Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
SA sitrus land vir 1ste keer in losmaat in China

Pomelo’s van Suid-Afrika word nou in losmaat na China uitgevoer.

Die eerste verskeping van Suid-Afrikaanse sitrus in ’n losmaat-vragskip het Maandag in die hawe van Sjanghai in China aangekom, het die departement van landbou Dinsdag bevestig.

Mashudu Silimela, landbouattaché van Suid-Afrika in China, en Mpho Hlahla, Suid-Afrikaanse konsul-generaal in Sjanghai, op die hawe Maandag met die aankoms van die eerste Suid-Afrikaanse sitrus wat in ’n losmaatvragskip na China uitgevoer is. Foto: Departement van landbou

Die skip die Baltic Summer het op 6 Mei met 5 200 ton sitrus uit die Durbanse hawe vertrek.

Sitrus word gewoonlik in verkoelde skeepshouers verpak en dan in ’n houerskip uitgevoer, maar weens opeenhopings en bottelnekke in die Durbanse hawe is besluit om losmaat-vragskepe te probeer.

Die Baltic Summer is ’n sogenaamde “reefer”, ’n vragskip waarvan die hele vragruim verkoel is.

Om die losmaat-vragskip te gebruik het egter uitgebreide onderhandelings met die Chinese owerhede gekos weens hul streng reëls oor sanitêre en fitosanitêre standaarde. Dit is maatreëls oor hoe vrugte internasionaal vervoer word om te sorg hulle siektevry is en nie siektes na ander dele van die wêreld versprei nie.

Thoko Didiza, minister van landbou, het die departement van landbou Dinsdag gelukgewens met die suksesvolle onderhandelings met die Chinese wat die gebruik van die losmaat-vragskip moontlik gemaak het. Die eerste ooreenkoms tussen Suid-Afrika en China oor die fitosanitêre standaarde vir sitrusuitvoer na China is in 2006 gesluit, maar dit het voorgeskryf dat die sitrus in afsonderlike verkoelde vraghouers verpak moet word eerder as in ’n losmaat-vragruim.

Die deurbraak beteken groei vir die sitrusbedryf en die skep van meer werk, sê die departement van landbou in ’n verklaring.

Die gebruik van losmaat-vragskepe sal bottelnekke in die Durbanse hawe help verlig.

Mpho Hlahla, die Suid-Afrikaanse konsul-generaal in Sjanghai, en Masudu Silimela, Suid-Afrikaanse landbouattaché in China, was Maandag by om die vragskip in die Sjanghaise hawe te verwelkom. Die Baltic Summer se sitrusvrag is sonder probleme met sanitêre en fitosanitêre kwessies in die hawe aanvaar.

Meer oor:  China  |  Baltic Summer  |  Uitvoer  |  Vrugte  |  Sitrus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.