Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
SA ‘vliegboer’ brei na Kalifornië uit

AgriProtein, ’n onderneming van Stellenbosch wat vlieglarwes as vis- en hoenderkos produseer, gaan na Amerika uitbrei.

AgriProtein gebruik die swartvlieg se larwes om proteïene van hoë waarde te produseer. Foto: AgriProtein

AgriProtein wil volgende jaar ’n aanleg bou in Kalifornië waar vlieglarwes organiese afval opvreet. Die larwes word dan verwerk tot hoëgraadse proteïene wat as voer vir visse en pluimvee gebruik word.

Die aanleg in Jurupa Valley in Kalifornië sal as deel van AgriProtein se internasionale uitbreidingsplanne met aanlegte in Nederland en België opgevolg word.

Jurupa Valley is ’n buurt van San Bernardino naby Los Angeles.

Jason Drew, uitvoerende hoof van AgriProtein, sê die larweplaas in Kalifornië sal gegrond wees op sy bestaande aanleg in Philippi in Kaapstad, waar sowat 250 ton organiese afval daagliks deur vlieë verwerk word.

Die vlieglarwes word dan geoes en dit lewer 4 000 ton proteïenmeel per jaar. Op enige gegewe tyd is daar 8,4 miljard vlieë in die aanleg, wat larwe-eiers insluit.

’n Bemarkingsfoto van AgriProtein wat wys hoe sy eindproduk lyk wat as MagMeal as voer aan vis- en pluimveeboere bemark word. Foto: AgriProtein

Die aanleg lewer ook 3 500 ton van ’n soort vetsuurolie en 16 500 ton larwemis, wat as bemesting gebruik word.

Dit gaan sowat $42 miljoen kos om elke aanleg te bou, en dit kan jaarliks ’n omset van $13 miljoen tot $15 miljoen genereer, volgens Drew.

AgriProtein is egter nie meer die enigste nywerheidskaal-produsent van insekproteïene nie. Sy mededingers is Protix van Nederland, Ynsect en Innova Feed van Frankryk, Enterra Feed in Kanada en EnviroFlight in Amerika.

Om met inseklarwes te boer is toenemend in die mode omdat dit omgewingsvriendelik is en die potensiaal het om sterk te groei, sê Drew.

AgriProtein word deur private beleggers besit, met die Insect Technology Group as die beheermaatskappy.

Beyhan de Jong, ’n ontleder van Rabobank in Nederland, sê die larwebedryf is aantreklik omdat dit afval van lae waarde in proteïene van hoë waarde omskep.

Terwyl al die maatskappye in die bedryf hul eie fabrieke bou, is AgriProtein die ander vooruit met internasionale uitbreiding.

Akwakultuur word as die primêre mark vir larwemeel beskou. Die larwevoer kan uiteindelik vismeel vervang wat van visafval gemaak word. Jaarliks word 20 miljoen ton vismeel geproduseer.

Die Europese Unie het strenger reëls oor watter soort afval gebruik kan word om larwes mee te produseer en in watter vorms die insekprodukte aan diere gevoer kan word. Dit is dus moeiliker om larweplase daar as in Suid-Afrika of Kalifornië te begin.

In Europa word tans slegs afval van vervaardigingsprosesses toegelaat, terwyl Suid-Afrika afval van spyseniering soos kosafval van hospitale, hotelle en restaurante toelaat.

Die meeste van die maatskappye het ’n nederige begin gehad. Die gedagte om met AgriProtein te begin het ontstaan met eksperimente in 2008 op Drew se plaas in die Tulbagh-omgewing in die Wes-Kaap. Die aanleg buite Stellenbosch is in 2016 geopen.

Drew sê hulle sal teen volgende jaar meer kapitaal benodig om te kan uitbrei.

AgriProtein het ook ’n proefplaas in Durban waar vlieë op rioolafval en beesmis leef. Proeflopies is ook gedoen met miskruiers en wasmotte, wat potensieel plastiek kan opvreet, sê Drew.

Meer oor:  Agriprotein  |  Protix  |  Jason Drew  |  Landbou  |  Vlieglarwes  |  Vlieë
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.