Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Siek hoenders ’n terugslag vir volstruisboere
Die volstruisbedryf is in 2011 lamgelê deur voëlgriep. Foto: Geo Jooste

Nog ’n terugslag het die volstruisbedryf getref ná die onlangse uitbraak van voëlgriep op plase in Mpumalanga deurdat dit tot ’n verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis na Europa gelei het.

Gaar volstruisvleis, of vleis wat met hitte behandel is, mag egter nog uitgevoer word.

Dié verbod volg skaars twee jaar nadat die vorige verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis na die lande in die Europese Unie (EU) opgehef is.

Die hoogs patogeniese H5N8-virus is op hoenderplase buite Villiers en Standerton aangetref, en vroeër die week op nóg twee kommersiële lêhen-plase in onderskeidelik Gauteng en Mpumalanga.

Die nuwe uitbraak en daaropvolgende verbod op rou uitvoere is iets wat die bedryf weer opnuut knou, glo rolspelers.

“ ’n Groot deel van die mark verkies vars vleis bo die gaar produk, en waar vars vleis beskikbaar is, beperk dit in ’n mate die gebruik van gaar vleis,” verduidelik Charl du Plessis, van Klein Karoo Internasionaal (KKI).

Die KKI is een van die grootste uitvoerders van rou en gaar volstruisvleis na die buiteland.

Volgens Du Plessis het KKI se verkope van gaar vleis die afgelope twee jaar sedert die uitvoer van vars vleis hervat is, met bykans twee derdes afgeneem.

“Die verbod op die uitvoer van vars vleis lê die ganse bedryf aan bande, want nou is ons opnuut afhanklik van die uitvoer van gaar vleis waarvoor die mark getaan het.”

Die verbod is opgelê ooreenkomstig die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) en die EU se reëls vir handel indien ’n hoogs patogeniese virus in ’n land geïsoleer word. Die verbod sal geld totdat die land weer vry van die virus verklaar kan word.

Onaangename herinneringe

Die uitbreek van die H5N8-virus herroep onaangename herinneringe van donker dae in 2011 toe voëlgriep in die Oudtshoorn-omgewing in die Klein-Karoo uitgebreek het.

Die lae patogeniese H5N2-virus is in April van daardie jaar op ’n plaas daar aangetref. Dié uitbraak het die bedryf vier jaar lank op sy knieë gehou omdat geen rou vleis uitgevoer kon word nie. In daardie stadium was rou volstruisvleis die stu­krag van die volstruisbedryf se fenomenale sukses.

Nou is ons opnuut afhanklik van die uitvoer van gaar vleis waarvoor die mark getaan het.
Charl du Plessis van KKI

In die proses is etlike duisende volstruise wat positief vir die H5N2-virus getoets het, summier van kant gemaak om verspreiding van die virus te voorkom.

Dié ramp het die KKI genoop om ’n alternatief vir die uitvoer van vars vleis te vind.

“Die inkrimping van die bedryf het gelei tot ’n oplewing in die vraag na volstruisleer en -vere, wat mettertyd die verlies aan inkomste uit vleis kon aanvul,” sê Du Plessis.

In dié tydperk is die proses vir hittebehandelde volstruisvleis vervolmaak en die bemarking van hierdie nuwe en alternatiewe produk het ook in alle erns begin. Die EU-mark is stelselmatig binnegedring.

Die verbod op die uitvoer van vars volstruisvleis uit Suid-Afrika is op 25 Augustus 2015 opgehef. Sedertdien is die uitvoer van rou vleis naas die uitvoer van hittebehandelde volstruisvleis, stadigaan uitgebrei.

(Volstruis)boer maak ’n plan

“Daar is ’n mate van “kannibalisering” van gaar vleisverbruik indien vars vleis ook beskikbaar is. Die KKI se verkope van gaar vleis het die afgelope twee jaar, sedert die uitvoer van vars vleis hervat is, met 60% afgeneem,” sê Du Plessis.

“Ons hoofdoelwit is dus om die verbruik van gaar vleis so spoedig moontlik te stimuleer tot op vlakke wat weer ’n lewensvatbare bydrae tot die waardeketting kan maak.”

Hy sê produk- en markontwikkeling speel ’n belangrike rol in die suksesvolle groei van die volstruisbedryf – dit sluit die verbruik van gaar vleis, vere en leer in.

Geen vars volstruisvleis mag uitgevoer word terwyl daar voëlgriep in Suid-Afrika is nie.

Danksy baie goeie produkontwikkeling wat die funksionele gebruik van volstruisvere bevorder, het die grootte van bestellings vir vere die afgelope paar jaar aansienlik toegeneem.

Biosekerheidsmaatreëls

Die H5N8-virus, net soos die H5N2-stam, word vermoedelik deur migrerende watervoëls versprei. Daar is dus geen manier om die verspreiding 100% suksesvol te bekamp nie.

Ná die uitbraak in 2011 is biosekerheidsmaatreëls dramaties verskerp. Dit word in die veeartsenykundige prosedurele kennisgewing VPN04 uiteengesit.

Dit het onder meer ingesluit dat alle volstruisplase eers moes herregistreer. As die plaas se biosekerheidsmaatreëls nie volledig ingestel is nie, word dit nie toegelaat nie.

Ten einde volstruise nou sover moontlik teen die virus te beskerm, moet die volgende maatreëls voortaan strenger as tevore op plase toegepas word:

  • Kontak tussen volstruise en watervoëls moet vermy of beperk word.
  • Volstruise se drinkwater moet met chloor behandel word omdat die virus lank in waterbronne kan oorleef.
  • Personeel wat met volstruise werk se oorpakke en skoene/stewels, álle toerusting en voertuie moet deeglik volgens die VPN04-voorskrifte ontsmet word. Nalatigheid help die virus versprei.
  • Behoorlike toegangsbeheer moet geld om te voorkom dat besoekers aan die plaas die virus inbring of versprei. Waar die virus voorkom, moet nagegaan word wie die plaas besoek het sodat die oorsprong van die virus nagespeur kan word.
  • Enige simptome van die virus moet onmiddellik by ’n private of staatsveearts of by die Suid-Afrikaanse Volstruissakekamer (SAVBK) aangemeld word. Boere moet die voedingsinname van die diere kontroleer, oplet na groen urine en heeltyd die algemene gesondheid van die volstruise nagaan.

Die lot van die volstruis

Volgens Piet Kleyn, uitvoerende bestuurder van die SAVBK, is daar nog nie ’n geval van die H5N8-virus onder volstruise aangemeld nie. “Omdat volstruisboerdery in die buitelug plaasvind, is daar ’n daadwerklike risiko dat volstruise besmet kan word. Produsente moet uiters versigtig wees ten einde die risiko te beperk.”

Skakel die Suid-Afrikaanse ­Volstruissakekamer by 044 272 3336 of stuur ’n ­e-pos na info@saobc.co.za.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Oudtshoorn  |  Klein-Karoo  |  Hoenders  |  Voëlgriep  |  H5n8
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.