Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Plaagbeheer ingespan teen gevreesde vrugtevlieg

Plaagbeheermetodes word ingespan teen die gevreesde Oosterse vrugtevlieg wat vroeër vanjaar sy verskyning in die Oranjerivier-distrik in die ZF Mgcawu-omgewing rondom Upington gemaak het.

Dit is Woensdag deur Steve Galane, woordvoerder van die departement van landbou, bosbou en visserye, in ’n verklaring bekend gemaak.

Die teenwoordigheid van die vlieg, Bactrocera dorsalis, is in Februarie en April vanjaar verskeie kere opgemerk.

Dit is met gereelde tussenposes tussen Groblershoop en Upington, asook Grootdrink, Karos, Keimoes, Augrabies, Kakamas en langs die Oranjerivier gesien.

Bactrocera dorsalis. Foto: Wikimedia

“Sitrus en druiwe word op groot skaal in die gebied verbou, en die plaag kan ’n ernstige bedreiging vir die oeste inhou. Die plaag gedy veral op dié gewasse.

“Die nagevolge van die plaag kan voedselonsekerheid, verminderde oeste, markbeperkings, hoë produksie en insetkoste inhou indien dit nie doeltreffend hokgeslaan word nie.”

Die departement werk reeds saam met belanghebbendes om plaagbeheer toe te pas om die verspreiding te keer.

“Gemeenskappe en rolspelers word versoek om met amptenare en bedryfsorganisasies saam te werk. Hulle stel lokvalle om die insekbevolking in bedwang te bring.”

Die metode verg sanitasiemaatreëls om die beweging van die plaag tussen besmette boorde wat in kwarantyn is na onbesmette boorde te beheer.

Landbouers wat deur die plaag geraak word, sal opdrag gegee word om die beweging van gasheermaterie tussen besmette en onbesmette plekke te staak. Hulle sal ook daadwerklik ingevolge voorskrifte moet optree om die plaag uit te roei.

Lede van die publiek word versoek om nie vlieglokvalle langs die paaie en ander openbare plekke in die gebied te verwyder nie.

“Die lokvalle is uiters noodsaaklik om die verspreiding van die uitheemse vliegsoort te bestudeer.”

Alle verbouers van die vrugte in ander dele van die land moet paraat wees en plaagbeheermaatreëls toepas.

Alle vervoerkontrakteurs en vrugte- en groentehandelaars wat die betrokke vrugte hanteer, moet permitte van die departement kry om produkte van besmette gebiede na onbesmette gebiede te vervoer of te verkoop.

Internasionale reisigers moet streng by wetgewing hou wat dit verbied om onwettig uitheemse landbouprodukte die land in te bring. Dit veroorsaak nuwe plae wat duur en moeilik is om te bestuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.