Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Selfs boere se vertroue tuimel tot nuwe laagtepunte
Boere sukkel ten spyte daarvan dat hulle ’n noodsaaklike diens tydens die staat van inperking lewer. Foto: Argief

Die indeks vir sakevertroue vir die landbou het in die tweede kwartaal getuimel tot die laagste vlak sedert die finansiële krisis van 2009.

Die indeks het van die neutrale vlak van 50 in die eerste kwartaal geval tot 39 punte in die tweede kwartaal.

Dit is luidens die jongste verslag van Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) se indeks oor sakevertroue in die landbousektor wat saamgestel word uit data wat in Mei en Junie landwyd oor alle landboubedrywe ingesamel is.

Wandile Sihlobo, Agbiz se hoofekonoom, waarsku Maandag in ’n verklaring dat elkeen van die indeks se tien subindekse agteruit geboer het.

Dit is ten spyte daarvan dat die landbousektor bykans volledig in bedryf was tydens die staat van inperking, met net die wolbedryf en drankvervaardigers wat tydens vlak 5 en 4 ingeperk was.

Sihlobo verduidelik die invloed van die Covid-19-pandemie en gepaardgaande staat van inperking se uitwerking op die ekonomie is “ernstig”, en selfs die landbou nie die rampspoedige uitwerking kan vermy nie.

“In ’n neutedop, hoewel Suid-Afrika se landbousektor in 2020 ’n verbetering in produksie kan registreer in vergelyking met die vorige jaar, en ook ’n styging in uitvoerverdienste, kan die wolk van onsekerheid oor die pandemie steeds sentiment knou,” sê hy.

“Met verskeie ekonomieë wat weens die pandemie skerp inkrimpings voorspel, is die uitdaging waardeur Suid-Afrika se landbousektor waarskynlik in die gesig gestaar word, ’n moontlike daling in die vraag na goedere plaaslik en uit verskeie tradisionele uitvoermarkte, en dus laer landboukommoditeitspryse.

“Dit sal op sy beurt die finansies van boere en landboubesighede en moontlik ook hul sentiment verder knou.”

agbiz

Die afdelings van die indeks wat die meeste bygedra het tot die daling in vertroue is:

  • Omset: Hierdie subindeks het met ’n kolossale 35 punte getuimel tot slegs 29. Agbiz sê veral die feit dat restaurante gesluit bly, beteken dat onder meer veeboere ’n groot koper verloor het van hul produkte, wat hul omset erg knou.
  • Netto bedryfsinkomste: Dié subindeks het met ’n skerp 40 punte gedaal tot slegs 21. Sihlobo verduidelik weens laer omset is boere se inkomste beduidend laer en die vooruitsig bly swak.
  • Algemene landbou-omstandighede: Hierdie subindeks het met 25 punte gedaal tot 53. Die afdeling bly egter bo die neutrale 50-punt-vlak wat beteken dit is nie besig om agteruit te boer nie. Sihlobo skryf dit toe aan die feit dat die pandemie getref het toe die somer-oestyd reeds aan die gang was en van rekordgrootte is.
Meer oor:  Agbiz  |  Wandile Sihlobo  |  Boere  |  Sakevertroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.