Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Ryp in Brasilië jaag prys van koffie, suiker op

Koffiedrinkers oor die wêreld heen gaan waarskynlik die prys betaal nadat vernietigende ryp Brasilië se landboustreke getref het.

Koffiepryse gaan dalk styg weens die tekort aan bone wêreldwyd. Foto: Starbucks

Die gure weer kan ook die prys van suiker verder opjaag omdat ook dié produk skaarser kan raak.

Twee voorvalle van ryp het Brasilië, die grootste vervaardiger van Arabica-koffiebone ter wêreld, vroeër vandeesmaand – met die mees onlangse voorval op 20 Julie – getref.

Die prys van Arabica-koffiebone het intussen in New York tot die hoogste vlak sedert 2014 opgeskiet.

Volgens Bloomberg word verwag dat Arabica se prys in Julie met altesaam 25% kan styg.

Nog ryp word boonop vanaf Vrydag voorspel juis in die streke in Brasilië waar suikerriet en koffie die meeste verbou word.

Die deelstaat São Paulo is die wêreld se grootste gebied waar suikerriet en lemoenbome groei, en die deelstaat Minas Gerais is eerste op die wêreldlys se verskaffers van Arabica-bone.

Die stygende pryse van Arabica-koffie in New York het ook die pryse van Robusta-koffie in Londen tot die hoogste sedert 2017 opgestoot.

Viëtnam, die wêreld se grootste verbouer van Robusta-koffie, is egter nie die antwoord om die dreigende tekort aan koffie uit Brasilië aan te vul nie. Sy eie voorraad is onder druk omdat boere nie genoeg bone kan lewer nie en Covid-19-infeksies in die land toeneem.

Kenners verwag dat die prys van Robusta-koffie in Julie met 13% gaan styg.

Koffieliefhebbers wat Arabica-bone verkies, moet dalk maar begin om voorraad bymekaar te maak omdat tekorte aan bone uit Brasilië dreig. Foto: Unsplash

Boere in Viëtnam kla blykbaar dat hulle geen koffiebone oor het om te verkoop nie. Dié situasie duur nou al langer as ’n maand.

“Boere sê hul koffiebone raak nou min en hulle kan dus nie uit die stygende koffiepryse voordeel trek nie,” sê Do Ha Nam, voorsitter van Intimex Group, ’n skeepsvaartmaatskappy.

Die knaende tekort aan vraghouers wat die wêreld se skeepsbedryf teister, kan albei variëteite se verskeping knou.

Die stygende pryse van verskepingskoste help ook nie.

Dit kan tot $10 000 kos om ’n vraghouer vanaf Viëtnam na Europa te stuur, wat ses keer meer is as wat dit verlede jaar gekos het.

Uitvoer uit Viëtnam gaan moontlik tot in September aanhou daal. – Bloomberg

Meer oor:  Brasilië  |  Landbou  |  Koffie  |  Suiker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.