Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Simonsvlei: Sakeredder hoop op ‘volhoubare uitkoms’
Simonsvlei International en sy volfiliaal Simonsvlei Bottelering is in sakeredding geplaas. Foto: iStock

Geen werksverliese word op die oomblik by Simonsvlei in die vooruitsig gestel nie, het die sakeredder David Hotz gesê.

Netwerk24 het Donderdag berig die 60 jaar oue Simonsvlei International en sy volfiliaal Simonsvlei Bottelering is in sakeredding geplaas.

Die aansoek daarvoor is op 16 Oktober gebring en die eerste vergadering met krediteure vind op 8 November plaas.

Sakeredding is ’n manier om die rehabilitasie van ’n maatskappy wat onder finansiële druk is te bewerkstellig deur tydelike toesig oor die maatskappy te verskaf en ’n tydelike verbod te plaas op die regte van skuldeisers teen die maatskappy.

Hotz het die besluit van die direksie van Simonsvlei oor die sakeredding as ’n moedige stap beskryf.

Hy sê die maatskappy is reeds deur verskeie beleggers genader wat in dié bedryf en verwante bedrywe betrokke is en wat belangstel om te belê.

Volgens hom hoop hulle die sakereddingsplan sal ’n “positiewe, volhoubare uitkoms” bring.

“Die sakereddingsprosesse waarby ek betrokke is, is oor die algemeen suksesvol. Ons kyk nie in hierdie stadium na ’n likwidasie nie. Hopelik gaan dit ’n kort proses wees.”

Volgens Hotz is die maatskappy nie tegnies insolvent nie en het hy wesenlike bates en voorraad.

“Ons wil nuwe lewe blaas in die handelsnaam en hom hervestig. Dit is ’n trotse handelsnaam en ’n groot verskaffer aan groot kleinhandelgroepe en ons is van voorneme om dit so te hou.”

Hy sê van Simonsvlei se belangrike kliënte steun die proses.

Hoewel daar nie nou werkverliese verwag word nie, kan ’n sakereddingsplan herstrukturering tot gevolg het wat tot afdankings kan lei.

Sowat 80 mense werk vir die maatskappy. Baie meer word egter in die oestyd werk gegee en die syfer sluit ook nie die werkers in wat deel is van die waardeketting van Simonsvlei wat ook geraak kan word nie.

Hotz sê daar is baie wynprodusente en kelders wat onder finansiële druk is en teen verliese bedryf word.

Francois de Manielle, voorsitter, het Donderdag aan Netwerk24 gesê ’n kombinasie van faktore het tot die probleme by Simonsvlei gelei, insluitende die droogte van die afgelope jare in die Wes-Kaap en die swakker oeste wat dit tot gevolg gehad het.

Ons wil nuwe lewe blaas in die handelsnaam en hom hervestig. Dit is ’n trotse handelsnaam en ’n groot verskaffer aan groot kleinhandelgroepe en ons is van voorneme om dit so te hou.

In die eedsverklaring wat met die aansoek om sakeredding gepaardgegaan het, sê die maatskappy hy is in finansiële nood en sukkel om sy skuldeisers betyds te betaal.

“Die invloed van die afgelope jare se swak ekonomiese toestande en die droogte is vererger deur swak bestuursbesluite wat tot wesenlike verliese gelei het.”

Die Simonsvlei-groep, wat as koöperasie ontstaan het, is reeds 60 jaar in bedryf.

Die grond waarop Simonsvlei geleë is en die geboue is in September op R114 miljoen gewaardeer.

Sy netto skuld het einde Julie sowat R27,7 miljoen beloop, luidens die eedsverklaring.

Meer oor:  Simonsvlei  |  Wynplaas  |  Wynboere  |  Sakeredding  |  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.