Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Oos, wes, tuis nou óók bes vir plaas se werkers

’n Groep van 30 landbouwerkers in die tafeldruifbedryf en hul gesinne het vandeesmaand die trotse eienaars van ’n moderne behuisingskompleks op ’n plaas buite die Paarl geword.

Dié werkers werk almal vir die tafeldruifplaas Nieuwe Sion by Simondium, en het sowat twee weke gelede die sleutels van hul nuutgeboude huise ontvang.

Die behuisingskompleks is teen ’n koste van R30 miljoen deur die egpaar dr. David en Elaine Potter, die eienaars van die Nieuwe Sion-plaas, opgerig.

Kom maar binne: Shane Solomons, ’n landbouwerker van die tafeldruifplaas Nieuwe Sion buite die Paarl, voor sy nuwe huis in die behuisingskompleks Lumier. Foto’s: verskaf

’n Stuk grond by die plaas is spesifiek vir dié doel bekom waarna die behuisingsprojek amptelik in Mei 2015 van stapel gestuur is.

Die Potters woon in Engeland en wou graag ’n omgewing skep waar die plaas se landbouwerkers beter af kan wees as hulle daar begin werk, lui ’n verklaring wat deur die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf uitgereik is.

Die behuisingsprojek is ook daarop gemik om landbouwerkers toegang tot die eiendomsmark te gee.

Die moderne behuisingskompleks by Nieuwe Sion is Lumier genoem en bestaan uit 22 twee- en drieslaapkamerhuise, sowel as agt enkelwoonplekke vir afgetrede werkers.

Die huise se groottes wissel tussen 60 m² en 70 m² en daar is woonplek vir altesaam 140 mense in die kompleks.

’n Tuiste in die Boland: Die huise in die Lumier-kompleks is só gebou dat daar ’n groot binnehof vir inwoners in die middel is.

Daarbenewens is ’n crèche en nasorggeriewe ook vir die werkers se kinders gebou, en ’n gemeenskapsentrum en sportvelde op die perseel aangebring.

Die kompleks is met behulp van die werkers se insette ontwerp ten einde in hul behoeftes te voorsien.

Die doel van die ruimte is om ’n plek te hê waar die werkers mekaar kan ondersteun en ophef, meen die Potters.

Volgens Fielies du Toit, die plaasbestuurder, is die behuisingskompleks ontwerp om selfonderhoudend en omgewingsvriendelik te wees en
’n gemeenskapsgevoel te bevorder.

Blye dag: Dr. David en Elaine Potter, eienaars van Nieuwe Sion, saam met Paul Morris, ’n verteenwoordiger van die werkers.

“Die Potters se visie om hul werkers te bemagtig strek verder as om net bestaanslone te betaal en ’n veilige en werkervriendelike produksieomgewing te skep,” verduidelik Du Toit in die verklaring.

“Hul uiteindelike doelwit is om werkers en hul gesinne – spesifiek die kinders – te help om minder afhanklik van die plaas te wees vir hul finansiële welstand deur hulle toegang tot die hoofstroomekonomie te gee,” aldus Du Toit.

Volgens Willem Bestbier, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf, is die ontwikkeling ’n bewys van wat gedoen kan word as die bedryf en die regering saamwerk om mense te bevoordeel.

Nieuwe Sion is ’n plaas van 70 ha waarop daar hoofsaaklik tafeldruiwe, sowel as nektariens en sagtesitrusvrugte verbou word.

Meer oor:  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.