Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Sitrus-uitvoer: Helpende hand vir boere gegee

Transnet Port Terminals (TPT) se span by die Ngqura-houerhawe in die Oos-Kaap werk tans volstoom om 1 995 leë koelhouers van ’n skip af te laai sodat plaaslike sitrusboere hul sitrus kan uitvoer.

Die ‘MSC Altair’ het Sondag in die Ngqura-hawe in die Oos-Kaap vasgemeer om 1 995 leë koelhouers af te laai wat die sitrusuitvoerders broodnodig het. Die skip moet nou haastig afgelaai word sodat dit nie laat is vir sy afspraak in Wes-Afrika nie. Foto: TPT

Die skeepsredery MSC het die naweek gereël dat een van sy houerskepe, die MSC Altair, wat op koers was na Lomé in Wes-Afrika, eers by Ngqura ’n draai maak om die leë koelhouers af te laai.

Dit kom te midde van ’n internasionale krisis met vraghouers wat weens die ontwrigting van die Covid-19-pandemie oral op “verkeerde” plekke opgehoop het, met die gevolg dat die plaaslike sitrusbedryf bekommerd is dat daar nie genoeg koelhouers gaan wees vir die komende uitvoerseisoen nie.

Die MSC Altair het Sondag in Ngqura aangekom, en TPT het drie skip-tot-kaai-hyskrane, vyf rubberwiel-hyskrane en drie skofte om die skip binne 47 uur af te laai sodat dit nog betyds kan wees vir sy hawebesoeke in Wes-Afrika.

Die sitrusbedryf verwag een van sy grootste uitvoerseisoene wanneer dit in Mei begin. “Ons het verlede jaar 16% meer sitrusvolumes geskuif,” sê Siyabulela Mhlaluka, hoofbestuurder vir verkope en nuwe sake by TPT.

Hy waarsku egter dat ’n moontlike derde golf van die pandemie en die tekort aan koelhouers aansienlike druk op die sitrusuitvoerhawe kan plaas. Ngqura is kritiek vir die sitrusbedryf omdat hy twee groot sitrusgebiede – die Sondagsriviervallei by Kirkwood en Addo, asook die Gamtoosvallei by Patensie – moet bedien.

Kapt. Salvatore Sarno, voorsitter van MSC in Suid-Afrika, het in oorleg met MSC se hoofkantoor in Genève in Switserland ooreengekom dat die MSC Altair gevra kan word om af te wyk van sy normale koers om die koelhouers by Ngqura af te laai, het kapt. Ian Rosario, bedryfsdirekteur van MSC in Suid-Afrika, gesê.

Die koelhouers was eintlik op pad na ander plekke in die wêreld waar daar ook ’n vraag na koelhouers is, maar omdat die plaaslike vrugtebedryf so ’n belangrike deel van die ekonomie is en die vrugtebedryf bewus is van die ernstige tekort aan koelhouers, is besluit om in te gryp, het Rosario verduidelik.

Vir die hawens by Ngqura, Gqeberha en Durban begin die sitrusuitvoerseisoen gewoonlik in Mei en duur tot Oktober. Vir die Kaapse hawe wat die Citrusdal-sitrusgebied bedien, begin die seisoen in Oktober en eindig in Maart.

TPT hanteer jaarliks meer as 150 000 vraghouers met sitrus via dié vier hawens, sê Mhlaluka.

“Wanneer ’n hawe-operateur en ’n skeepsredery saamwerk en ’n manier skep dat hul kliënte internasionaal kan meeding, is Suid-Afrika die grootste wenner, en ons is daartoe verbind om al ons beskikbare hulpbronne te gee om seker te maak die skip word nie vertraag nie,” sê hy.

Meer oor:  Transnet Port Terminals  |  Msc  |  Oos-Kaap  |  Ngqura  |  Hawens  |  Skeepsbedryf  |  Landbou  |  Uitvoer  |  Sitrusboere  |  Vrugte  |  Sitrus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.