Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
R10/kg vir tamaties? Blameer die weer!
Dis die weer se skuld dat jou tamaties op die oomblik so duur is.Foto:

Dis die weer se skuld dat jou tamaties op die oomblik so duur is. Die laaste drie maande se wisselende weerpatrone het gelei tot ’n wisselvallige aanbod van tamaties en ongekende prysstygings vir dié vrug.

Keitumetse Makhetha, ontleder vir die groothandel-, kleinhandel- en franchise-sektor by Absa, sê tamaties is baie sensitief vir veranderinge in weersomstandighede. In warmer toestande word die vrugte vinnig ryp, wat beteken boere moet vinniger oes en skielik is die aanbod hoër.

Daarteenoor kan ’n tekort gou ontstaan in ongunstige weerstoestande soos erge hitte en swaar neerslae, verduidelik Makhetha.

Enige uitwerking op die aanbod lei tot prysskommelinge – soos wat die laaste paar maande die geval was.

Makhetha sê in November was daar baie reën en hael in die Brits-omgewing in Noordwes en in dele van Limpopo waar tamaties verbou word. Dit het voorraadvlakke beïnvloed.

Gevolglik het pryse teen middel November met 37,5% binne ’n week gestyg. Die volgende week was dit effens laer, maar in die week tot einde November het pryse weer opgeskiet met 46% teenoor die vorige week.

’n Kilogram tamaties is begin November teen R5,30 verkoop, maar teen die einde van die maand was dit R9,27/kg weens minder voorraad ná die reën en hael.

Die laaste deel van Desember is gekenmerk deur hittegolwe en swaar reën. Dié reën het dit vir produsente moeilik gemaak om te oes.

Hoewel die opbrengs nie sleg was nie, het reën die lewering onderbreek. Sekere weke was daar ’n tekort aan tamaties en ander weke ’n ooraanbod, sê Makhetha.

Volgens die Pietermaritzburg Economic Justice & Dignity Group se huishoudelike voedselindeks het verbruikers in Januarie R96,49 vir ’n 6 kg-sak tamaties betaal, vergeleke met R84,99 in Desember 2019 en R72,49 in Januarie verlede jaar.

Desember 2019 se laat reën beteken produsente het later geoes, wat tot ’n ooraanbod van die vrugte gelei het begin Januarie vanjaar, maar toe word tamaties in Januarie weer blootgestel aan wisselende weerpatrone, sê Makhetha.

In die week tot 24 Januarie het ’n tekort ontstaan, wat pryse met sowat 80% opgestoot het teenoor die vorige week.

Vraag was ook beperk. Dit is kenmerkend van dié tyd van die jaar omdat verbruikers se besteebare inkomste onder druk is met verpligtinge soos skoolgeld, verduidelik Makhetha.

Absa Agri Business verwag produsente sal in die volgende paar maande steeds goeie pryse vir hul tamaties haal soos vraag begin styg ná ’n moeilike Januarie vir verbruikers.

Tradisioneel word meer tamaties in Februarie en Maart verkoop as in Januarie.

Absa se seisoensindeks, gegrond op data van Januarie 2000 tot Desember 2019, wys ook prysstygings kan verwag word, sê Makhetha.

Die aanbod sal na verwagting laer wees en die pryse opstoot.

In die week tot einde 7 Februarie was die prys R10/kg.

Meer oor:  Kospryse  |  Tamaties  |  Weer  |  Kosprysinflasie  |  Landbou  |  Groente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.