Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Reën verwag, al lê El Niño en wag

Al is daar ’n 70%-kans op ’n El Niño-weerverskynsel later vanjaar en gevolglik vrese oor hoë temperature en droogtetoestande in Suider-Afrika, lyk dit in dié stadium of Suid-Afrika in die eerste deel van die somerreënseisoen selfs bogemiddelde reënval kan verwag.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het onlangs in ’n twiet gewaarsku oor die waarskynlikheid van El Niño en hoër temperature en laer reënval wat daarmee gepaard kan gaan. Foto: iStock

Johan van den Berg, ’n landbouweerkundige en bestuurder van gespesialiseerde oesversekering by Santam Landbou, sê internasionale data wys die kans op die ontwikkeling van ’n El Niño het vergroot.

As die verskynsel teen Augustus/September gevestig is, sal dit vir die seisoen voortduur. Dít beteken egter nie noodwendig ’n lang, uitgerekte droogte in Suid-Afrika se somerreënval- en mielieproduserende streke nie. Van den Berg verduidelik El Niño kan ook die verskuiwing van reënval meebring.

Suid-Afrika kan bogemiddelde reënval verwag van September tot November, gevolg deur droër tye in die C (Desember en Januarie) oor veral die sentrale dele van die somerreënvalstreek, sê hy.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het onlangs in ’n twiet gewaarsku oor die waarskynlikheid van El Niño en hoër temperature en

laer reënval wat daarmee gepaard kan gaan.

Dít na aanleiding van die internasionale navorsingsinstituut vir klimaat en samelewing (IRI) en die Amerikaanse wetenskaplike agentskap vir oseane en die atmosfeer (NOAA) se klimaatsentrum se Junie-voorspellings dat ’n El Niño-verskynsel in die volgende ses maande kan ontwikkel.

Die IRI sê op sy webblad dié voorspelling geld steeds en daar is ’n groter kans vir temperature hoër as normaal in wêrelddele soos Asië, Europa, Suider-Afrika, Australië, Noord- en Suid-Amerika van Augustus/Oktober tot November/Januarie.

Van den Berg sê El Niño beteken wel ’n hoër risiko vir droogte, maar dis nie ’n gegewe dat dié droër tye tot swak somergraanoeste in Suid-Afrika sal lei nie.

Goeie reën voor planttyd, asook opgegaarde grondvog danksy die jaar se baie goeie reën, kan die uitwerking van swak reënval versag. Die reënvalverspreiding oor die hele seisoen beïnvloed ook die oes.

Historiese data wys ses uit die afgelope tien El Niño-tydperke het ondergemiddelde mielieoeste tot gevolg gehad. In 20% van gevalle was die mielieoes gemiddeld en in die ander 20% bogemiddeld, sê Van den Berg.

Die nasionale oesskattingskomitee se sesde oesskatting vir somergewasse raam die kom­mersiële mielieoes vir 2018 op 13,2 miljoen ton.

Verlede jaar het goeie reënval ’n rekordoes van meer as 16 miljoen ton verseker nadat Suid-Afrika te midde van een van die ergste droogtes in dekades in die 2016-seisoen net sowat 7 miljoen ton mielies gelewer het en moes invoer.

Die land het gemiddeld sowat 11 miljoen ton mielies per jaar nodig.

Meer oor:  Sanlam  |  Johan Van Den Berg  |  Klimaat  |  Reën  |  Mielies  |  Droogte  |  Klimaatsverandering  |  El Niño
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.