Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
SA se topveeboere glo in toekoms

Daar is twee dinge waaroor Suid-Afrika se twee topveeboere saamstem: die noodsaak van die onderlinge ondersteuning in ’n familieboerdery, en betrokkenheid by die gemeenskap.

Andrew Jordaan van Cradock in die Oos-Kaap en Patrick en John Eustace van Underberg in KwaZulu-Natal, is onderskeidelik as skaapboer- en as beesboer van die jaar, aangewys.

Voermol se nasionale Bees- en Skaapboer van die Jaar is op 13 November in Bloemfontein op ’n spoggeleentheid aangekondig.

Dit is die 16de keer dat Voermol sy nasionale Beesboer van die Jaar aanwys en die 15de keer sy Skaapboer van die Jaar.

Andrew Jordaan, Skaapboer van die Jaar, saam met sy vrou Rykie, Philip Strydom, besturende direkteur: Voermol, en Jemma en John Eustace, Beesboer van die Jaar. Foto: Maricelle Botha

2018 se Skaapboer van die Jaar

Jordaan, van die plaas Spekboom, boer met merino’s en dormers. Dié familieboerdery waar hy saam met sy pa, Andrew, en sy broers, Wilhelm en Ginkel, boer, gee die pas aan in die skaapbedryf deur onder meer al 30 jaar lank laparoskopie te gebruik om ooie te insemineer. Tesame met grondige voedingspraktyke en bestuursbeginsels bereik die boerdery ’n lampersentasie van tot 170.

Benewens merino’s boer die Jordaans ook met dormers, holstein-fries- en boranbeeste, en hulle plant mielies. Die Jordaans het twee lamtye, asook ’n derde winterlamtyd vir ooie wat klaar gelam het en laparoskopies behandel word.

Die volwasse ooie word in die suur bergveld hoog bo seevlak gedek, waar goeie besetting op die platogedeelte bereik word. Die dragtige ooie word later die sowat 60 km terug na Spekboomberg aangejaag om twee weke later op die besproeide weiding te lam. Die kudde-ooie word natuurlik gedek met een ram per 30 ooie. Die onlangse besetting van die kudde-ooie was sowat 97% met 63% meerlinge, teenoor ’n gemiddelde langtermyn-besetting van sowat 91%. Die jong ooie word al op 12 maande laparoskopies bevrug. Hulle oorwinter in die veld. Sowat ses weke voor paartyd word hulle verskuif na die weidings waar hulle teen skadelike diere beskut is. Die skaapbestuur word aansienlik vergemaklik deur die gebruik van radiofrekwensie-identifikasiestelsels (RFID), waarmee die Jordaans ’n voorloper was. ’n Groot persentasie van die ramnageslag word as teeldiere gebruik. Die teelmateriaal van aanvullende bloedlyne word soms op nasionale veilings aangeskaf. Jordaan het drie jaar gelede Australiese poena-teelmateriaal in saadvorm bekom om die plaaslike agterstand te probeer uitwis. “Om ingeligte besluite te neem, moet jy goeie aantekeninge hê,” sê Jordaan. Hy meen hul rekordhouding is só dat hy nou makliker kan bepaal wat die stoetery kortkom. Op dié wyse konsentreer hy op vrugbaarheid en die balans tussen wol- en vleisproduksie. Die hoofdoel bly om ’n unieke kudde met die beste 40% van die diere op te bou. In die skaapafdeling gebruik hulle lamhokstelsels en laparoskopie om die grootste getal lammers groot te maak. Jordaan beskou dié prys as die hoogste eer in dié bedryf. “Ek besef ek sal nog harder moet werk, want prestasies hou nooit op nie. Jy moet aanhou met wat jy doen en steeds probeer verbeter, anders stagneer jy.”

Hy sê landbou in Suid-Afrika is tans in sy moeilikste tyd nog. “Ek dink ons is tans op ’n naaldpunt. Ek bly positief, ek glo as die politieke situasie in ons land uitsorteer word, sal ons kan begin opbou. Ons moet besef Suid-Afrika is die ‘Deur na Afrika’, voedselproduksie is belangrik. Afrika het die potensiaal om die wêreld te kan voed en is nog so ongerep. Ons moet hande begin vat en die wa deur die drif trek.”

Jordaan se raad aan ander is om te onthou in boerdery is daar eintlik net twee belangrike faktore, om jou verliese en insette te beperk. As jy dit kan beheer, maak jy geld, en geld in jou sak is waarna elke boer strewe.

2018 se Beesboer van die Jaar

John boer saam met sy pa, Pat, op die familieplaas, Moyeni. Die gedugte Eustaces-pa-en-seun-paar boer met brahmaan- en herefordkruisings, bekend as die braford.

John, gebruik soms kunsmatige inseminasie, maar andersins die beste bulteelmateriaal wat hulle kan bekom. In hul brafordkudde word brahmaanbulle gebruik. Herefordbulle word by die brahmaan-tipe koeie gebruik, terwyl die hereford-tipe koeie deur brahmaanbulle gedek word.

“Ons is baie hoog in die Drakensberg geleë. Dit kan baie koud raak, so ons moet met goeie gehalte diere teel wat die toestande kan verduur. Ons voel die braford is gehard vir dié uitdagende omstandighede,” sê John.

