Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Pioneer Foods se wins herstel ná droogte

Die voedselreus Pioneer Foods begin uiteindelik die negatiewe uitwerking van die 2015-’16-droogte in die noordelike dele van die land op sy winsgewendheid afskud.

Pioneer Foods, met handelsname soos Sasko en Marmite in sy stal, het ’n stewige vertoning in die ses maande tot einde Maart gelewer met groei in verkoopsvolumes en winsmarges. Foto: Verskaf

Die maatskappy, wat mielies in verskeie van sy voedselprodukte gebruik, het tydens die droogte in 2016 duur mielies teen ’n baie onmededingende prys van oorsee gekoop om sy voorraadvlakke te handhaaf. Hy wou onder meer verseker dat sy White Star-mieliemeel, een van die grootste verkopers in Suid-Afrika, steeds op die rakke sal bly.

Dit het egter sy winsmarge ’n knou gegee wat eers in die tweede helfte van 2017 weer herstel het.

In die ses maande tot einde Maart vanjaar het die groep se wesensverdienste per aandeel met 26% tot 320c gestyg terwyl bedryfswins met 36% tot R949 miljoen gestyg het.

Die maatskappy, met onder meer handelsname soos Weet-bix, Liqui-fruit en Sasko in sy stal, se verkoopsvolume en margegroei is hoër as ’n jaar gelede.

Inkomste het egter met 3% tot R9,9 miljard gedaal en die groep skryf dit toe aan prysdeflasie, met sy produkpryse wat verlaag het saam met laer graanpryse.

In die afdeling vir kruideniersware het Pioneer se bedryfswins egter met 3% tot R292 miljoen gedaal, ondanks ’n styging van 9% in sy inkomste.

Dié afdeling ervaar sterk kompetisie van ander groot voedselmaatskappye en dit lei tot laer wins en kleiner marges.

Volgens Pioneer het veral Liqui-fruit sy markaandeel vergroot terwyl sy ontbytkosprodukte en kitsnageregte ook gepresteer het.

Sy snoepkos het egter gesukkel teen die mededingers terwyl ystee en aanmaak-koeldrank ook markaandeel prysgegee het.

Aan die internasionale front het die uitvoervolumes van vrugtesap met ’n lang raklewe en droëvrugte herstel. Bedryfswins het met 75% tot R121 miljoen gestyg.

Pioneer het in die oorsigtydperk die Britse granola-handelsmerk Lizi gekoop en die maatskappy sê die handelsmerk lewer reeds ’n positiewe winsbydrae.

Dié afdeling se winsmarges word egter volgens die groep deur die sterker rand geknou.

Pioneer Foods se gesamentlike onderneming met Heinz Foods Suid-Afrika sal voor die einde van Mei gefinaliseer wees, nadat die mededingingstribunaal die transaksie die groen lig gegee het.

“Bestuur is vol vertroue dat Heinz Foods se prestasie sal verbeter as dit eers ten volle in Pioneer geïntegreer is,” lui die groep se verklaring op die JSE se nuusdiens Sens.

Pioneer Foods het sy tussentydse dividend onveranderd op R1,05 per aandeel gehou. Die aandeel het teen 11:30 0,42% laer op R104,99 verhandel.

Meer oor:  Pioneer Foods  |  Kos  |  Vervaardigers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.