Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Rosendal-boere boer met aspersies

Dit is ’n probleem dat opkomende boere plase van die regering kry, maar dan nie geld het om te begin boer nie, sê Tshidiso Maqala (56), ’n opkomende boer van Rosendal.

Maqala sê ook diegene wat plase kry, het nie die kennis om ’n volhoubare boerdery te bedryf nie. Hyself het onlangs die status van ’n kommersiële boer bereik.

Tshidiso Maqala, eienaar van die plase De Hoop en Kosmos in die Rosendal-distrik, saam met sy mentor, Francois Crause, in sy aspersielandery.Foto’s: Maricelle Botha

“Dit sal werklik baie help as die regering ook met opleiding vir nuwe boere kan help,” sê hy.

Maqala, eienaar van die plase De Hoop en Kosmos, is een van nege opkomende boere in die Rosendal- en Qwaqwa-distrikte wat deur die landboumaatskappy VKB en vennote gementor word.

Die mentorskapprojek wat deur VKB en die Graanboer-ontwikkelingsvereniging (GFADA) bestuur word, is in 2012 begin. Die projek streef daarna om volhoubare kommersiële boere te ontwikkel deur intensiewe opleiding en mentorskap, sowel as ’n program om geleidelik strukturele beperkings te oorkom.

Hulle probeer die tekort aan meganisasie, geen toegang tot finansiering en insette en swak grondstatus wat boerdery belemmer, te verminder.

Piet Potgieter, VKB se landbou-ontwikkelingsbestuurder, sê ten spyte van die uiterste droë tydperk van 2015 en 2016 het die boere wat deel van die projek vorm tot hoër vlakke van volhoubaarheid gevorder, en hulle was in staat om moderne graanboerderypraktyke te vestig.

“Hulle het goeie wins per hektaar grond, maar die totale wins per plaas het onvoldoende gebly om voorsiening te maak vir kritieke herbelegging en om ’n bestaan te handhaaf.”

Die boere het ’n gemiddeld van 90 ha tot 130 ha bewerkbare grond.

“Ons het bevind dit is te klein en hulle het nog sake-aktiwiteite en vertakkings nodig. Ons het toe met Denmar, Landbank en die Jobs Fund begin saamwerk om die hele projek op ’n hoër vlak te bedryf en om die boere se grondgebied uit te brei sodat hulle op ’n groter skaal kan boer. Aspersies is by die boerderye geïnkorporeer as ’n hoëwaarde- en langtermyn- (13 jaar) oes om inkomste te verhoog.

“Die aspersielanderye is op addisionele grond wat gehuur word, gevestig.”

Potgieter sê met die uitbreiding van die boere se produkmengsel, is daar die potensiaal om die boer se inkomste te verdubbel en sy volhoubaarheid te verhoog.

Tshidiso Maqala wys hoe ’n aspersie lyk voordat dit geoes word.

Behalwe vir vyf boere van Rosendal se plase, besit elkeen ook 15 ha van die 75 ha-huurgrond by Rosendal.

“Ons streef daarna dat die boere sowat 70% eie kapitaal het en 30% skuld,” sê Potgieter.

Maqala sê hy was aanvanklik maar skepties oor die aanplant van aspersies, maar het sommer gou gesien dat daar ’n goeie inkomste daaruit is.

“Ons sal vooruit boer met die aspersies, wat beteken dat ons binnekort ook ons lenings sal kan afbetaal,” sê hy.

Maqala het sedert 2012 groot sukses met sy boerdery gehad. Hy het reeds ’n tweede plaas gekoop en is in 2017 en vanjaar aangewys as die naaswenner in Graan SA/Monsanto se Potensiële Kommersiële Boer van die Jaar-kompetisie.

Maqala skryf sy sukses toe aan Francois Crause, die man wat die opkomende boere as die middelpunt van hul mentorskapprogram beskou.

Crause en Maqala het saam in die Rosendal-distrik grootgeword.

Voordat Crause en Maqala by die VKB-mentorskapprojek betrokke geraak het, het Crause reeds sy buurman begin help toe hy sien dat Maqala ’n bietjie swaar trek.

“Ek het gesien hy sukkel en ek wou hom graag help. Dit is baie lekker om kennis oor te dra en om ander te help. Die heel lekkerste is om die sukses en die vooruitgang te kan sien,” sê Crause.

Maqala en Crause is dit egter eens dat samewerking tussen kommersiële en opkomende boere die toekoms van gesonde landbou in Suid-Afrika is.

Meer oor:  Opkomende Boere  |  Boere  |  Regering  |  Plase
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.