Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sakesiening: Landbou groei as staat nie inmeng

Met sewe uit die laaste tien kwartale wat ’n negatiewe ekonomiese groeikoers gerealiseer het, voldoen die diep resessie waarin die ekonomie tans is, na my mening, aan die definisie van ’n depressie.

Johan Willemse

’n Ekonomiese depressie word beskryf as ’n voortdurende daling in die ekonomiese groeikoers (in negatiewe terrein), ’n voortdurende groei in werkloosheid en voortdurende afname in nywerheidsproduksie.

Daar is sekerlik baie opvattings hieroor. Aan die een kant staan die vakbonde, wat dreig en blaas dat daar baie meer ekonomiese inmenging deur die staat moet wees om die ekonomie te laat groei en herleef. Daarteenoor staan die ander skool van denke, wat bewyse toon dat waar die staat terugstaan uit ekonomiese aktiwiteite, is die kanse op ekonomiese groei en werkskepping baie groter.

Die staat moet die minimum noodsaaklike dienste so effektief moontlik lewer in ’n breë ondersteunende beleidsraamwerk, waar die privaat sektor dan kan voortgaan en werk en welvaart vir die land skep.

Daar is al baie berade hieroor gehou en skynbaar hou die teedrink-geselspartytjies nog aan – sonder ’n goeie uitkoms of einde in sig.

Die jongste bruto binnelandse produk en ekonomiese groeikoers toon in al die verskillende formate van meet en uitdrukking dat die hele land in ’n diep ekonomiese afgrond beland het met ’n jaarlikse geprojekteerde negatiewe groeikoers vir 2020 van 51% indien die tweede kwartaal se buitengewone omstandighede sou voortduur.

Die syfers is ’n resultaat van swak beleid en inmenging, in plaas van fokus op die beskerming van die ekonomie en werkgeleenthede. Die kabinet het te veel aandag gegee aan ongelooflik onnosel maatreëls, waarvan voorbeelde is die verbod op die verkoop van kortbroeke en ooptoonskoene asook warm maaltye in supermarkte.

Ek is nie vol hoop dat dieselfde kabinet en amptenare wat die onnosel inperkingsmaatreëls uitgedink het wat die ekonomie platgeslaan het, nou tot inkeer sal kom en ons op ’n snelle ekonomiese groeitrajek sal plaas nie!

Landbousektor

Hierteenoor het die landbousektor ’n jaarlikse geprojekteerde groeikoers van 15,1% vir die tweede kwartaal gerealiseer.

Dit was die enigste sektor met ’n positiewe ekonomiese groeikoers, wat deels te danke is aan die feit dat landbou in die inperkingstyd grootliks kon voortgaan met produksie- en verwerkingsaktiwiteite om verbruikers van voedsel te voorsien. Die beperkings op die verkoop van warm etes, die sluit van restaurante en die verbod op drank- en sigaretverkope het wel ook baie skade aan spesifieke bedrywe in die landbou aangerig.

Goeie landboutoestande wat in ’n groot deel van die somerreënvalgebied voorgekom het, asook goeie sagtevrugte- en sitrusuitvoere het wel ’n aansienlike positiewe bydrae gelewer.

Die vooruitsig vir landbou se ekonomiese groeikoers vir die tweede helfte van 2020 is tans ook positief, gemeet teenoor die tweede helfte van 2019.

Suid-Afrika gaan vanjaar ’n rekordhoeveelheid sitrus uitvoer.

Die tweede grootste mielieoes nóg is laat ingesamel en sal eers in die tweede helfte van die jaar in ekonomiese groei weerspieël word.

’n Rekord-sitrusoes en -uitvoer word ook nou gerealiseer.

Indien ’n mens die droogte-effek uit die landbou haal, is die landbousektor die sektor wat op ekonomiese gebied tans die beste daaraan toe is. Daar is wel nog gebiede wat erge droogte sonder staatsteun trotseer, asook die baie negatiewe impak van grootskaalse plaasmoorde en -aanvalle om kommersiële boere van hul plase te verdryf.

Die inperkingstyd het die belangrikheid van voldoende en bekostigbare voedsel aan die land se bevolking, van wie meer as 70% verstedelik is en voedsel dus van die winkelrakke af moet koop, as ’n strategiese sektor beklemtoon.

Suid-Afrika is die land in Afrika suid van die Sahara met die minste honger mense, ten spyte daarvan dat ander lande oor baie beter natuurlike hulpbronne beskik. Hulle beskik nie oor die entrepreneuriese en navorsingsvermoë van ons landbou met sy ondersteunende bedrywe in die privaat sektor nie.

Die landbousektor het die laaste aantal jare ontwikkel in ’n sterk uitvoerder van ’n verskeidenheid landbouprodukte, waar landbouprodusente poog om te diversifiseer weg uit die binnelandse mark om hoëwaarde-landbouprodukte uit te voer en voordeel uit die verswakkende randwisselkoers te trek.

In 2019 het landbou sowat R110 miljard se produkte uitgevoer. Dit is gelykstaande aan sowat 40% van die bruto produksiewaarde van landbou.

k

Dis merkwaardig as jy in ag neem dat Suid-Afrika se landbou uit al 54 lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling van die laagste vlakke van staatsondersteuning kry.

Dit is verder merkwaardig dat die prestasie bereik word met min navorsing en voorligting van die staat se kant af. Dit word deur bedrywe en insetverskaffers of verwerkers in samewerking met produsente gedoen.

Daar is wel toenemende verbetering in die samewerking tussen hawens en vervoer, asook kwaliteitsowerhede om te kan uitvoer, en die staat het ook begin om sy rol te vervul om die privaat sektor te help om toegang tot internasionale markte te kry.

Plaaslike landboukundigheid en -tegnologie hoofsaaklik in die privaat sektor wat ons suksesvolle mededingende uitvoerders van landbouprodukte maak, kan sonder vrees van veel teëspraak as van die beste in die wêreld geklassifiseer word!

Gedurende 2019 was sitrus die grootse uitvoerproduk (R20 miljard). Ander syfers was vir druiwe (R9,2 miljard), wyn (R8,7 miljard), appels en pere (R7,7 miljard) en neute (R6 miljard).

Hierby kom die uitvoer van al ons wol en sybokhaar, en mielies van sowat 2,8 miljoen ton die jaar.

Beesvleis en lewende skape is die jongste suksesvolle uitvoerprodukte terwyl bessies, avokado’s en vele meer baie vinnige groei toon.

Droogtejare het uitvoer geknou

Voorlopige syfers toon in die eerste ses maande van 2020 is bykans R80 miljard se landbouprodukte uitgevoer en die verwagting is dat die jaar se landbou-uitvoerprestasie in volume en verskeidenheid produkte (en in rand) ’n nuwe rekord gaan bereik.

Die les is: As die staat net die omgewing vir entrepreneurs wil skep waarin suksesvol opereer kan word, het Suid-Afrika se entrepreneurs die kundigheid en vermoë – baie beter as die staatsdiensamptenare – om ekonomiese groei en welvaart te skep!

  • Prof. Johan Willemse van Agrimark Consulting is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
k
Meer oor:  Johan Willemse  |  Landbou  |  Bbp2002  |  Staat  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Sakesiening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.