Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
SEB eis 25% van dié plase in swart besit
Boere op plase met ’n omset van R10 miljoen tot R50 miljoen moet nou 25% in swart besig wees indien hulle met die staat wil sake doen.

Die nuwe kode vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) vir landbou draai die skroewe aan om minstens ’n kwart van elke boerdery in swart besit te plaas.

Die kode, wat Desember in die Staatskoerant afgekondig is en onmiddellik die SEB-kode van 2012 vervang, stel veral strenger vereistes vir kleiner kommersiële boerderye met ’n omset van tussen R10 miljoen en R50 miljoen per jaar.

Ingevolge die kode moet sogenaamde kwalifiserende kleinsakeondernemings (KKS) ook aan die prioriteitselemente van die kode voldoen.

Hoewel nakoming van die kodes vrywillig is, is dit ’n voorvereiste vir enige boerdery-onderneming wat sake met die regering doen.

Christo van der Rheede, uitvoerende adjunkhoof van Agri SA, sê die bykomende vereistes op KKS’e is “soos ’n bak yskoue water wat op die bedryf gestort word”.

Hy sê die kode plaas ekstra druk op ’n sektor wat nog probeer herstel van die uitwerking van droogtes en ’n pap ekonomie.

Alle landbou-ondernemings wat meer as 50% van hul omset in die hele landbouvoedselstelsel genereer, is onderhewig aan die
AgriSEB-kodes. Dit sluit boerderye maar ook landboukoöperasies, saadmaatskappye en voedselverwerkers in.

Agri SA het ’n beroep op die departement van handel en nywerheid gedoen om meer buigsaam te wees ten opsigte van die drie prioriteitselemente, naamlik:

  • Eienaarskap;
  • Die ontwikkeling van verskaffers; en
  • Vaardigheidsontwikkeling.

Groot ondernemings moet aan al die prioriteitselemente voldoen.

Die eienaarskap-element is ook nou ’n voorvereiste vir KKS’e terwyl net een van die twee ander elemente verpligtend is.

Om aan die eienaarskap-element te voldoen, verdien ’n onderneming eers punte as byvoorbeeld minstens 25% van sake in swart besit is, as 10% van die aandeelstemme deur swart vroue gehou word of swart plaaswerkers minstens 4% van die onderneming besit.

Die kode maak ook voorsiening vir sub-minimums waarvolgens ondernemings minstens 40% van die teikens moet behaal. Indien hulle nié die sub-minimum haal nie, verbeur hulle nie net punte in die betrokke kategorie nie, maar word gepenaliseer.

Agri SA meen maatskaplik-ekonomiese ontwikkeling moes as ’n vierde kriterium bygevoeg word omdat dit KKS’e in staat sou stel om enige drie van die vier kriteria te kies. Dié kriteria het nog punte vir boere verdien ingevolge die 2012-kode.

Watter boere word geraak?

Boerdery-ondernemings wat sake met die regering doen, moet let op hul SEB-nakoming. Daar is byvoorbeeld boere wat regstreeks produkte voorsien aan staatshospitale of weermagbasisse in hul omgewing en vir dié boere sal daar geen wegkomkans wees nie.

Dit maak sin dat ’n plaaseienaar met sy plaaswerkers in vennootskap gaan, maar dit kan net suksesvol wees op winsgewende plase.
Christo van der Rheede van Agri SA

Volgens dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, doen boere en landbou-ondernemings relatief min sake met die staat. “Dit gaan eerder oor die toekenning van lisensies soos waterlisensies of dranklisensies vir wynboere, die toekenning van in- en uitvoerpermitte en die toekenning van kontrakte (en ander hefboomkragte) wat deelname en implementering gaan afdwing.”

Hy sê al kan boerdery-ondernemings kies of hulle aan SEB gaan deelneem, loop dié wat nie voldoen nie die gevaar van marginalisering en besigheidsrisiko’s.

Van der Rheede sê van die sowat 36 000 kommersiële boere in die land val sowat 6 000 in die KKS-kategorie en sowat 3 000 is groot boere.

Agri SA meen ook die kodes neem nie die unieke aard van boerdery-ondernemings in ag nie. Baie plase in Suid-Afrika is familie-ondernemings.

“Dit maak sin dat ’n plaaseienaar met sy plaaswerkers in vennootskap gaan, maar dit kan net suksesvol wees op winsgewende plase.”

Geen verrassing

Purchase sê die gewysigde AgriSEB-kode is genoodsaak deur die wysigings aan die generiese Kodes vir Goeie Praktyk en is dus geen verrassing vir die ­bedryf nie. Daarby het al die hoofrolspelers in die landbouwaardeketting deelgeneem aan die omvattende onderhandelinge om die gewysigde AgriSEB-kode daar te stel, insluitend Agbiz en Agri SA.

Jahni de Villiers, hoof van arbeid by Agri SA, sê hulle voorsien dat markkragte druk op boerdery-ondernemings in die primêre landbousektor sal plaas om te voldoen aan die SEB-reëls.

Purchase sê nasionale kleinhandelaars soos Pick n Pay en Woolworths plaas reeds druk op die landbousektor en koop ál meer aan by swart boere om hul eie SEB-telkaarte te verbeter.

David North, groepdirekteur van strategie en korporatiewe sake by Pick n Pay, sê dié groep ondersteun breë SEB en werk hard om te verseker sy telkaart weerspieël dié verbintenis.

“As ’n kleinhandelaar hang ons telling deels af van hoe ons verskaffers met SEB vaar. Ons het ’n diverse verskaffersketting en het vanjaar goedere ter waarde van R50 miljard van groot en klein plaaslike verskaffers gekoop. Ons werk saam met hulle om te verseker hulle werk doeltreffend en almal trek voordeel daaruit.”

Van der Rheede sê boere dra reeds op ander maniere by tot SEB wat glad nie deur die kode erken word nie.

Die Agriseta-heffings beloop jaarliks R400 miljoen en boere betaal kommoditeitsheffings van R500 miljoen wat aan die Nasionale Landboubemarkingsraad oorbetaal word. “Instansies soos Graan SA en Wol SA benut die kommoditeitsheffing vir transformasiedoeleindes, maar die departement vra nie vir Graan SA vir SEB-telkaarte nie, hulle vra individuele boere.”

Richard Ryding, ’n SEB-kenner van Global Business Solutions in Oos-Londen, sê ondernemings wat voor 8 Desember hul SEB-verifiëring laat doen het, het ’n blaaskans omdat die verifiëring vir ’n jaar geldig is. Ondernemings wat ’n jaareinde van Desember gehad het, kon egter skielik besef het hulle het teruggesak op hul SEB-telkaarte.

Agbiz sal binnekort werksessies aanbied om rolspelers te help om die kodes beter te verstaan en in werking te stel

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.