Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Schalk Burger sê danksy hul regspan bly wynplase oop

Die regering het danksy die wynplase se regsgeding besluit om hulle toe te laat om oor naweke wyn te verkoop, sê Schalk Burger van Welbedacht.

Schalk Burger, een van die wynboere wat hof toe is om wynverkope te probeer wettig tydens die strenger inperkingsvlakke.

Burger was deel van ’n paar wynplase en -roetes wat vanjaar ’n regsgeding teen die regering gebring het oor die verbod op drankverkope.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand in sy toespraak gesê ’n uitsondering is gemaak vir wynplase om oor naweke wyn vir wegneem te verkoop. Die regulasies wat ná sy toespraak gepubliseer is, verwys egter na Maandag tot Saterdag - dus mag wynplase nie op Sondae wyn verkoop nie.

Gewone drankwinkels mag net Maandae tot Donderdae van 10:00 tot 18:00 drank verkoop.

Ramaphosa het gesê dit is uit erkenning vir die noodsaaklike bydrae wat wynkelders en -plase tot toerisme maak.

“Danksy ons regspan, wat die staatsadvokate vandag van ons vorige regsgeding as private wynplase en wynroetes, en die belang van die wynbedryf vir toerisme bewus gemaak het, bly ons oop!” het Burger daarna op Twitter gesê.

Die wynbedryf kon eers van 12 November af weer volgens normale lisensie-ure wyn verkoop, wat beteken dat hulle oor naweke wyn kon verkoop.

Onder vlak 1 van die inperking was drankhandelaars, wat wynplase insluit, slegs toegelaat om drank vir wegneem van die perseel van Maandae tot Vrydae tussen 9:00 en 17:00 te verkoop.

Adv. Mias Schreuder SC het voorheen aan Landbou.com gesê wynplase verdien gemiddeld 10% tot 30% van hul wins deur wyn oor naweke en op openbare vakansiedae aan mense te verkoop.

Sy kliënte, onder wie Burger, Jean Engelbrecht van Rust en Vrede en Charles Back van Fairview asook vyf wynroeteverenigings, het vroeër in November ’n beroep gedoen op die regering om die verbod op naweekverkope te heroorweeg.

LEES OOK: Wynplase pleit: Laat ons toe om naweke wyn te verkoop

Burger, Engelbrecht, Back en die wynroetes was in Julie onder die applikante in ’n saak wat saam met die landbou-organisasie Saai teen die regering oor die wynverbod gebring is.

Die ingang van die wynplaas Welbedacht naby Wellington, wat deur Schalk Burger en sy seuns besit word.

Die saak is later sine die (sonder datum) uitgestel nadat die verbod op wynverkope opgehef is.

Burger het aan Netwerk24 gesê hul regspan het Maandag hard gewerk om weer die wynplase se siening oor die beperkings onder die staatsadvokate se aandag te bring. “Dit is ’n belangrike debat – dat ons apart van die alkohol-drukgroep gehanteer moet word en dat die staat ons nie oor dieselfde boeg moet gooi nie – wat ons gewen het. Daar is vir die eerste keer aan wynboere uitsluitsel gegee hieroor.”

Volgens hom het hulle oor die verkope oor naweke persoonlik ’n brief daaroor aan Ramaphosa gerig en onder meer die punt onder sy aandag gebring dat die wynverkope nie Covid-19 versprei nie en dit ’n belangrike rol in wyntoerisme speel.

“Ons het in die brief gesê ander alkoholverkope kan oor daardie dae verbied word, maar wyn moenie toegemaak word nie.”

Rico Basson, hoof van die wynbedryfsliggaam Vinpro, het die onveranderde handelsure vir die verkoop van alkohol op persele verwelkom, asook die spesiale toegewing aan geregistreerde kelders en wynplase om wynproeë en wynverkope oor naweke aan te bied.

Basson sê op sy beurt “die uitkomste is in lyn met deurlopende konsultasie tussen Vinpro en die onderskeie nasionale regeringsdepartement asook die Wes-Kaapse regering, spesifiek die premier Alan Winde en Ivan Meyer.”

Volgens hom stem dit ook ooreen met wat op 13 November in ’n voorlegging deur Vinpro aan dr. Zweli Mkhize, die minister van gesondheid, in ’n beraadslagingsessie in George gesê is. Daarin is die bedryf se noodsaaklike ekonomiese bydrae en die belangrike rol van toerisme in die wynbedryf en landbou in die breë benadruk.

Burger meen dit is hartseer dat Vinpro hom tydens die inperking by die alkoholdrukgroep geskaar het.

Meer oor:  Schalk Burger  |  Wynbedryf  |  Inperking  |  Drankverbod  |  Drankbedryf  |  Covid-19  |  Drankverkope  |  Drank  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.