Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Port Alfred-boer maak ’n maatskaplike belegging

Drank en dwelmverslawing onder plaaswerkers is ’n wesenlike probleem wat nie net lewens verniel nie, maar ook ’n uiteindelike impak het op ’n plaas se produktiwiteit. Dít het die eienaars van een só ’n plaas naby Port Alfred aangespoor om die bul by die horings te pak, skryf Corné Coetzee.

Vir dié kinders was daar speletjies om hulle op ’n prettige manier te leer oor gesondheidsake.Foto: VERSKAF

Die droogte het nie ’n direkte uitwerking op Feathers Farm nie, maar tog is die uitkring-effek van die duurder mieliepryse aanvoelbaar. Rieme moet dun gesny word en produktiwiteit is ’n prioriteit.

Die plaas is in ’n kol waar drank- en dwelmverslawing onder die werkers reuseprobleme skep. Die afwesigheidsyfer is hoog en die welstand van die werkers se gesondheid, en verslawing in besonder, is ’n groot bekommernis, sê Kate Knight, wat die plaas saam met haar man, Paul, besit.

Feathers Farm is al 70 jaar in haar familie en sy onthou, toe sy nog ’n kind was, hoe haar ma die eerste kliniek in die distrik op hul plaas begin het. Die plaas het ’n verpleegsuster in diens gehad en vandat sy kon onthou, was daar ’n skooltjie waar kinders tot gr. 7 skoolgegaan het.

Die staat het albei gesluit.

“In die ou dae het die oumense na kleintjies gekyk terwyl die ouers werk, maar deesdae is dit nie meer so nie. ’n Ma wie se jong kind deur die ouma opgepas is, het onlangs in werkstyd gaan kyk hoe dit by die huis gaan en die ouma erg dronk aangetref.

“Nou ry die kleintjies soggens weg in ’n taxi na ’n crèche op Port Alfred,” sê Kate.

’n Gesondheidspraatjie in een van die markiestenteFoto: VERSKAF

Tieners wat dwelms rook

Lucky Pikoli (33) is op Feathers Farm gebore. Hy was ’n drywer, maar nou is hy assistent-pakstasiebestuurder wat onder meer gehalte van die eiers kontroleer. Hy is veral bekommerd oor die tieners wat dwelms rook. Maar daar is ook die drinkery, sê hy.

Met die hulp van die plaasbestuurders, Fanus en Cherese Coetzee , het Kate-hulle toe die hand in eie sak gesteek en ’n welstandsdag vir die plaaswerkers gehou, maar gou besef dis ’n wilde perd om op te saal en een wat maklik in sy eie koers op galop gaan.

Cherese is in beheer van voedselveiligheid en bestuur die eierpakstasie. Sy sê daar was ’n paar voorvalle wat dit duidelik gemaak het dat iemand moet ingryp om die plaaswerkers met mediese en maatskaplike probleme te help.

Een voorbeeld was ’n vrou met ’n pre-kankertoestand van die baarmoeder, vertel Cherese. Die vrou moet ’n operasie kry, maar burokratiese rompslomp en ’n algemene tekort aan hulpbronne vir mense wat van die staat se dienste afhanklik is, maak dit vir haar haas onmoontlik om die nodige hulp te kry.

Plaaswerkers neem deel aan ’n groepsessie tydens die gesondheidsdag op Feathers Farm.Foto: VERSKAF

Dis toe dat Cherese en Fanus na dr. Leon Nel in Port Alfred gegaan het om ’n plan te bedink.

“Dr. Nel was geesdriftig oor boere wat iets wil doen om werkers te ondersteun,” sê Fanus. “Hy het begin bel. Vandaar het die ding begin sy loop neem.”

Nel se oproepe het die Coetzees uiteindelik na suster Moira Israel gelei. Sy is suster by die Kowie-gemeenskapspsigiatriese diens in die Ndlambe-distrik, deel van die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement.

Sy spesialiseer in geestesgesondheidsverpleging. Dwelm- en alkoholmisbruik, sê sy, is die oorsaak van talle geestesgesondheidsprobleme. Die departement het reeds ’n klompie uitreikprogramme. “Wat is die behoefte?” wou sy weet toe sy hoor Feathers Farm soek hulp, en begin nader hark, soos sy dit stel: kinderwelsyn, vrouewelsyn, hospies, mond­higiëne, ook arbeidsterapeute en gesinsberaders en haar pastoor van die Full Gospel Church. Selfs die Sondagskoolkinders is opgekommandeer om ’n dans te kom uitvoer en met die plaaskinders te gesels.

Die plaasmense het twee markiestente en ’n springkasteel gehuur en gesorg vir vervoer vir die gesondheidswerkers, maaltye, sokkerballe en lekkernypakkies vir die kinders. Die Southwell-buiteklub het maaltye verskaf en Dr. Nel, Pick n Pay en die NVN- elektriese maatskappy, het hul steun as borge toegesê.

