Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Pasop vir super-virus by vee, waarsku Dok Faffa

Pasop vir ’n super-virus by diere, waarsku dr. Faffa Malan, pas nadat hy met ’n gesogte toekenning vir sy lewenslange bydrae tot siektebeheer by vee vereer is.

“Dok Faffa”, bekende skrywer en televisie-aanbieder oor dieresiektes wat as Suid-Afrika se voorste virtuele veearts beskryf word, is deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns met die M.T. Steyn-prys vir natuurwetenskaplike en tegnologiese prestasie vereer.

Dr. Faffa Malan Foto: Argief

Op 76 is Malan steeds die gesig van veeartsenydienste in Suid-Afrika en veg elke dag om boere se veekuddes gesond te hou.

Hy waarsku dat ’n super-virus by diere, soos Covid-19 by mense, enige tyd kan toeslaan.

“Ons weet nie beslis of Covid-19 van vlermuise kom of nie. Maar daar is baie goed wat van wild kom wat ons niks van weet nie. Ons moet voorbereid daarvoor wees,” sê hy.

“Kyk wat gebeur met brucellose (besmetlike misgeboorte). Ons weet presies wat ons moet doen, maar ons doen dit nie. Hier is ou in Noordwes by wie 300 beeste siek is. Hulle is nooit ingeënt nie. Jy koop beeste en verse in en dit tref jou nou. Ons het die mooiste wetgewing. Die wet sê dat jy al jou verse tussen vier en agt maande moet inent, maar baie boere doen dit nie.”

As mense vars melk, kaas of selfs roomys wat van besmette beeste kom, koop, kan hulle ook siek word. Hyself het in die vroeë jare sonder handskoene beeste behandel, maar besef nou hoe ernstig dit is.

“Daar is baie spekulante wat kroeks is en nie inent nie, en skuif diere wat nie moet geskuif word nie. Ons pluk die vrugte daarvan met uitbrekings soos bek-en-klouseer. Daar is baie ouens wat maak net wat hulle wil. Jy gaan dit nie in Australië kry nie. Kom ons doen die regte ding en werk saam.”

Ná ’n halfeeu in die praktyk beklee Malan steeds verskeie leiersrolle in die bedryf. Hy is voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum en sy Vra vir Faffa-rubriek in Landbouweekblad het al meer as 4 000 antwoorde oor siektes verskaf.

Die Akademie sê met die toekenning die mees opvallende komponente van Malan se skeppende bydrae tot

die natuurwetenskap lê in die ontwikkeling van die FAMACHA-stelsel om weerstandigheid teen haarwurmbesmetting by kleinvee te bepaal, die gebruik van media om die boerderygemeenskap te bereik en toe te rus, asook die Nasionale Maandelikse Siekterapporteringstelsel wat opgebou word uit inligting wat van bykans 160 veeartsenypraktyke en ander instansies verkry word.

Op 76 is hy nog elke dag besig om ’n bydrae te lewer op die gebied van parasietbeheer deur die beginsel van Doelgerigte Selektiewe Dosering (DSD) wat wêreldwyd gebruik word.

Malan sê die geheim vir sy sukses is spanwerk.

“Die geheim is om mense saam met jou te vat. In Vra vir Faffa gebruik ek omtrent 40 mense se inligting. Dit is spanwerk. Elke ou het sy gawe.”

Malan sê in Genesis in die Bybel staan die mens is gemaak om oor die skepping te heers, maar ons is besig om die “skepping op te foeter” en dit is waar weerstand by siektes begin.

“Gaan kyk in die Krugerwildtuin, daar nie dipstof vir siektes vir wild nie. Ons moet baie mooi kyk wat ons besig is om te doen (met vee). Ons boer al hoe meer intensief. Goed en wel, maar daar is goed soos parasiete wat ingekom het met intensiewe boerdery. Hoeveel virusse weet ons niks van nie?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.