Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Rekord-graanoeste word verwag

Die nasionale oesskattingskomitee het bekend gemaak dat hy vanjaar ’n rekordoes vir die meeste somergraangewasse verwag en dat ’n groter mielie-, peulgewas- en sorghum-oes as verlede jaar te wagte kan wees.

Die mielies in die Noordwes-Vrystaat groei hemel toe. Hier swem eende in ’n plaaspad deur mielielande tussen Wesselsbron en Hoopstad. Dit is een van die beste mielieoeste op die land tot nog toe in Suid-Afrika. Foto: Charles Smith

Sonneblom is die enigste gewas waarvan daar minder aanplantings as in 2020 was en ’n kleiner oes word verwag.

Werner Rossouw van die landboumaatskappy Silostrat sê boere het minder sonneblom geplant, omdat dit dié seisoen vroeër gereën het en hulle dus genoeg tyd gehad het om mielies te plant.

Die planttyd vir mielies is korter as vir sonneblom.

Boere het volgens die jongste inligting 5,3% of 66 100 ha meer mielies as in 2020 geplant, maar na verwagting sal 3,59% meer mielies as verlede jaar geoes word.

Die verwagte opbrengs van 5,76 ton per ha is dus minder as verlede jaar se gemiddeld van 5,86 ton/ha.

Goeie graanoeste word vanjaar verwag. Foto: Charles Smith

Die verwagte kommersiële mielieoes is 15 848 960 ton, wat 3,59% of 548 960 ton meer is as die 15 300 000 ton van die vorige seisoen.

Indien dié oesskatting akkuraat is, sal dit die naasgrootste mielieoes wees wat nog in Suid-Afrika geproduseer is.

Die oppervlakskatting vir sonneblomsaad is 474 800 ha, wat 5,10% of 25 500 ha minder is as die 500 300 ha wat die vorige seisoen aangeplant is.

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 712 940 ton, wat 9,58% of 75 560 ton minder is as die 788 500 ton van die vorige seisoen.

Die verwagte opbrengs is 1,50 ton/ha.

Boere het vanjaar heelwat meer sojabone geplant.

Volgens die komitee is 826 500 ha sojabone geplant wat 17,23% meer is as die 705 000 ha verlede jaar.

Boere het vanjaar minder sonneblom geplant omdat dit vroeg gereën het, wat beteken hulle het genoeg tyd gehad om mielies te plant. Foto: Charles Smith
By Bultfontein het dit in Januarie so baie gereën dat van die mielielande lank onder water was. Dié mielies sal nie so ’n goeie opbrengs lewer nie. Foto: Verskaf

Sojaboonboere verwag ’n beter opbrengs as verlede jaar en sal na raming 30% meer bone oes.

Die volgende produksieskatting vir somergewasse word op 25 Maart bekendgestel.

Jan van Biljon, ’n boer van Viljoenskroon, meen die oesskatting is in die kol.

Boere in dié gebied was in ’n stadium bekommerd dat die mielies sou versuip, maar die reën het toe langer as voorspel weggebly, wat gehelp het dat die meeste lande “afgedroog” het.

Bultfontein se boere is egter nie so gelukkig nie en dié gebied, wat jare lank onder droogtes gebuk gegaan het, het vanjaar groot vloedskade beleef.

Danie du Plooy sê hy verwag dat die meeste boere hier ’n gemiddelde oes sal hê met hier en daar ’n bogemiddelde opbrengs.

Heelwat boere by Bultfontein het waterskade gehad en daar is boere wie se mielies weens waterskade gevrek het.

“Hier is blokke mielies wat mooi is, maar dit is nie almal nie,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.