Toe die groot dag aanbreek, was daar 35 gekwalifiseerde gesondheidswerkers wat hul dienste aangebied het. Sowat 102 werkers het opgedaag om te luister na praatjies oor onder meer ouervaardighede, gesonde dieet en dwelmmisbruik. Die verpleegpersoneel het ook ondersoeke gedoen vir chroniese siektes soos hoe bloeddruk en diabetes.

Ntshantsha Mnyani besig met ’n aanbieding tydens Feathers Farm se gesondheidsdag.Foto: VERSKAF

‘Priceless’

Israel sê dit was ’n gróót ding om te orkestreer, maar “van wat ek kan sien, is die effek van die soort van ding– veral op die kinders – priceless”.

’n Maand later, vroeg in Augustus, was suster Israel weer daar met geestesgesondheidspersoneel. Van die oorspronklike 21 mense wat by die dwelmhulpprogram wou aansluit, was 15 steeds gemotiveer. Hulle gaan nou so vyf op ’n slag, sodat plaasproduksie nie te veel ontwrig word nie, by die Fort Eng­land-psigiatriese hospitaal vir rehabilitasie.

Cherese meen daar was ’n gemoedsverskuiwing onder die werkers.

“Nou weet die mense – ek is self verras – hoe baie hulp beskikbaar is. Daar bestaan byvoorbeeld ’n familiegesondheidsprogram waarvan daar op die welstandsdag ’n inleiding hier aangebied is. Ons gaan nou kyk of hulle weer in November na die plaas kan kom en die hele nege-stap-program aanbied.

“Die vrou met die pre-kanker kry beslis in September haar operasie. Die wegblyery is effens minder, maar neem steeds rondom naweke en betaaldag toe,” sê sy.

Fanus meen die probleme kan nie oornag opgelos word nie.

“Dis ’n proses, maar die houding is beter. Dis of die werkers ons meer begin vertrou.”

Kate sê sy hoop die eerste welstandsdag was die begin van ’n groter bewustheid rondom die plaaswerkers se nood. “Ons hoop ander boere sal ook betrokke raak, want ons is hoegenaamd nie uniek in dié opsig nie. Ek hoop eintlik die boerevereniging sal dit oorneem sodat dit ’n jaarlikse ding vir die hele distrik kan word.”

Suster Moira Israel, Cherese Coetzee en Lucky PikoliFoto: VERSKAF

Johan Wege, bestuurslid van Agri Oos-Kaap en voorsitter van die Birds River-landbouvereniging, verwelkom sulke dae. “Sulke soort inisiatiewe is baie belangrik. Hoe meer ons die plaaswerkers kan bystaan, hoe beter.”

Die afskaal van die klinieke is vir hom kommerwekkend. Baie van die kleiner dorpe bied nie meer basiese gesondheidsdienste aan nie. Sanca (die raad vir alkoholisme en dwelmverslawing) se kantoor op Port Alfred het byvoorbeeld toegemaak. Sulke programme het ’n reusebydrae gemaak, sê Wege.

Vir Lucky Pikoli was die welstandsdag ’n ligpunt. “Die gesondheidsdag was iets anders! Dit was interessant, en dit het ’n verandering in ons lewens gebring. Hulle het vir ons gesê hoe om onsself te versorg, soos wat om te eet. Hulle het ook kom tjek vir goed soos TB. Die meeste mense het daarvan gehou. Die kinders was baie gelukkig daaroor, hulle het elke liewe oomblik geniet.”

Fokus nog steeds

Ntempsi Ngesi (42) is ook haar lewe lank al op die plaas. Sy werk in die kantoor met bestellings en aflewerings. “Die dag was baie goed en ons was baie gelukkig daaroor, ook die kinders. Hulle het kom praat oor dwelms en drank, en ook wat ons moet eet, en ander dinge ook. Die beste een was oor dwelms; hier is so baie mense op dwelms.”

Ses weke later, sê sy, “fokus” hulle nog steeds. “Nou probeer ons om reg te wees. Ons probeer, ons probeer.” Knight reël nou dat Cherese by die Bathurst-Wes-boerevereniging ’n aanbieding lewer oor die welstandsdag, die reël en uitkoms daarvan. Maar selfs al sou die vereniging nie die reëlings vir so ’n gesondheidsdag oorneem nie, sal Feathers Farm dit weer doen. “Ons sal nou kyk hoe werk die opvolgprogramme, en ons sal dit dalk effe anders doen – byvoorbeeld oogartsdienste bykry. Maar dis die moeite werd vir ons personeel.”

Meer oor:  Port Alfred  |  Dwelmverslawing  |  Plaaswerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.