Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Rekord op rekord vir SA se boere

Dit gaan voortreflik met die landbousektor in Suid-Afrika.

Die argieffoto wys geil mielielande in Noordwes. Suid-Afrika se kommersiële mielieoes vanjaar word op 15,53 miljoen ton geskat terwyl die gemiddelde jaarlikse binnelandse verbruik 11,2 miljoen ton is. Foto: Theane Breugem

Nie net is dit die enigste ekonomiese sektor wat in die tweede kwartaal vanjaar gegroei het nie, maar die bedryf se handelsurplus was in die tweede kwartaal ook 32% hoër as ’n jaar gelede, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

Dié data wys die land kon sy handel in stand hou ondanks vrese dat Covid-19 en gedempte vraag die sektor sou knou, skryf Sihlobo in sy weeklikse markoorsig wat Maandag op Agbiz se webblad gepubliseer is.

Die uitvoer van onder meer sitrus, wyn, mielies, suikerriet, appels, pere, druiwe, avokado’s en macadamianeute het landbou-uitvoer laat groei.

Volgens Sihlobo sal dit na verwagting vir die res van die jaar voortduur danksy onder meer rekord-sitrusuitvoer van 142,6 miljoen kartonne vir die jaar – ’n styging van 12% op ’n jaargrondslag – wat voorsien word.

Agbiz verwag ook Suid-Afrika sal vanjaar 2,7 miljoen ton mielies uitvoer, wat 89% meer is as die vorige jaar.

Landbou-uitvoer kan van $9,9 miljard in 2019 tot meer as $10 miljard vanjaar styg. Buiten hoër graan-, groente- en vrugte­lewerings, sal ’n swakker geldeenheid teenoor die dollar ook bydra tot die verwagte styging, skryf Sihlobo.

Die Amerikaanse departement van landbou verwag die Suid-Afrikaanse totale mielieoes sal in die 2020-’21-seisoen 14 miljoen ton wees.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Oesskattingskomitee verwag in die huidige seisoen ’n kommersiële mielieoes van 15,53 miljoen ton, wat 38% groter is as die 2019-oes.

K

Volgens Sihlobo is dit te vroeg om te sê wat in 2020-’21 kan gebeur omdat syfers oor die oppervlakte wat plaaslike boere wil aanplant eers volgende maand beskikbaar sal wees. In hierdie stadium word bogemiddelde reën in die komende seisoen verwag en saam met hoër pryse, kan dit boere aanmoedig om meer te plant.

Indien so ’n oes realiseer, is dit ver bo die tienjaargemiddelde van 12,9 miljoen ton in Suid-Afrika, terwyl die plaaslike jaarlikse verbruik sowat 11,2 miljoen ton is.

Intussen is die verwagte hoër koringoes ter wêreld goeie nuus vir Suid-Afrika as ’n invoerder van koring. Die hoër aanbod beteken laer pryse op mediumtermyn.

Die afgelope tien jaar het Suid-Afrika gemiddeld 51% van sy jaarlikse koringverbruik van sowat3,1 miljoen ton ingevoer. Dít kan laer wees in die 2020-’21-seisoen omdat die plaaslike koringoes van ’n geskatte 1,96 miljoen ton die grootste in ’n dekade sal wees, volgens Sihlobo.

Paul Makube, landbou-ekonoom van FNB, sê ’n kombinasie van ’n goeie oes, ’n relatief swakker wisselkoers en sterk vraag na uitvoerprodukte het bygedra tot landbou se groei van 15% in die tweede kwartaal.

Die goeie oesvooruitsigte vir somer- en wintergewasse en goeie kommoditeitspryse kan help dat die BBP van die landbousektor sy huidige momentum in die oorblywende twee kwartale van 2020 behou.

Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, sê in ’n verklaring landbou is tydens die staat van inperking as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer en bedrywighede het ook onder vlak 5 voortgegaan.

Volgens Agri SA behoort die landbousektor erkenning te kry vir sy weerstandigheid, maar pleks dat politici dié vermoë koester, “word die sektor uitgelewer aan allerhande politieke retoriek wat onsekerhede skep en die sektor se vermoë om ekonomies te groei, afbreek”.

Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid: ekonomie en handel, sê die sektor kan nog sterker groei en sy potensiaal verder ontwikkel word met groter beleidsekerheid.

“Die politieke arena sal dit moet besef en toepas.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.