Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Ramaphosa belowe weer: Geen grondgrype

Pres. Cyril Ramaphosa het wéér belowe grondhervorming sal binne die raamwerk van die Grondwet en die oppergesag van die reg plaasvind.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Elvira Wood

Ramaphosa was Donderdag ’n spreker op Discovery se leierskapberaad in Sandton, Johannesburg.

Hy het die verhoog gedeel met oudpres. Bill Clinton van Amerika en sy vrou, Hillary, ’n vorige Amerikaanse minister van buitelandse sake en self ’n presidentskandidaat.

“Ons sal nie toelaat dat grondhervorming ekonomiese groei benadeel nie. Ons sal nie grondgrype toelaat nie.

“Ons sal ’n ooreenkoms bereik wat tot nasiebou en samewerking sal lei. Ons ondersteun die beginsel dat Suid-Afrika behoort aan almal wat hier woon.”

Ramaphosa sê die feit dat daar Suid-Afrikaners is wat nie toegang tot grond het nie, is ’n probleem wat deur apartheid veroorsaak is, maar wat 24 jaar ná die koms van demokrasie nog nie opgelos is nie.

“Grond is veral in Afrika nog altyd beskou as daardie basiese onderliggende bate wat jy nodig het om ’n beter lewe te kan skep. Wanneer dit weggeneem word, ontneem dit mense van die geleentheid om hul lewe te verbeter.

“Grondhervorming gaan dus nie net daaroor om ongeregtigheid van die verlede te herstel nie, maar ook om die land toe te laat om sy volle ekonomiese potensiaal te bereik.”

Ramaphosa sê die herverdeling van grond sal ontluikende boere toelaat om ’n bydrae tot die ekonomie te lewer.

“Grondhervorming wat binne die raamwerk van die Grondwet geskied, kan ’n groot bydrae lewer tot ekonomiese groei.”

Ramaphosa het luide applous ontvang vir sy onderneming dat gesprekke met alle belanghebbendes gevoer gaan word om saam tot ’n vergelyk te kom oor hoe grond verdeel moet word.

Beleggings

Ramaphosa sê hy glo die “beleggingsdroogte is gebreek” nadat die beleggingsberaad verlede week ook in Sandton gehou is. Hy is vol vertroue dat nog beleggings binnekort sal kom.

Na wat berig word het maatskappye op die beleggingsberaad onderneem om R290 miljard in Suid-Afrika te belê.

Ramaphosa sê die regering is bewus van die rol wat hy moet speel om dit makliker te maak vir sake om in Suid-Afrika te floreer.

“Ons werk ook hard om van korrupsie ontslae te raak. Diegene wat hulle skuldig gemaak het aan korrupsie, moet daarvoor verantwoordelik gehou word.

“Dit is die regering se verantwoordelikheid om te verseker korrupsie word uitgeroei.”

Hy het egter die vinger ook na die private sektor gewys en gesê ook hy moet van korrupsie ontslae raak.

Ramaphosa het Adrian Gore, uitvoerende hoof van Discovery, bedank vir sy en sy maatskappy se bydrae tot die land se ekonomie.

Hy het die private sektor herhaaldelik genooi om betrokke te raak by inisiatiewe om ekonomiese groei aan te wakker.

“Daar lê ’n groot taak voor ons, en dit gaan nie maklik wees nie. Ons is aan die begin van ’n nuwe pad van groei en hernuwing.

“Die sukses van wat ons doen, berus egter op goeie leierskap,” sê Ramaphosa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.