Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Só gaan prys van hoender styg – nie oor voëlgriep

Die prys van hoender gaan binnekort met tot R2 per kilogram styg.

Jy kan binnekort tot R2 per kilogram meer vir ’n heel hoender betaal. Foto: Unsplash

Dit is nie goeie nuus vir gesinne nie, gegewe dat hoender nog die goedkoopste vleis en ’n stapelvoedsel in die meeste huise is.

Astral Foods het Maandag in sy halfjaarresultate vir die tydperk tot einde Maart gesê die insetkoste van grondstowwe en voer is baie hoog en die groep kan nie langer bekostig om verbruikers te subsidieer nie.

“Ons het reeds meer as 12 maande die hoë voerkoste geabsorbeer, maar dis net nie meer moontlik nie,” sê Chris Schutte, Astral se uitvoerende hoof.

Astral se voerkoste vir slaghoenders het die afgelope jaar met 17% gestyg.

Die groep, wat onder meer County Fair besit, bestee nou 69% van die totale koste om een slaghoender groot te kry aan voer.

Schutte het aan Netwerk24 bevestig verbruikers kan “spoedig” tussen R1,50 en R2 per kilogram meer betaal vir alle hoenderprodukte.

Daar is baie uitdagings in die pluimveebedryf, sê hy.

Nie net is hoë voerkoste kommerwekkend nie, die volumes van ingevoerde gevriesde hoenderporsies en die uitbreek van voëlgriep in April kan dinge op kort termyn moeilik maak. Dit sal die bedryf én verbruikers onder druk plaas.

Die bedryfswins van Astral se pluimveeafdeling het klaar met 78,6% tot R61 miljoen gedaal. Die afdeling se bedryswinsmarge het tot 1% gesak teenoor die 5,1% wat dit was.

Schutte sê ten spyte van die stygings in koste is daar geen planne vir afleggings nie.

Dividend verklaar

Die groep se balansstaat lyk gesond met ’n surplus kontant van R386 miljoen op 31 Maart en ’n tussentydse dividend van 300c is verklaar.

Daar is nie ’n tussentydse dividend in die 2020-boekjaar betaal nie.

Impak van mieliepryse

Die hoër voerkoste word toegeskryf aan die huidige hoë plaaslike mieliepryse, wat laas in 2016 so hoog was.

Die prys van geelmielies is amper R3 400 per ton, terwyl dit vir dieselfde tydperk verlede jaar maar R2 700 per ton was.

Internasionale gebeure dra by tot die hoë pryse, soos kommer oor weerstoestande in Suid-Amerika en die VSA, en China wat steeds ’n hoë aanvraag na mielies het.

Storting van oorsese produkte

Die hoeveelheid pluimveeprodukte wat ingevoer word, plaas baie druk op Astral. Die groep ding mee met amper 40 000 ton ingevoerde hoenderprodukte per maand vanaf lande soos Brasilië.

Vir die afgelope oorsigtydperk is daar maandeliks gemiddeld 39 705 ton gevriesde hoenderporsies ingevoer, wat omtrent 26% van die plaaslike verbruik verteenwoordig.

Hoewel die persentasie laer is as die 30% voordat die regering in Maart 2020 ingestem het tot invoertariewe, is dit volgens Astral nog te vroeg om te sê of die tariewe waarlik onbillike handel en storting ontmoedig.

k

Voëlgriep

Voëlgriep bly ’n baie groot en ware uitdaging vir die bedryf. Dit kan ook toekomstige impak op pryse hê. Die H5N1-variant het vroeg in April in die land uitgebreek en meer as tien kommersiële plase is al daardeur geraak.

Slaghoenders verkoop fluks

Daar is meer slaghoenders oor die afgelope ses maande deur Astral verkoop as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

’n Styging van 3,5% in die volume hoender is gesien. Dit is 7 772 ton meer wat verkoop is. ’n Ekstra 200 000 voëls kon per week verwerk word danksy die groep se uitbreidingsprojek by Olifantsfontein.

Astral se inkomste vir die ses maande tot einde Maart het ook gestyg, met 6,7% tot R7,5 miljard, grootliks danksy die 7,5%-styging in die randwaarde van die verkope van slaghoenders.

Tog, ten spyte die groei in inkomste, het die groep se bedryfswins tot R345 miljoen gedaal.

Voer-afdeling vaar goed

Astral se voerafdeling se inkomste het ’n 12,9%-styging getoon tot R4 miljard. Die bedryfswins het met 9% gestyg tot R254 miljoen, maar die bedryfswinsgrens het effens gedaal, vanaf 6,9% tot 6,7%.

Die verkoopsvolumes het met 8,9% gedaal. Interne verkope het wel met 1,6% gestyg omdat meer slaghoenders gebroei is.

Meer oor:  Astral  |  Chris Schutte  |  Hoenders  |  Kospryse  |  H5n1  |  Voëlgriep  |  Sapa  |  Kosprysinflasie  |  Hoenderbedryf  |  Landbou  |  Eiers  |  Pluimvee  |  H5n8  |  Pluimveebedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.