Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Voëlgriep: Bedryf op hete kole oor of dit H5N8 is

Die hele pluimveebedryf is op hete kole oor ’n uitbreking van voëlgriep in Gauteng.

Toetse wat tans by die Onderstepoort- veeartsenykundige instituut gedoen word, sal teen Woensdag bekend gemaak word en bepaal of dit die uiters aansteeklike H5N8-virus is wat pluimvee en wilde voëls by die miljoene kan afmaai.

Daar moet nog vasgestel word of die uitbreking van H5-virus die hoogs patogeniese H5N8 is. Foto: Unsplash

Luidens ’n verklaring deur die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het 300 hoenders op ’n kommersiële pluimveeplaas in die Ekurhuleni-metro gevrek.

Die plaas is nou onder kwarantyn en die res van die hoenders wat in dieselfde gebou was as dié wat reeds dood is, is van kant gemaak.

Die Gautengse veearts-owerhede ondersoek die uitbreking en verleen hulp aan die plaas om op ’n veilige manier ontslae te raak van die oorskot. Die plaas word ook ontsmet.

Laboratoriumtoetse het bevestig die voëls is dood weens ’n H5-variant van die voëlgriepvirus. Monsters is na Onderstepoort gestuur vir verdere toetse om vas te stel of dit hoogs patogeniese (HPAI) of lae patogeniese (LPAI) voëlgriep is.

Voëlgriepvirusse word geklassifiseer in dié twee kategorieë, wat verwys na die molekulêre eienskappe van ’n virus en die vermoë daarvan om siektes en vrektes onder pluimvee te veroorsaak.

Besmetting van pluimvee met LPAI-virusse veroorsaak geen of slegs ligte siektes, met gevolge soos ’n daling in eierproduksie.

Besmetting met HPAI-virusse kan ernstige siektes en hoë persentasies vrektes veroorsaak.

Sowel HPAI- as LPAI-virusse kan vinnig onder pluimvee versprei.

Suid-Afrika het in 2017 vir die eerste keer ’n uitbreking van die H5N8-virus gehad en luidens Maandag se verklaring is die plaas waar die voëls nou gevrek het, ook destyds deur die uitbreking geraak.

H5N8 in Europa

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) het bevestig dat H5N8 in Oktober in Europa uitgebreek het.

Volgens Sapa is die hele bedryf op ’n gereedheidsgrondslag. Alle maatskappye, van klein tot mikro-ondernemings, word gevra om planne in te stel wat die verspreiding van die virus kan beperk. Dit sluit perke op die beweging van mense en voëls in.

Sapa sê die 2017-uitbreking was verwoestend. Dit het ook die prys wat verbruikers vir hoendervleis en veral eiers moes betaal, die hoogte laat inskiet.

Sapa sê in Europa was die 2020-uitbreking nie so verwoestend nie omdat lesse uit 2017 en vorige gevalle geleer is.

Pluimveeboere word aangemoedig om enige kontak met wilde voëls te vermy aangesien die migrasie van wilde voëls wel bewys is as ’n faktor wat die siekte versprei.

Indien pluimveeboere vermoed daar is ’n kans dat voëls op hul plase die virus kan hê, moet dit by die naaste staatsveearts aangemeld word. Mense wat dooie voëls opmerk, kan dit ook by die naaste veearts aanmeld.

Astral Foods het aan Netwerk24 gesê hulle is bewus van die nuus, maar kan nie kommentaar lewer nie aangesien die uitbreking nie op een van hul plase is nie.

Veilig vir mense

Die Wêreldgesondheidsorganisasie verseker dat H5N8 nie gevaarlik is vir mense nie. Daar was nog net geïsoleerde gevalle waar dit van voëls na mense versprei het, onder meer onlangs in Rusland, maar dit lewer ligte verkoue-agtige simptome op.

Sapa verseker verbruikers ook dat die vleis en eiers op winkelrakke veilig is.

Sapa verseker ook dat die land genoeg hoenders het en daar nie ’n tekort aan vleis of eiers behoort te ontstaan nie.

Tekens vir HPAI-infeksie onder pluimvee

  • Erge depressie en stilte onder pluimvee;
  • Skielike afname in die getal eiers wat gelê word, en dié wat wel gelê word, het sagte of geen doppe nie;
  • Die kamme en belle is rooi en geswel;
  • Die vel onder die oë is geswel;
  • Die voëls hoes, nies en toon tekens van senuagtigheid;
  • Diarree;
  • Bloeding op die hak; en
  • Soos die griep versprei, neem vrektes binne 48 uur vinnig toe.
Meer oor:  Hoenders  |  Kospryse  |  Voëlgriep  |  Kosprysinflasie  |  Landbou  |  Eiers  |  Pluimvee  |  H5n8  |  Pluimveebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.