Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Simonsvlei in sakeredding geplaas

Die bekende Simonsvlei-wynmaatskappy is in sakeredding geplaas.

Simonsvlei, een van Suid-Afrika se bekendste wynkelders, soek beleggers.

Netwerk24 het insae in ’n brief wat aan krediteure gestuur is waarin die sakereddingspraktisyn David Hotz hulle na die eerste vergadering van krediteure nooi. Dit vind op 8 November by die Simonsvlei-wynkelder plaas.

Die wynkelder is langs die N1 buite die Paarl geleë en is bekend vir die yslike bottel wat buite sy deure staan.

Francois de Manielle, voorsitter, het die sakeredding by navraag bevestig.

Die maatskappy was voorheen ’n produsentekelder en van die produsente wat wyn aan hom lewer, is nog aandeelhouers.

De Manielle skryf die sakeredding aan ’n kombinasie van faktore toe, insluitende die droogte wat die afgelope jare in die Wes-Kaap geheers het en die swakker oeste wat dit tot gevolg gehad het.

Volgens hom is geen poste in hierdie stadium in gedrang nie en gaan sake soos normaal voort.

“Ons is net besig om te kyk of ons dalk ’n belegger of twee kan kry wat belangstel.”

Simonsvlei se wyn kan ook steeds op winkelrakke gekry word.

Die maatskappy voer ook uit. De Manielle sê die afgelope tyd is daar wel minder uitgevoer en wyn in die plaaslike mark verkoop.

Die vergadering vind vir beide die krediteure van Simonsvlei International en sy filiaal Simonsvlei Bottelering plaas.

“Die doel daarvan is om die krediteure in te lig of die praktisyns glo daar is ’n redelike vooruitsig om die maatskappy te red, en om eise van die krediteure te ontvang,” lui die brief.

Die stand van die groep se skuld sal ook bespreek word.

Sakeredding is ’n manier om die rehabilitasie van ’n maatskappy wat onder finansiële druk is te bewerkstellig deur tydelike toesig oor die maatskappy te verskaf en ’n tydelike moratorium te plaas op die regte van eisers teen die maatskappy, lui die brief.

Dit maak ook voorsiening vir die ontwikkeling en implementering van ’n plan, indien dit goedgekeur word, om die maatskappy te herstruktureer om die waarskynlikheid dat hy op ’n solvente basis kan voortbestaan, te verhoog.

Meer oor:  Simonsvlei  |  Francois De Manielle  |  Paarl  |  Wynbedryf  |  Droogte  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.