Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
SA boere kla oor bloubessie-‘boelies’

Dis nie net Chris Rossouw en sy broer Charles wat in ’n dispuut gewikkel is met die Australiese vrugte-uitvoerder United Exports oor die produksie en uitvoer van bloubessies nie.

Bloubessies wat verpak is onder United Exports se geregistreerde handelsnaam OzBlu.

’n Hele paar ander Suid-Afrikaanse bloubessieboere kla oor beperkende reëls in hul kontrakte met United Exports vir die gebruik van hul plantmateriaal.

Die meeste boere wou anoniem bly uit vrees vir viktimisasie. Een boer sê hy is spyt dat hy ’n paar jaar gelede met United Exports begin sake doen het, want hy het reeds miljoene rande belê in aanplantings van hul bloubessie-kultivars, en dit is nie so eenvoudig om na ’n ander verskaffer oor te skakel nie.

Nog ’n boer het vertroulik bevestig hy oorweeg regstappe teen die maatskappy. Die grootste klagtes is dat boere verbied word om enige ander variëteit bloubessie aan te plant as hulle eers United Exports se plantmateriaal gebruik, dat hulle aan niemand anders hul bloubessies mag verkoop as dit nie voldoen aan United Exports se standaarde nie, en dat daar geen deursigtigheid is oor die verskil tussen die finale verkoopprys en die prys wat die boere in hul sak kry nie. Boere mag net aan United Exports se pakhuise lewer. Bloubessies wat afgekeur word vir uitvoer mag nie eens plaaslik verkoop word nie maar moet weggegooi word, word beweer.

Een boer sê hy het nege tot 12 verskillende variëteite bloubessies aangeplant, maar net twee aard goed in sy omgewing. Maar nou mag hy nie enige ander soorte aanplant sonder om kontrakbreuk met United Exports te pleeg nie. Hy is in effek ’n gevangene van dié maatskappy en moet maar net die prys aanvaar wat United Exports bereid is om aan hom te betaal vir sy oes.

Wie is United Exports?
  • Die onderneming is in 2002 aanvanklik as ’n vrugte-uitvoerder begin, maar doen vandag alles van plantteling tot produksie, verwerking en uitvoer. Hy het plase of ander boere wat vir hom lewer in Suid-Afrika, Amerika, Peru, Zambië, Australië, Chili, Mexiko en Spanje.
  • Hy het belange in planttelersprogramme vir bloubessies, perskes, kersies en amandels.
  • Die groep se spogproduk is die OzBlu-bloubessie, wat geteel is deur Dave en Leasa Mazzardis van Perth in Wes-Australië.
  • Sy Suid-Afrikaanse kantore is in die Paarl en Johannesburg, en hy het ook kantore in Australië, Mauritius, Mexiko en Brittanje.

Chris, ’n oud-Springbokhaker wat deel was van 1995 se Wêreldbekerrugby-wenspan, is die direkteur van Ross Berries, wat in ’n dispuut met United Exports gewikkel is nadat Nederlandse doeanebeamptes al twee keer in die Rotterdam-hawe op vraghouers van hul bloubessies beslag gelê het.

United Exports voer aan Ross Berries het tot Mei vanjaar ’n lisensieooreenkoms gehad om bloubessies onder sy handelsnaam te produseer, maar die lisensie is toe beëindig. Volgens United Exports is alle bloubessies wat dus daarna deur Ross Berries uitgevoer is, onwettig bemark. Maar Chris se broer Charles, direkteur van Ross Berries se sustersmaatskappy Rosle, het Maandag aangevoer ’n tussentydse ooreenkoms geld om bloubessies wettig uit te voer.

Bedryf nog klein in SA
  • Die bloubessiebedryf in Suid-Afrika is nog relatief klein, maar groei vinnig. Tot 70% van alle produksie word uitgevoer, en in 2018 is meer as 8 000 ton bloubessies uitgevoer, volgens ’n studie van 2019.
  • Die waarde van produksie het van R15,8 miljoen in 2008 tot R1,25 miljard in 2018 gegroei, volgens dieselfde studie.
  • Die sowat 2 000 hektaar landbougrond onder bloubessies lewer ’n totale oes van sowat 11 300 ton per jaar.

United Exports sê in ’n mediaverklaring hy wil oor die volgende vyf jaar sy belegging in Suider-Afrika met meer as R1,3 miljard vergroot, wat tot 8 400 nuwe werkgeleenthede in landelike gebiede kan lei. Hy het plase in Noordwes, Limpopo en die Wes-Kaap waar die onderneming self bloubessies produseer.

Ross Berries en Rosle meen United Exports se eise oor hul reg op die produksie en uitvoer van bloubessies is sonder regsgronde en bloot ’n deel van sy poging om die hele bloubessie-verskaffingsketting te beheer. Dit impliseer ook dat daar moontlike prysvasstelling kan wees, wat teen Suid-Afrika se mededingingswetgewing is.

Hulle voer aan die Nederlandse doeaneowerhede se beslaglegging van hul besending bloubessies was onwettig, en ’n onregstreekse poging van United Exports om Suid-Afrikaanse bloubessieboere en -uitvoerders te intimideer.

Verdere vrae is aan United Exports gestuur oor die bewerings van boeliegedrag, en die antwoorde sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.