Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Plaaswerkers in Vrystaat nou volwaardige boere

’n Groep plaaswerkers in die Vrystaat het pas die titel boer ryker geword.

“Alles is afgehandel. Hulle is nou die nuwe eienaars van die plaas,” het Eddie Prinsloo, bekende merino-stoetteler van die Heuningkrans-stoetery naby Smithfield oor dié groot nuus gesê.

Hulle word die eerste begunstigdes in die Vrystaat wat volle eiendomsreg van ’n plaas ingevolge die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg (Wet 62 van 1997, ook bekend as Esta) verkry.

Die werkers word die eienaars van die plaas Donkerhoek wat Prinsloo deur die staat se 50/50-skema aan hulle verkoop het.

Hulle het Donderdag die titelakte en die sertifikaat in ontvangs geneem.

'n Nuwe toekoms saam. Die Prinsloos van die Heuningkrans-merinostoetery het een van hul plase aan hul werkers verkoop. Die Prinsloos en die werkers gaan nou saam op die plaas boer. Die werkers het hierdie week die titelakte van die plaas Donkerhoek bekom. Van links is Lizette Prinsloo, Eddie Prinsloo, Zane Phomane, voorman en sekretaris van die nuwe bestuur van die boerdery, en Eduard Prinsloo. Foto: Mlungisi Louw

Die werkers het die Donkerhoek Farming Communal Property Association (CPA)-sertifikaat van Fusi Sello, direkteur van die departement van landelike ontwikkeling in die Vrystaat, ontvang.

Die komitee bestaan uit Lebohang Koos Thibane (voorsitter), Tsebe Andries Sephathi, Zane Phomane (sekretaris), Kgudu Senati, Mojalefa Matene, Pampu Mona, Johannes Matene en Palesa Phantsi, die enigste vrou op die komitee.

Prinsloo en sy seun, Eduard, gaan die boerdery op die plaas saam met die werkers bedryf. Hulle het ’n 51%-aandeel in die boerdery en die werkers 49%.

Prinsloo sê die titelakte en sertifikaat is ’n groot stap. Die boerdery kan nou ’n lening bekom om die vee aan te koop. Hulle gaan met hamels en beeste boer.

Die 100 ooie wat hy verlede jaar beskikbaar gestel het, het reeds gelam en die werkers sal in Augustus die eerste keer van hul ramme op sy Heuningkrans-produksieveiling te koop aanbied.

Die werkers van die Heuningkrans-merinostoetery naby Smithfield in die Vrystaat het nou volwaardige boere geword nadat hulle hierdie week die titelakte van die plaas Donkerhoek bekom het. Die werkers en die Prinsloos gaan die boerdery saam bedryf. Van links is Lebohang Koos Thibane (voorsitter), Tsebe Andries Sephathi, Lizette Prinsloo, Zane Phomane (sekretaris), Eduard Prinsloo, Kgudu Senati, Eddie Prinsloo, Mojalefa Matene en Pampu Mona. Foto: Mlungisi Louw

Die hele proses om die grond deur die staat aan die werkers te verkoop en die titelaktes te bekom, het meer as drie jaar geduur.

“Dit was ’n lang pad, maar dit is beslis die moeite werd. Hulle is nou die eienaars van hul eie grond. Die werklikheid dring nou deur by hulle. Die bal is nou in hul hande om die lening te bekom en voluit te boer.”

Die groot leerkurwe lê nou voor vir die grondeienaars om volwaardige, volhoubare boere te word.

“Die werkers se gesindheid het van die eerste dag af dramaties verander. Toe daar onlangs ’n brand naby die plaas was, was hulle eerste daar, sonder dat ek hoef te gaan soek het na hulle. Hulle weet dit is nou hulle eiendom. Hulle moet die ding reg doen.”

Prinsloo sê hy het dit aan die amptenare gestel dat volle eiendomsreg die enigste manier is om grondhervorming te doen. Dan kan die nuwe eienaars lenings bekom om vee aan te koop.

In die verlede het die nuwelingboer bloot die grond aan sy wit buurman teen goedkoop verhuur. Die enigste wat hierby gebaat het, was die wit boer.

Meer oor:  Vrystaat  |  Boere  |  Boerdery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.