
Danksy ernstige tekorte kan wynpryse vanjaar die hoogte inskiet.
Slegte nuus vir verbruikers is dat wynpryse dalk skerper kan styg weens die droogte in die Wes-Kaap wat met ’n wêreldwye wyntekort gepaard gaan.
Die wynoes gaan weens die droogte waarskynlik die kleinste in ’n dekade wees, het die wynbedryfsorganisasie VinPro Donderdag op sy jaarlikse inligtingsdag gesê.
“Die inkomste wat wynboere gaan kry, kan konserwatief geraam met sowat R700 miljoen krimp,” sê Rico Basson, uitvoerende hoof van VinPro. Die daling in inkomste hou verband met die minder druiwe wat boere gaan verkoop weens die droogte.
VinPro het op grond van die verkope verlede jaar – plaaslik en oorsee – beraam dat ’n tekort van sowat 90 miljoen liter kan ontstaan.
Kleinste voorraad in 15 jaar
Die wynbedryf in Suid-Afrika het tans die kleinste voorraad wyn in verhouding met verkope in 15 jaar en dit kan selfs langer wees, want hul data strek net so ver terug, sê hy.
Die vraag is watter mark gaan daal – die plaaslike mark of die uitvoermark en of dit grootmaat- of verpakte wyn gaan wees.
Rico Basson
“Dit beteken as ons nie ander maniere vind nie, sal ons aan die verkoopkant nie wyn kan verskaf soos in 2017 nie.
Die droogte en wyntekort wêreldwyd kom terwyl ’n groot dors na wyn plaaslik en internasionaal bestaan.”
Die vraag is waar die bedryf die beste pryse gaan kry – plaaslik of oorsee – sê hy.
“Die vraag is watter mark gaan daal – die plaaslike mark of die uitvoermark en of dit grootmaat- of verpakte wyn gaan wees.”
Die wynbedryf het dringend hoër pryse nodig omdat winsgewendheid steeds daal, aangesien pryse die afgelope jare nie baie gestyg het nie.
“ ’n Prysverhoging hier sal die wyn hier hou. Die vraag is wie gaan die hoogste bieër wees. As plaaslike pryse nie aanpas nie, gaan die plaaslike mark nie die wyn kry wat nodig is nie.”
As plaaslike pryse nie aanpas nie, gaan die plaaslike mark nie die wyn kry wat nodig is nie.
Rico Basson
Wyn kan wel ingevoer word, maar dit gaan duur wees. “Goeie wyn gaan skaarser en effens duurder word,” sê hy.
Francois Viljoen, ’n konsultasiediensbestuurder by VinPro, sê dit is een van die moeilikste seisoene wat hy nog in sy beroepslewe beleef het.
“Dit voortslepende droogte is ongekend vir enigiemand in die wynbedryf. Niemand in die bedryf kan op grond van ervaring raad gee oor hoe dit bestuur moet word nie. Selfs al vind jy ’n 80-jarige in ’n ouetehuis wat dit al ervaar het, het die bedryf soveel verander dat dit nie vandag van toepassing is nie.”
Die wynbedryf het ook laas jaar weens hael en ryp skade gely.
“Die oes is wesenlik kleiner en dalk die kleinste in ’n dekade en kan nou weekliks kleiner raak.”
“Dit gaan ’n uitwerking op die hele waardeketting van die wynbedryf hê en dit gaan ’n invloed op verbruikers hê.”