Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Skaam julle om dié Poolse koeie se melk te koop!’
Langlewemelk
Langlewemelk in ’n winkel Foto: Rudolph Burger/Landbouweekblad

Die langlewemelk-handelsmerk First Choice spog dat hul melk “plaasvars is . . . en kom van weiveldkoeie”, maar laat na om te sê dié koeie is in Pole en eet Europese gras.

Só sê Rudolph Burger (62), ’n Vrystaatse melkboer, wat met afgryse gereageer het toe hy in ’n groothandelwinkel in Bloemfontein opgelet het die land van oorsprong vir dié melk is Pole.

Burger het foto’s van die Poolse melk op Facebook gedeel en gevra: “Besef die Suid Afrikaners watter skade u aan plaaslike melkboere doen deur dié melk te koop? Skaam julle wat die SA-melkboer so lekker in die rug steek deur melk (moontlik nog gesubsidieer deur Europese moondhede) in te voer.

“U behoort u kop in skaamte laat sak vir die skade wat u aan melkbedryf doen en dit vir ’n paar sent terwyl SA-melkboere die melk aan u kan verskaf.”

Die plasing is duisende kere gedeel met reaksies van geskokte verbruikers wat nie besef het hul “plaasvars” melk het met ’n skip oor die see gekom nie.

Lex Gutsche, uitvoerende hoof van Woodlands Dairy wat First Choice-vervaardig, het aan Landbouwekblad gesê die Poolse melk is ingevoer om te verseker daar is in die winter genoeg melk op die rakke. Dit het nie verbruikers of melkboere nadelig geraak nie.

Rudolph Burger, ‘n ontstoke melkboer van Brandfort in die Vrystaat, het hom tot sosiale media gewend om sy ontevredenheid met die invoer van UHT melk. Foto: Facebook

Burger, wat op die plaas Harmonie naby Brandfort boer, sien egter die invoer van langlewe-melk as ’n oorlogsverklaring.

“Elkeen van hierdie ingevoerde produkte kom teen ’n laer prys die land in as wat plaaslike boere kan bekostig om melk op die rak te sit,” sê hy aan Rapport.

“Die laaste drie jaar was daar ’n opwaartse flikkering in die melkprys, maar ons is nou weer terug by drie jaar gelede se prys.

“Selfs die aankoop van lusern is amper onbekostigbaar duur op die oomblik.”

Bertus van Heerden, hoofekonoom van die Melkprodusente-organisasie, sê egter die invoerkwessie is effens meer kompleks. “Ons voer geen vars melk in nie; net UHT-melk (langlewemelk wat teen hoë temperature gesteriliseer is). Die res van ons suiwelinvoer bestaan uit produkte soos kaas en botter.”

Hy sê die ingevoerde UHT-melk maak ’n baie klein deel van verbruik uit en Suid-Afrikaanse melkboere voer ook produkte na ander lande uit. “In 2015 het ons 27,3 miljoen liter UHT-melk ingevoer (0,88% van verbruik), in 2016 was dit 18,8 miljoen liter (0,61%), in 2017 38,1 miljoen liter (1,21%), 2018 was 17,4 miljoen liter (0,52%) en in die eerste ses maande van 2019 was dit 8,6 miljoen liter (0,57%).” Hy sê die meeste ingevoerde UHT-melk kom van Pole en Uruguay af. Van Heerden sê plaaslike melkboere het wel baie uitdagings en redes om ongelukkig te wees. Teen Desember 2009 het die land 3 723 melkboere gehad en dit het nou afgeneem tot 1 228.

Dr. Koos Coetzee, ’n onafhanklike landbou-ekonoom, skryf in die nuutste uitgawe van Landbouweekblad ingevoerde langlewemelk is beslis nie die enigste sondaar nie. Hy sê een liter ingevoerde langlewemelk verplaas een liter plaaslik geproduseerde melk, maar een kilogram melkpoeier of kaas wat ingevoer word, verplaas tien liter plaaslike melk.

“Omdat die langlewemelk die oorsprong op die verpakking aandui, kan verwerkers nie die invoer verswyg nie.” Maar verskaffers wat ingevoerde poeiers en wei gebruik, hoef dit nie te verklaar nie en “ontkom dus die produsente se geregverdige kritiek”.

Hy sê Suid-Afrika was in 2018 ’n netto invoerder van melk en room, melkpoeier, weipoeier, botter en kaas en ’n netto uitvoerder van karringmelk en jogurt.

Meer oor:  Rudolph Burger  |  Pole  |  First Choice  |  Melk  |  Langlewemelk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.