Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Perke op jag en droogte vermaer wildpryse
Horizon, die wêreld se duurste buffel – sy waarde word op R176 miljoen beraam.

Perke op trofeejag ná die jag van Cecil die leeu in 2015 en die ergste droogte in dekades wat boere gedwing het om hul diere te verkoop, het wildpryse in Suid-Afrika laat tuimel.

Die gemiddelde prys van ’n buffel het 71% tot R95 704 in 2016 gedaal en is ’n fraksie van die R2,1 miljoen wat een in 2013 gekos het, sê die veilingshuis Vleissentraal.

“Daar was ’n aanslag op die trofeejagbedryf en dit het ’n uitwerking op pryse gehad,” sê Peet van der Merwe, professor in wild en toerisme by Noordwes-Universiteit.

“Die droogte het ook boere onder druk geplaas omdat baie hul voorraad moes verkoop.”

Die ineenstorting van pryse kom aan die einde van vier jaar waar die waarde van Suid-Afrikaanse wild, wat dikwels spesiaal geteel word vir groot horings of gekleurde pelse, die hoogte in geskiet het.

Die droogte het ook boere onder druk geplaas omdat baie hul voorraad moes verkoop.
Prof. Peet van der Merwe

Omgewingsbewustes en selfs sommige jagters kritiseer die praktyk as ’n onnatuurlike gepeuter met die genepoel.

Die oplewing in die pryse tussen 2011 en 2014 is aangevuur deur ’n groei in trofeejag en belegging deur hoënettowaarde individue, insluitend miljardêr Johann Rupert en Suid-Afrikaanse adjunkpresident Cyril Ramaphosa.

Dit het alles in 2015 verander.

Die land het die ergste droogte sedert 1904 ervaar wat voer duur gemaak het terwyl Walter Palmer, ’n Amerikaanse tandarts, wêreldwyd verontwaardiging uitgelok het nadat hy Cecil, ’n 13 jaar oue leeu in Zimbabwe wat bekend was vir sy swart maanhaar, onwettig geskiet het.

Cecil was deel van ’n Oxford Universiteit-navorsingsprojek en nadat hy geskiet is het Amerika, Frankryk, Nederland en Australië strenger beperkings op die invoer van karkasse toegepas terwyl United Airlines en Delta Airlines kliënte verbied om hul trofeë te vervoer.

Pryse vir wild wat spesiaal vir hul kleur geteel is, het ook verlede jaar gedaal.

Volgens Vleissentraal was die gemiddelde goue wildebeesbul 61% goedkoper teen R395 363 in 2016 as wat dit in 2015 was.

Die prys vir swart rooibokramme was 78% laer en selfs “gewone” wild soos koedoes se pryse was 64% laer.

Wildebeeste is gewoonlik donkergrys en rooibokke is rooibruin.

Pryse word ook beïnvloed deur die toenemende aanbod van wild waarmee geboer word.

Baie veeboere het weens die hoë wildpryse tussen 2012 en 2014 eerder met wild begin boer, wat tydelik die aanvraag vir teelvoorraad laat styg het.

Van der Merwe sê sommige boere moes hul wild weer tydens die droogte verkoop.

Duurste buffel

Die waarde van die duurste buffel het wel in 2016 gestyg.

Die sakeman Peter Bellingham het verlede Februarie R44 miljoen vir ’n 25%-belang in Horizon, Afrika se tuberkulosevrye buffel met die wydste horings, betaal.

Dit bring die waarde van Horizon op ’n rekord R176 miljoen, aansienlik hoër as die R40 miljoen wat ’n groep beleggers insluitend Rupert in 2013 vir ’n buffel genaamd Mystery betaal het.

Horizon se horings is 150 cm wyd teenoor Mystery se 135 cm.

Suid-Afrikaanse telers, die grootste mark vir die diere, is bereid om rekordpryse te betaal vir die gene van buffels wat hul trop se horingwydte sal verbeter en hul dus gesogter vir jagters te maak.

– Bloomberg

Meer oor:  Noordwes-Universiteit  |  Cyril ­Ramaphosa  |  Johann Rupert  |  Wild  |  Jag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.