John is die derde geslag op die plaas nadat sy oupa, Charles, hom in 1936 in die distrik gevestig het. Hulle was aanvanklik hoofsaaklik veeboere, maar die afgelope dekade of twee maak gewasverbouing sowat 40% van hul boerderyinkomste uit, met skaap- en beesvleisproduksie wat om die helfte die res uitmaak. John se ekstensiewe veeboerdery maak staat op die natuurlike weiveld op dié bergagtige plaas. Die koeie begin in Augustus vir ’n tydperk van drie maande kalf wanneer hulle na die laer geleë dele verskuif word met ’n rantsoen van hooi en mielie- en boontjiereste. Klein troppe beeste word gebruik om die berg-koperdraadgras te bewei wat opgekom het nadat kampe van 15 Julie af gebrand is. Namate die koeie kalf, word die kalwers na die somerveld uitgeplaas. Die groepe op die bergtoppe word tot troppe van 150 volwasse koeie of eerstekalfkoeie van tot 100 beperk. Die beeste word ingevolge ’n driekampstelsel elke twee weke afgewissel. Die skape word volgens ’n seskampstelsel ingedeel, wat beteken dat een trop skape saam met twee troppe beeste ingedeel word, wat weekliks agter die beeste afgewissel word. Aangesien Pat en John ’n buurplaas bekom het, kan hulle elke tien jaar ’n kampstelsel ’n jaar lank laat rus. Die kampe is gemiddeld 100 ha elk.

Die kalwers word in April gespeen en sal in Mei na die winterweiding met ’n winterlek van 35%-proteïene op die veld verskuif word. John mik na ’n besettingsyfer van minstens 85%. Die uiterste toestande in die berge en die voorkoms van skadelike diere beperk die speensyfer van die kudde vanaf ’n suksesvolle dragtigheidstoets tot 90%, wat beteken dat die boerdery jaarliks heelwat kalwers as gevolg van die geharde toestande inboet. John rond ál sy uitskotdiere in ’n voerkraal af. Die ligter kalwers word tot sowat 220 kg afgerond op raaigras wat tussen die mieliereste geplant is.

John meen een van hul groot suksesse is die goeie gebruik van natuurlike hulpbronne. “Ons probeer om die veld so goed as moontlik te gebruik. Dit sny koste en ek dink dit is waarmee ons goed doen.”

Hy glo daar is ’n toekoms vir jong opkomende boere. “As jy bereid is om jou hande vuil te maak en betrokke te raak, dan is daar beslis ’n toekoms. Reg oor die wêreld is Suid-Afrika een van die mees vooraanstaande lande as dit by boerderygeleenthede kom. Ons land benodig kos en voedselsekerheid en solank mense toegewyd is om goeie kwaliteit kos te produseer, is daar ’n bydrae te lewer.”

Die beoordelingsproses

Waardetoevoeging, die optimale benutting van tegnologie en goeie bestuur van natuurlike hulpbronne het vanjaar se finaliste onderskei, sê dr. Buks Olivier, veekundige en een van die kompetisie-beoordelaars.

“Vanjaar se kompetisie was uitsonderlik in ’n paar opsigte. Beesboere uit vyf provinsies is benoem en skaapboere uit ses. Dit is verder uitsonderlik dat die drie topbeesboerfinaliste uit KwaZulu-Natal kom. Ek dink dit is die eerste keer dat twee topfinaliste boonop uit dieselfde distrik kom.”

Hy sê die wen-ondernemings het oor die laaste paar jaar betekenisvol gegroei en dit bewys dat waarmee hulle besig is ’n suksesverhaal is.

“Die wenners gebruik hul natuurlike hulpbronne optimaal en staan nie terug vir enige uitdagings wat die boerdery-omgewing bied nie. As ’n mens na hulle luister, kan jy hoor hoe hulle planne maak en wat hulle doen om hul boerdery suksesvol te maak. Albei se waardetoevoeging tot die primêre produk is uitstaande en doen met ander woorde meer as om net te produseer.” Die naaswenners in die skaapboerafdeling is Henry du Plessis van Waaifontein in die Kareedouw-distrik, en Andries Greyling van Humania in die Vrede-distrik. In die beeskategorie was die naaswenners Peter-John Hassard van Silvasands in die Hluhluwe­-distrik en Mark Anderson van Briarlea in die Underberg-distrik.

Meer oor die kompetisie

Toe die kompetisie sowat 17 jaar gelede geformuleer is, is drie hoofdoelwitte gestel, verduidelik Philip Strydom, besturende direkteur van Voermol.

Eerstens was die doel om inligting te versamel, veral van kommersiële bees- en skaapboere en om die inligting van kalfpersentasies, speenpersentasies, speenmassas en ook die ekonomie van veeboerdery in Suid-Afrika te kry. “Ons wou ’n idee kry wat die syfers is, want op daardie sta­dium het ons nie ’n goeie idee gehad wat in die bedryf gebeur nie. Dit het gehelp om doelwitte en maatstawwe in te stel waarna boere moet mik.”

Oor die jare is ongeveer 500 boere van reg oor die land se inligting versamel. Strydom sê hulle het nou ’n goeie idee van die verskillende rasse en wat in die verskillende streke aan die gang is.

Die tweede doelwit was om die suksesverhale in die landboubedryf te kommunikeer en inligting oor te dra waaruit geleer kan word. Derdens was die doel van die kompetisie om dankie te sê aan boere in die land, veral die veeboere. “Dankie vir wat hulle vir die ekonomie en landbou doen.”

Meer oor:  John Eustace  |  Patrick  |  Andrew Jordaan  |  Cradock  |  Underberg  |  Topboere  |  Landbou  |  Beesboer  |  Skaapboer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.