Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Só lyk Douglas Green, Tall Horse se nuwe eienaars

Die eienaar van wynhandelsname soos Douglas Green, Bellingham en Tall Horse het sy nuwe aandeelhouers bekendgestel, wat Tim Hutchinson, sy jarelange uitvoerende hoof, insluit.

Die genoteerde beleggingsgroep Brait het vroeër die jaar ná 20 jaar sy meerderheidsbelang in DGB vir ’n onbekende bedrag verkoop.

DGB sê in ’n verklaring die belang is deur die plaaslike private ekwiteitsgroep Capitalworks en Hutchinson gekoop.

Wat verkoop DGB?

DGB is die eienaar en vervaardiger van die wynhandelsname van Boschendal, Brampton, Franschhoek Cellars, Bellingham, Douglas Green, Tall Horse en The Old Road Wine Co.

Die groep besit ook die handelsnaamlisensie vir Strawberry Lips Cream, Zappa Sambuca, PO 10 C, Tang Sour Apple, Tant Sannie se Melktert Cream Liquer en Butlers-likeur.

Deur middel van die groep se uitgebreide logistieke netwerk en vervoerinfrastruktuur in Suid-Afrika versprei en verkoop DGB ook ikoniese internasionale produkte soos Jägermeister, Bacardi, Patron, Grey Goose, Bombay Sapphire, Bavaria, Fever Tree, San Pellegrino en Acqua Panna, sowel as voorste wyne soos Kanonkop, Graham Beck, Steenberg en Vergelegen.


Die transaksie volg op ’n proses wat Brait verlede jaar begin het om van sy bates te verkoop.

DGB het terselfdertyd aangekondig Hutchinson gee die leisels as uitvoerende hoof oor aan Ricardo Ferreira, voorheen Suid-Afrikaanse hoof van DGB.

Hutchinson, wat die afgelope 30 jaar gehelp het om DGB as een van die land se voorste drankgroepe te posisioneer, is as uitvoerende voorsitter aangestel.

Die bestuur van DGB en Brait het in 1999 ’n meerderheidsbelang van sowat 80% van die sake- en wynmagnaat wyle Graham Beck gekoop.

Sedert Hutchinson in 1990 as uitvoerende hoof van DGB aangestel is, het hy die groep deur ’n ongekende groeitydperk gelei, luidens die verklaring.

Dit het ingesluit die uitbreiding van DGB se wynsake na 70 lande, met tien kantore van DGB wat in die buiteland opgerig is.

In die tydperk is ’n groot aanleg in Wellington gebou vir die vervaardiging, stoor en bottelering van drank, terwyl die wynplaas Boschendal in 2005 gekoop is, Franschhoek Cellars in 2009 en die handelsnaam Brampton in 2012.

Hutchinson sê Capitalworks is die ideale vennoot vir DGB “danksy sy energieke aard om beleggingsgeleenthede en waarde te ontsluit”.

Hy sê Capitalworks verstaan hoe DGB se sake werk omdat Chad Smart, die stigter van die onderneming, agt jaar in die direksie van die wyngroep gedien het.

“Ons ken Capitalworks reeds lank en hulle weet hoe die plaaslike en internasionale drankbedryf werk.”

Hutchinson is hoopvol op sterk groei vorentoe met die nuwe belegger.

’n Nuwe era breek aan by DGB nadat ’n nuwe aandeelhouer bekendgestel is en Tim Hutchinson, 30 jaar lank uitvoerende hoof, die leisels oorgee aan Ricardo Ferreira. Foto: Verskaf

Hy sê Ferreira is ideaal om oor te neem om die maatskappy die toekoms in te neem en veral die skade van die Covid 19-pandemie af te skud.

“Ricardo is ’n logiese opvolger vir my omdat hy ons Suid-Afrikaanse belange baie suksesvol bestuur het sedert hy hom in 2014 by die groep aangesluit het nadat hy by die SAB weg is,” sê Hutchinson.

As aandeelhouer en voorsitter sal Hutchinson ’n ondersteunende bestuursrol vervul om die handelsname en sakeverhoudings uit te bou.

Garth Willis van Capitalworks sê sy groep spits hom daarop toe om sakevennootskappe met uitsonderlike bestuurspanne te skep wat buitengewone groei kan bewerkstellig.

Hy sê Hutcinson, Ferreira en die DGB-bestuurspan het oor die jare heen die portefeulje van handelsname uitgebou en gewys hulle het die vermoë om die onderneming deur die onlangse uitdagings te bedryf.

Die energie wat die nuwe aandeelhouer na DGB bring, kom op ’n belangrike tyd waarin die drankbedryf aan die verander is.

“Die drankbedryf is ’n ernstige knou tydens die staat van inperking toegedien, en DGB was beslis nie ’n uitsondering nie.

“Ons het ondanks die toestande voortgegaan met die transaksie, want ons belê op lang termyn.”

Hy sê die groot potensiaal lê in die premium handelsname van DGB plaaslik en internasionaal.

“Een van die sterkpunte van ons onderneming is dat meer as 60% van ons wynverkope in die buiteland plaasvind, waarheen ons kon aanhou uitvoer tydens die inperking toe die verbod op plaaslike verkope geheers het.”

Meer oor:  Brait  |  Wynbedryf  |  Wynplaas  |  Wynboere  |  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.