Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
R1,5 mjd. beoog vir meesterplan vir pluimvee
’n Nuwe meesterplan vir die pluimveesektor het ten doel om die plaaslike sektor uit te brei.Foto: Bloomberg

Die pluimveesektor het onderneem om R1,5 miljard in die nuwe meesterplan vir pluimvee te belê.

Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, het op 6 November tydens die tweede beleggingskonferensie wat in Sandton, Johannesburg, gehou is, aangekondig dat dié plan van stapel gestuur gaan word.

Hoewel Thoko Didiza, minister van landbou, bosbou en visserye, asook die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa), dié verwikkeling verwelkom, is die plan nog nie amptelik bekend gestel nie.

Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die braaihoenderorganisasie van Sapa, sê dit is die eerste keer dat daar nou ’n bloudruk bestaan wat die sektor sal bevorder.

“Die plan, wat ontwikkel is deur onderhandelinge tussen die regering, die pluimveebedryf en ’n aantal belanghebbendes, insluitende boere, verwerkers, uitvoerders, pluimvee-invoerders en georganiseerde arbeid, was die resultaat van ’n jaar lange proses om ’n raamwerk vir groei en volhoubaarheid te skep van ’n bedryf wat ’n noodsaaklike pilaar in die Suid-Afrikaanse landbou-ekonomie is,” sê Breitenbach in ’n verklaring.

“Dit stel ’n nuwe, gesamentlike visie oor die waardeketting uiteen en skep ’n meesterplan vir die pluimveesektor om die implementering van die gestelde doelstellings van die plan te monitor en aan te wakker.”

Uitdagings

Groot uitdagings staar die plaaslike pluimveesektor die afgelope paar jaar in die gesig.

Een van die grootste hiervan is die invoer van goedkoop, bevrore hoenderstukke.

Die groot geveg gaan daaroor dat Sapa wil hê die regering moet ’n invoertarief van 82% plaas op ingevoerde hoenderborsies, asook op hoenderagterkwarte.

Die tariewe is onderskeidelik 12% en 37%.

Die vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) staan dié aansoek by die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) teen.

Amie is nie die enigste organisasie wat die aansoek teenstaan nie.

EBieSA, ’n organisasie wat 105 swart invoerders in die bedryf verteenwoordig, sê invoertariewe gee onregverdige beskerming aan die groot pluimveeprodusente ten koste van mededingers wat invoer. Dit jaag die prys op wat verbruikers vir hoender betaal en dit kan voedselsekerheid in die gedrang bring.

Die organisasie FairPlay, wat hom vir ’n billike handelsomgewing beywer, steun weer Sapa en sê die hoër tariewe is nodig om die plaaslike bedryf te help red.

Sapa sê nog ’n uitdaging is die hoë insetkoste.

Die vyf fokuspunte van die plan is:

1. Hou aan om die verbruik van hoender in absolute terme en op ’n per capita-grondslag te verhoog;

2. Verseker dat plaaslike produkte met verloop van tyd ’n groter deel uitmaak van die pluimvee wat verbruik word;

3. Brei die sektor uit. Dit sluit in om binne drie jaar 10% méér pluimveeprodukte te produseer, meer voer vir pluimvee te produseer en om binne drie jaar 50 nuwe kontrakboere te help om kommersiële plase te vestig;

4. Die sertifikasiestelsel sal hersien word om te verseker boere kan hul produkte uitvoer; en

5. Moedig swart deelname in die sektor aan.

Doelwitte

Sapa sê die nuwe meesterplan stel verskeie doelwitte wat teen 2023 bereik moet word.

Hy sê van dié stappe behels onder meer dat invoer ingeperk moet word en dat stappe gedoen moet word om die plaaslike sektor teen onregverdige handelspraktyke te beskerm.

“Die plan maak voorsiening om onbillike handelspraktyke, insluitend storting, aan te pak.

“Daar sal ook op ’n aantal ‘sondes’ gefokus word wat betref voedselveiligheid wat verband hou met invoer, en waaroor Sapa en die formele invoersektor baie bekommerd is,” sê Breitenbach.

“Hierdie sluit ’n hersiening van die regulasies in oor die wyse waarop ingevoerde hoender verpak en geëtiketteer moet word, en om te voorkom dat bevrore vleis ontdooi en weer as vars en/of gevries verkoop word, om te verseker dat ingevoerde hoender naspeurbaar is en aan dieselfde voedselveiligheidstandaarde voldoen as plaaslik geproduseerde hoender.

“Al die partye het saamgestem oor die skade wat veroorsaak is aan die bedryf en die ekonomie deur skelm invoer,” sê hy.

Didiza sê in ’n aparte verklaring dat die departement deur middel van die meesterplan die ontwikkeling van die plaaslike sektor wil ondersteun.

Meer oor:  Ebrahim Patel  |  Pluimvee  |  Pluimveebedryf  |  Ekonomie  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.