Moneyweb.

Itac, wat ’n belangrike rol in die instel van invoertariewe speel, het 18 maande gehad om die aansoek te oorweeg.

Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika (ASA), sê ASA as produsenteorganisasie vra nou ondersteuning en hulp teen die komende vloed van aartappels uit Europa.

Hy waarsku groot volumes goedkoop, gevriesde aartappelskyfies vanuit Nederland en België gaan binnekort in die land se hawens aankom.

“Die stryd wat ons voer teen oorsese produkte wat hier gestort word, het ’n lang geskiedenis en die onlangse beskerming wat ons gehad het, is nou nie meer daar nie.”

Hy sê die storting van Europese aartappels kan die plaaslike aartappelboere en vervaardigers, wat reeds onder moeilike omstandighede gebuk gaan, knak.

“Suid-Afrikaanse vervaardigers en boere moet reeds verskeie uitdagings weens Covid-19, stygende insetkostes, die uitwerking van die onlangse onluste en dalende pryse trotseer. Ons het nie die voordeel van finansiële steun wat aan Europese boere deur hul regerings gegee word nie. Ons kan eenvoudig net nie meeding met produkte wat onder ons kosprys hierheen gestuur word nie.”

Ander bedrywe ook in gedrang

Die feit dat Itac nie die tariewe betyds kon hernu nie, gaan tot gevolg hê dat harde lesse nou geleer gaan word, waarsku Francois Baird, stigter van die Fairplay-beweging.

“Hierdie onvermoë om die tariewe op ingevoerde aartappelskyfies te hernu, is nie net rede tot kommer vir die plaaslike aartappelbedryf nie, maar ook vir ander bedrywe wat deur die storting van produkte uit ander lande bedreig word.”

Die aartappelbedryf is egter die eerste wat in die spervuur is. Volgens hom moet ander bedrywe, soos die suiker-, tekstiel- en hoenderbedryf ook met kommer kennis neem daarvan dat Itac nie die aansoek betyds kon afhandel nie.

Werk en inkomste in die gedrang

Mense kan hul werk, ondernemings en lewensmiddele verloor as goedkoop ingevoerde aartappelprodukte in Suid-Afrika gestort word, waarsku ASA en Fairplay. Die ekonomie kan ook baie skade ly.

Die aartappelbedryf dra sowat R8,5 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by en verskaf werk aan ’n geraamde 45 000 permanente en seisoenale werkers.

Jaarliks word gemiddeld 50 000 hektaar aartappels aangeplant, wat sorg vir oeste wat tot 45% van die land se totale groenteoes verteenwoordig.

Onverwerkte aartappels se waarde staan op R7,5 miljard, en as dit verwerk word, styg hierdie waarde tot R26 miljard.

Unathi Mhlatyana, McCain se besturende direkteur, sê deur die plaaslike landboubedryf te ondersteun, word die gevolge van storting van landbouprodukte op die magtigste en mees volhoubare manier beveg.

McCain Foods, een van die land se groot vervaardigers van gevriesde kosprodukte, gee werk aan 6 800 voltydse werkers en koop aartappels by meer as 100 Suid-Afrikaanse boere aan.

“Storting dra regstreeks by tot die bedreiging van ons land se ekonomie en mense se lewensmiddele. McCain ondersteun dus die koop en verkoop van plaaslike produkte. So bly die wins in die land en dit help met ekonomiese groei en werkskepping,” sê Mhlatyana.

Meer oor:  Mccain  |  Aartappels Suid-Afrika  |  Fairplay  |  Itac  |  Aartappels  |  Landbou  |  Aartappelskyfies  |  Storting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.