Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Hoender-bedryf ‘nie met dié hulp gered’
Massimo De Luca, handelshoof van die Europese Kommissie se afvaardiging na Suid-Afrika, met ’n pak bevrore hoenderstukke met verskeie lande wat as bron van oorsprong aangedui word.

Die staat se besluit om ’n invoertarief van 82% op heel hoenders in te stel, red nog lank nie die pluimveebedryf soos wat hy sê hy doen nie.

Die staat gaan eers begin help om die plaaslike pluimveebedryf te beskerm wanneer ’n soortgelyke tarief op bevrore hoenderstukke aan die been, asook ontbeende bevrore hoenderstukke en nie net op heel hoenders nie ingestel word.

Dit is die organisasie FairPlay, wat hom vir ’n billike handelsomgewing beywer, se reaksie op ’n verklaring deur die departement van handel en nywerheid op 6 Maart dat hy ingegryp het om die plaaslike sektor te help red.

Luidens dié verklaring is invoertariewe op heel hoenders tot 82% verhoog terwyl die tarief op bevrore hoenderstukke aan die been onveranderd op 37% gelaat is.

FairPlay het op navraag geantwoord dat die regering “goed weet” dat die sektor aansoek gedoen het dat tariewe op bevrore hoenderstukke verhoog moet word, en nie op heel hoenders nie.

“Net ’n klein persentasie van hoenderinvoere bestaan uit heel hoenders,” sê FairPlay.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) se aansoek vir so ’n verhoging by die departement van handel en nywerheid se kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) is in Desember in die Staatskoerant gepubliseer.

Daar word tans ’n tarief van 12% op ontbeende bevrore hoenderstukke gehef.

Hierdie tarief is ook nie aangepas nie.

Lees ook: Hoenderboere pleit weer vir hoër invoertariewe

Massimo De Luca, handelshoof van die Europese Kommissie se afvaardiging na Suid-Afrika, sê hulle was nie bewus van die staat se besluit om tariewe te verhoog nie.

Hy sê in die geval van die Europese Unie voer hul lede eerder ontbeende hoenderstukke uit na Suid-Afrika, en nié heel hoenders nie.

Dié tariefverandering sal dus nie ’n invloed op hul produkte hê nie.

Hy sê invoere vanuit die EU het in elk geval gedurende 2018 met 70% gedaal aangesien Suid-Afrika steeds invoere uit ses lande verban.

Invoere van hoender vanuit Brittanje, Frankryk, België, Duitsland, Nederland en Hongarye is in 2016 deur Suid-Afrika verban nadat voëlgriep in dié lande uitgebreek het.

De Luca sê die lande is egter reeds middel-2017 as voëlgriep-vry verklaar, dog die verbod op invoere is steeds nie opgehef nie.

FairPlay en die EU is lank reeds slaags aangesien FairPlay dié lande blameer dat hulle hoenderstukke in Suid-Afrika stort.

Plaaslike pluimveeboere kan nie meeding teen die lae pryse waarteen dit ingevoer word nie. Dit is juis weens dié beweerde storting dat die sektor op hoër invoertariewe aandring.

De Luca was in 2017 geskok toe FairPlay tydens ’n mediagesprek ’n sak bevrore hoenderstukke voor hom neergesit het waar agt verskillende lande – waarvan heelwat Europese lande is – as moontlike bron van oorsprong aangedui is.

Marthinus Stander, uitvoerende hoof van Country Bird Holdings, een van Suid-Afrika se grootste pluimveeprodusente, sê hoewel hulle die staat se aankondiging verwelkom dat hy die sektor ondersteun, wens hy die tariewe wat ingestel is, was andersom.

Hy stem saam met Sapa en FairPlay dat tariewe van 82% eerder op die onderskeie hoenderstukke toegepas moet word, en nié op heel hoenders nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.