Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Rhodes se blikkieskos vaar goed in inperking

Die voedselprodusent Rhodes Food Group, bekend vir Rhodes-konfyt, Wilde-vrugtesap en Bull Brand-boeliebief, waarsku die Covid-19-inperking het sy bedryfswins erg geraak.

Blikkieskos soos die Rhodes Food Group se Bull Brand-boeliebief het goed gevaar tydens die inperking omdat mense nie so gereeld soos gewoonlik winkels toe wou gaan nie.

Die groep het in ’n handelsopdatering oor sy 11 maande tot einde Augustus gesê sy groepsomset het wel in die tydperk met 9% gegroei.

Die inperking het die vraag na langleweprodukte verhoog, en Rhodes het die vrugte daarvan gepluk danksy sy produkreeks van ingelegde vleis, vrugte en groente, asook droë kos soos soja. Die omset vir dié kategorie produkte het in Suid-Afrika en die res van Afrika met 10,3% gegroei, en volumes was 1,4% hoër vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die groter vraag na droë kos en blikkieskos is teengewerk deur ’n daling in vrugtesapverkope. Dit was veral te sien in die vyf maande sedert die begin van die inperking toe daar streng perke op enige vermaaklikheidsbedrywighede was en skole meestal gesluit was.

Die verkoop van die groep se pasteie (Magpie) het van April tot Junie skerp geval omdat geriefswinkels en vulstasiewinkels baie minder verkeer gehad het. Die regering het ook in sekere fases van die inperking die verkoop van warm maaltye verbied.

Die groep moes R7 miljoen bestee om sy pasteivervaardiging in KwaZulu-Natal by sy Pinetown-fabriek te konsolideer. Die pasteibakkery in Pietermaritzburg is gesluit. Rhodes moes ook R7,6 miljoen aan Covid-19-verwante uitgawes bestee.

Die groep het ingelegde vrugte gehad wat na China uitgevoer sou word aan die begin van 2020. Dit is toe wel aan ander markte gelewer, maar teen ’n laer winsmarge as wat tipies in die Chinese mark behaal sou kon word.

Die groep se uitvoer is geraak deur die opeenhopings in die Kaapse hawe aan die begin van die inperking.

Hoewel die swakker rand sy uitvoerinkomste gehelp het, is dit deels uitgekanselleer deur die verskansingsimpak van vooruitbespreekte valutakontrakte wat teen ’n laer wisselkoers vasgemaak is.

Die Rhodes Food Group verwag om sy resultate vir die boekjaar tot 27 September teen 17 November bekend te maak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.