Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sentiment onder boere steeds baie swak
Omnia
Vertroue in die landbousektor is steeds laag. Foto: Unsplash

Sakevertroue in die landbou het in die derde kwartaal minimaal verbeter. Dis egter steeds onder die neutrale vlak 50 punte, wat beteken dat landbou-ondernemings negatief bly oor saketoestande.

Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se indeks staan nou weer op 46 punte, dieselfde as in die eerste kwartaal, teenoor die 44 punte in die tweede kwartaal. Dít nadat die indeks einde 2018 tot 42 punte geval het, die laagste in byna tien jaar.

Die peiling is in Augustus en September onder die hele spektrum landbou-ondernemings gedoen.

Die indeks meet tien faktore en die meeste van hulle is laer as die langtermyngemiddelde van die indeks, wat sedert 2001 gemeet word.

Faktore wat in die derde kwartaal gedaal het sluit in omset, inkomste, kapitaalinvestering, ekonomiese groei en die koste van finansiering vir landbou-ondernemings. Laasgenoemde is ’n positiewe faktor.

Die vertroue oor omset het veral in die somergraan- en wolbedryf skerp gedaal, volgens Wandile Sihlobo, die ekonoom wat die indeks saamstel. Die wolbedryf is onder druk omdat China wolinvoer vanuit Suid-Afrika verbied het weens die uitbreking van bek-en-klouseer vroeër vanjaar.

Die daling van nege punte in die subindeks oor kapitaalinvestering kenmerk volgens Sihlobo nie die hele landboubedryf nie. Sekere landbou-ondernemings wat met wyn, lewende hawe en graan werk, voel meer positief oor kapitaalinvestering.

In die afgelope tyd word kommer oor verskepingshawens se infrastruktuur en oor bioveiligheid ook genoem as belangrike bronne van kommer wat investering en groei in die boerderybedryf kan beperk.
Wandile Sihlobo

“Die konsekwente punte wat ons aanhou hoor van leiers in landbousake is dat die gebrek aan helderheid oor grondhervorming en waterregte ’n bedreiging bly wat die potensiële uitbreiding van vaste investering kan kniehalter.

“In die afgelope tyd word kommer oor verskepingshawens se infrastruktuur en oor bioveiligheid ook genoem as belangrike bronne van kommer wat investering en groei in die boerderybedryf kan beperk.”

Landbou-ondernemings is ook baie negatief oor die vooruitsigte vir ekonomiese groei, met dié subindeks wat net 24 punte meet. Die landbou is in ’n resessie nadat dit in die eerste kwartaal 13,2% ingekrimp het en in die tweede kwartaal met 4,2%.

Sihlobo sê enige verbetering in vertroue is altyd ’n goeie ding, maar die indeks is nou al vyf kwartale lank om en by 50 punte. “Ons is bekommerd as die indeks lank op dié vlakke vassteek, kan dit investering in die sektor laat daal, hoewel dit nog nie die geval is nie.”

Baie van die faktore wat sakevertroue in die landbou laat daal het, het niks met beleid te doen nie, soos die droogte. “Maar daar is ook faktore binne beleidmakers se bereik, soos duidelikheid oor grondhervorming en waterregte, groter investering om biosekerheid en hawe-infrastruktuur te versterk. Dié sake moet voorkeur kry ten einde ’n verbetering in sentiment te bewerkstellig, waarna investering en landbou se ekonomiese fortuin sal verbeter.”

Meer oor:  Rentekoers  |  Ekonomie  |  Boerdery  |  Sakevertroue  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.