Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Rekordprys vir viertand-merino betaal
Die merino-ram Incredible van Jacques Pienaar (heel regs) se Mega Merinos in Colesberg het vanjaar ’n rekordprys op die Nasionale Merino-veiling in Graaff-Reinet behaal. Van links is Speelman Ramyisa, hanteerder, Louis Slabbert, Pienaar se skoonseun, Jaco en Lorette Wessels, die kopers, Lara Slabbert, Pienaar se dogter, en Pienaar by Incredible.Foto: Verskaf

Met ’n naam soos Incredible is jy mos vir niks anders nie as net die beste bestem.

Dit het Incredible, ’n viertandram (twee jaar oud), van Mega Merinos op Colesberg onlangs op die Nasionale Merino-veiling op Graaff-Reinet bewys toe hy vir ’n Suid-Afrikaanse rekordprys van R170 000 verkoop is.

Die verkoper, Jacques Pienaar, sê dié ram van 158 kg het die aandag behoorlik in die ring getrek en bieërs het omtrent gespring om hul hande op hierdie pragdier te kan lê.

Jaco en Lorette Wessels van Kroonstad was die gelukkige kopers.

Die Mega Merino-stoet het ook ander ramme teen uitstekende bedrae verkoop. Povider is teen R78 000 deur Sias Scheepers van Fouriesburg gekoop, Xtreme is teen R54 000 aan Sinon de Jager van Heidelberg in die Wes-Kaap verkoop, en Mega Phenomenal is teen R32 000 aan S. Shai van Lesotho verkoop.

Nege Mega Merino-ramme is teen ’n gemiddeld van R46 000 verkoop.

Pienaar spog ook met die rekord vir die swaarste ram nóg op dié veiling. Mega Phenomenal (viertand) het die skaal op ’n allemintige 170 kg laat kreun.

Pienaar sê hy is verheug oor sy sukses op die veiling.

“Dit is net met die groot genade van God en Sy seëninge wat ons dié sukses behaal,” sê hy.

Pienaar sê sy oupa, JJ Pienaar, het destyds gereeld ramme na die Nasionale Merino-veiling geneem, maar toe sy pa die stoetery oorneem, het hy meer op die vroulike diere gefokus.

“Ek het onlangs besluit om die tradisie van Mega Merino-ramme op die veiling voort te sit. Ek moes dus as ‘nuwe teler’ heel onder begin en voel werklik trots om binne die eerste jaar reeds met die jongste Suid-Afrikaanse rekord te kon wegstap.”

Klipplaatsfontein is die tuiste van die Mega Merino-stoet. Die plaas behoort reeds sedert 1887 aan die familie.

Andries Du Toit Pienaar het sy stoetery in 1907 daar as suiwer Merino geregistreer. Sy drie seuns, Willie, Jan en Jim, het die goeie werk met sukses voortgesit.

Die stoetery word tans deur Andries Du Toit Pienaar en sy seun, Jacques, voortgesit.

Die stoetery se lys prestasies is lank en sluit in Skaapboer van die Jaar (alle rasse) in 2010 en ’n rekordgetal aanwysings as Teler van die Jaar (alle rasse). Mega Merinos is 19 uit 21 keer as die land se top-merinoteler aangewys.

Pienaar sê hy hoop om volgende jaar selfs beter op dié veiling te doen. Hy glo dat sy ram Believer volgende jaar nog meer as Incredible sal beïndruk. En met dié gepaste naam, kan ’n mens dit maar glo.

Meer oor:  Merinoram  |  Viertandram  |  Rekordprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.